Dis sewe dae na ons ervaring. Ek kom nou eers tot verhaal om te vertel.

Ons reis nooit langnaweke nie. Al vir jare. Ons het egter op 1 Mei 2023 om 03:00 begin reis na Potch vir ons Ernatjie se gedenkdiens. Ons familie en onsself ter wille. Die heenreis was rustig en seer stil. Goed gereis en ons afskeid geneem en seer weersiens met geliefdes gedeel. Om 11:30 begin ons terug reis. Alles verloop billik op die vakansiedag snelweë tot ons net voor 16:00 die Petroport noord van Pretoria verby.

Skielik is dit ‘n suidelike neus-aan-stert motor slang wat by ons verby sleep. Ons besef nie wat vir ons voorlê nie. By die eerste tolhek gaan dit darem nie te stadig met die deurbeweeg noorde toe nie. Ons het innige simpatie met diegene wat suid reis.

‘n Uur later kom ons by die Kranskop tolhek aan. Die taxi’s en busse wat op die grond links van ons verby jaag om voor by die tolhek in die ry te druk moes ons waarsku dat die ergste voorlê. Argeloos roekelooshied. Ons is reeds moeg en seer, nou moet ons angstigheid ook hanteer.

Ons is skaars deur die tolhek toe ons besef daar is net die noodbaan oop vir ons reisigers na die noorde. Alle ander bane is aankomende suidelike verkeer. Kyk die video en verskoon my histeriese kommentaar. Die angswekkende as-net-een-ou-in-die-aankomende-stroom-iets-verkeerd-doen-is-klomp-van-ons-in-groot-gevaar-oomblikke sal ek nie sommer vergeet nie. Rots speel naderhand solitaire op sy fountjie, wil nie op kyk nie. Bab se kneukels wit op die stuurwiel.

Ons hoor sirenes en sien stof. ‘n Ongeluk, wonder ons en ons moed sak in ons skoene. Hoe lank sal die oponthoud wees ons is reeds 15 ure aan die gang waarvan meeste op die pad is. Ons kruie nader en skielik breek die bane langs die noodbaan waar ons noodgedwonge in moet ry, oop. Patrollie motors het laandiewe summier op ‘n punt gestop en begin kaartjies skrywe vir almal aan ons kant van die geel streep. Paaltjies elke 50m het nie eens die wettelose kapery van rybane gekeer nie!

Kyk hoe het manne terug na hulle kant van die snelweg terug geskarrel. My tone het lekker gekrul dat geregtigheid en orde darem geskied het. Ek het my verbeel dat die suidelike slang die hele Limpopo ontdaan aan mense gaan laat. IS dit hoe dit sal lyk as mense vir zombies of oordeelsdag vlug? Soos in die ramp flieks van die Yanks.

Toe dit sterk skemer is kom ons verskeie voertuie wat wraggies sonder ligte die nag in foeter. Die toppunt egter is by ons laaste tolhek naby Mokopane. Die e-tag outomatiese hek lê so ‘n verleidelike oop baan langs ons oop. Net mense met die elektroniese gerief kan daar deur. Man, was ons lus om sommer deur te jaag. Maar nou ja, pliggies en wetsgehoorsaam het die idee gou laat vervliet.

Ons het net na 19:33 by die Heksiehuis gestop. Murgmoeg en verlig.

Ek stoom egter oor die roekeloosheid en argeloosheid en wetteloosheid wat ons aanskou het. Sies man dink ek. Is die vreeslike selfsug en ekkerigheid simptoom van wat ons in hierdie land geleer word deur leiers wat ons voorbeeld moet wees? Is die vergryp en gierigheid en eie-belang die nuwe pes? Ek bly bitterlik ontstemd. Die slagting op die paaie nou nie meer verstommend nie.

Die ander ding wat so dwarserig in die krop steek is die baie karre, en nogal luukses daarby. Dit lyk vir my of die brandstof en lewenskoste ten spyt maar voor die wind met klomp mense gaan.

Ek besef ook die ironie. Arme Gauteng. Die hele Limpopo se kinders werk daar en gaan naweke noord, huis toe. Die Gauteng rande word oral in Limpopo aan luukse familie huise in dorpe en op die platteland opgerig. Kry vir julle lag ek in my mou. Dis seker die dat ons darem ‘n bestaan kan maak in die Limpopo provinsie. Gauteng-geld wat hier uitgegee word.

Ek is steeds vol skrik na die vakansiedag verkeer ervaring. Nou eers is ek oortuig dat ons-bly -van-die- langnaweek -paaie af is die blywende beleid. Reis op eie risiko is nie vir my nie. Aspris op soek na moeilikheid wil ek nie wees nie, tensy mede-motoriste skielik tot wetsgehoorsaamheid en naasteliefde bekeer word. Daai sal darem ‘n wonderwerk wees.