“Ma, ek het ‘n hond gekry. ‘n Labrador-Pitbull kruising. Sy naam is Koda, dit beteken vriend in sommige tale.”

“Ma, Koda is te besig vir die woonstel – hy vreet alles op. Ek het hom by die gehoorsaamheid skool gehad, hy is baie slim. Kan hy maar by julle kom bly?”

So kom bly ‘n woelige reus by ons. Gitswart en besig. Besiger as Patricia wat my Bybel opgevreet het, tafelpote gekou het en rondgeloop het. Baie besiger as Pippie die hoendervanger. Albei op die ou end deur kwaadmense geskiet.

Hy is pas ‘n jaar oud en weeg meer as dertig kilogram. Hy het die tafelpoot verder gekou, die stoeptafel ook bygekom.

Ek koop toutrek speelgoed – hy haal dié uitmekaar, hy het my kelim ‘n hoek uitgevreet. Ons raas, ons speel, en lyk soos self-skenders in die proses.  Hy teister sy bejaarde maats. Dit gaan knor-knor. Rots raak moedeloos. “Sy naam moes Koudaar gewees het”, brom hy

Hy klim op my skoot, wis nie hy is groot nie – ‘n baba in ‘n reus se lyf.  Lê op die ottoman  asof botter nie in daai bek kan smelt nie. Kom vra om op die bed te kan uiltjieknip. Kerm soggens wanneer ons koffie drink om by ons te kom lê. Leer saam met ou Rufus vir beskuit vra.

Kyk vir jou met sy  bruin oë. Toor met ons.

“Hy is baie stout.”

“Hy is onopvoedbaar.”

Nee, en nee!

Want sien sy naam beteken eintlik: Mamma se jongste witbroodjie!

Bab het die regte naam gekies, met die verkeerde betekenis.

M   last born mothers pet …   (Africa)
Male
Friend to everyone     (Sioux)
Een van die dae is hy twee, dan gaan die dinge van ‘n baba verby, ek kan altyd ‘n ander mat kry, of nie. Maar vir Koda – ons het net hierdie een beurt. So my Koda moet nou maar raas, raas klaar kou en woel, want een van die dae is hy my groot witbroodjie brak!