Oor jare het ou kombuisware uit oumas se huise so met ‘n draai hulle staan in ons huishouding kom kry. Erde skottels waarin ek vandag lekker bak en brou. Melkbekers, ou karrings, ‘n werkende skaal, oupa se ‘billy can’ melkkanne en so aan.

Die afgelope naweek is ons eerste kom-ons-ploeter-in-en-om-die-huis naweek. Geen verpligte doenwerk nie, net sommer werkies. Ons skuif resepteboeke, en hang die oumas se klitsers en kombuisgoed mooi aan ‘n rak. Die ou meelsiwwe en rasper en die kosbare koeksister snyer nog in sy oorspronklike kartondosie kry ‘n mooi staanplek. In ‘n houer met kombuisgoete, kry Ouma Stompie se yster wafelvormpies ook hulle staan. As ek by die stoof kos berei, kan ek hulle sien.

Ek onthou kleintyd se bederf as Ouma poffertjiedeeg aanmaak en ‘n pot olie op die koolstoof aan die borrel kry. Dan met geoefende hand die vormpies in die warm olie verhit en in die deeg doop en dan woerts terug in die olie en sekondes later skud sy die fynste wafeltjies van die vormpie af. Ons het stroop oor die klein lekkertes gegooi en Ouma kon nie bybly om te bak nie. Ons het soos wurms in mopanies gewei. Kieste vol soet lekkerte.

Ek het oral gesoek wat die lekkerte genoem sou word. In Susann Naudé se dikke kookboek kry ek op bl. 777 ‘n verwysing na ystervormpies en dat hoewel sy aandui dat poffertjiedeeg vir die maak van gevormde lekkernye gebruik moet word, sy verwys na Britse ‘turnover‘- vorms, wat iets heeltemal anders is.

Ek besluit om ‘n foto te neem en ons vriend Google te vra om na die vormpies te soek. Viola! Die vormpies word in Meksiko gebruik. Hulle lekkerny se naam is buñuelos. Hulle strooi kaneelsuiker oor hulle lekkerny. Die mense van Colombia en Nicaragua geniet dit soos ons by Ouma Stomp geleer het met heuning of stroop. Hulle maak ook die poffertjie mengsel met gerasperde kaas in. Nou wonder ek hoe die Meksikaanse lekkerny se vormpies by Ouma Stomp uitgekom het. Ken julle dit?

Ek lees en lees en kyk Ouma Stompie se kleine vormpies so, en besluit ek gaan met my hotklou die proses aanpak. Ek maak die deeg aan en laat dit deur ‘n sif loop om alle klontjies uit te kry. Presies soos die buñuelos resep sê. Olie verhit en daar gaat ek.

Dis ‘n leerkurwe om die vormpie te verhit, olie af te skud, die vormpie net diep genoeg in die beslag te druk en dan dit in die warm olie te dompel en dan die lekkerte om die gebakte wafeltjie van die vorm te skud en met kaneelsuiker te strooi. Dis maar soos Gary Player vertel: hoe meer mens oefen, hoe gelukkiger is jy.

Kom ek bely. Ek was oukei met die diamant vormpie, die ou blommetjie was ‘n blixempie wat net nie met my hotklou wou saamwerk nie.

Rots en Bab en Tanna kom stap met watermonde nader. Ek lag. My ma-hulle en Ouma Stomp staan oopbek in die hemel hierdie en aankyk. Die familie se onhandige, gedurig liewer uit die kombuis gejaagde nasaat, wat so op ‘n Sondag Ouma Stomp se liefhê in die Heksiehuis laat oorloop. Vreugde en seën om al die oumas se goete as deel van my kombuis te hê.