Ek volg Good Things Guy op Vuisboek. Hy soek, en kry dikwels goeie nuus, positiewe dinge in en om ons land.
Hy plaas oor die naweek ‘n stuk oor Mmusi Maimane wat by ‘n konferensie van Planetshakers, ‘n diens gelei het. Ja, voor hy opposisieleier in Suid-Afrika geword het was hy ‘n prediker en is nog betrokke by die Liberty Church.
Planetshakers is ‘n internasionale beweging wat twintig jaar gelede gebore is uit pastoor Russell Evans van Melbourne, Australië se persoonlike ontmoeting met God. Die kern van die byeenkomste is om ‘n omgewing te skep waar ander ook God kan ontmoet deur aanbidding en passievolle prediking van God se Woord. Hulle glo dat elke mens geroepe is om in hulle omgewing uit te moet reik om God se koninkryk uit te bou. Daaruit word drome en ondernemingsgees gebore wat ‘n impak op die wêreld het. Hulle slagspreuk is:”Empower generations, to win generations.”
Mmusi Aloysias Maimane het ‘n inspirerende, besielde preek gelewer. Elke Suid-Afrikaner moet die boodskap hoor en ter harte neem.
As jy nie lus is nie om te kyk nie:
Lees oor Jesus se eerste wonderwerk, toe hy en sy volgelinge saam met Sy moeder, Maria, ‘n bruilofsfees bygewoon het. Die wyn het opgeraak. Die gasheer fluister sy kommer aan Maria. Maria gaan heen en gee die kelners opdrag,:”Wat ook al Jesus vir julle sê om te doen, doen dit!”
Nie lank nie, of Jesus gee hulle opdrag om ses water vate van klip vol water te maak.
Joh 2:8 – 10 ABA: “Toe sê Jesus vir hulle: “Skep nou van die water en gee dit vir die hoof-kelner!” Hulle het die water vir die hoof-kelner gegee. Die hoof-kelner het geproe dat die water wyn geword het. Hy het nie geweet van waar die wyn kom nie, maar die kelners wat die water geskep het, het geweet. Die hoof-kelner het die bruidegom geroep en vir hom gesê: “’n Mens moet eers die goeie wyn vir jou gaste gee. Later, wanneer die mense baie gedrink het, gee ‘n mens die wyn wat nie so goed is nie. Maar jy het die beste wyn gebêre tot nou toe!”
Mmusi Maimane het die teks voorgehou. Hy en ‘n rooi emmer op die reuse verhoog.
In kort het hy vertel dat ons soos vrolike gaste kan wees, en vir ‘n paar dae praat oor die lekker troue met die goeie wyn op die einde, en dan na ‘n rukkie doodgewoon met ons lewens aangaan, asof niks gebeur het nie.
Of ons kan maak soos die kelners, en gehoorsaam, “wat Jesus vra, doen.”
“Wees emmerdraers, en op die ou einde deel aan wonderwerke! Net een woord van Jesus, en hulle gehoorsaam. Voor dit was daar geen wonderwerke nie.”
Maimane vra die vraag: “Wat dra jy?”
Haat, bitterheid, swaarkry en negatiewe dinge is ‘n emmer met dooie gewig. Dit bring niks goeds mee nie. Sal jou net afsleep na nog swaarkry en seer.
Ons moet lewegewers word. Ons moet met oortuiging na God to gaan met ons emmer vol hoop en planne vir ‘n beter wêreld – in jou omgewing vir beter skole, strate, huise.
Jesus het die water in die vate in nuwe wyn verander, omdat mense geluister het wat Hy vra.
Kom met jou emmer vol hoop, luister wat God jou vra, en doen wat Hy sê!
As jy self wil hoor, luister en raak besield:
http://www.daystar.com/ondemand/legacy-video/?video=5395539744001
Volg die Good Things Guy op Facebook vir inspirasie en goeie nuus: https://www.facebook.com/goodthingsguy/