Ek het al baie geween en gekerm oor ons wegtrek op Waterval, snikkend na die laaste fladder van ‘n gordyn gekyk. Baie Iers dié fladderende gordyn en oop venster. Dis ‘n gebruik in Ierland om in die sterwens kamer ‘n venster oop te los sodat die siel van die afgestorwene vry sy of haar pad kan gaan. Elders heen.

My besef en les: Daar is nooit finaliteit nie. Daar is geboorte, ontwikkeling, afwenteling, afsterwe en hergeboorte. Dis ‘n natuurlike siklus wat behoort aan alle materie. Die sterre, mikro-organismes, mense, ons lewensiklusse. ‘n Saadjie kom uit die grond op, groei tot wasdom, blom en metterwyl taan die blom en sal afsterwe om nuwe saadjies beskikbaar te stel en so gaan dit aan.

My gunsteling kop skoon blaas skrywer, Clarissa Pinkola Estés sê ons moet ons vrees vir die Dood aflê om al die seisoene en siklusse van ons lewe in volkomenheid kan beleef instede om skreeuend pad af vlugtende te jakkalsdraf agter illusies aan. Die wêreld leer ons van waarhede wegvlug, veral die feitlikheid van doodgaan.

My les: Waterval mag gesterwe het, maar my seisoen in die heksiehuis bring ‘n nuwe siklus. Nuwe ver kyk, nuwe uitkyk. Dis tyd om ou dinge af te lê en die nuwe era te omarm en te verwelkom soos ‘n nuwe babatjie, met sorg en omgee, empatie en baie liefde. Is dit die laaste plek waar ek gaan woon voor my tyd op die ondermaanse verby is? Ek weet nie. Wat ek wel weet is dat ek die opbloei en groei wat nou aan die gebeur is volkome gaan geniet. Ek gaan vir my vriendin Doodsgebeente nooi vir tee en haar deel van alles maak, want sy het my nog nooit verlaat nie, ook nie versaak nie. Ons het al baie begrafnisse van my vorige weergawes bygewoon, meestal mekaar net so kopknikkie van erkenning gegee. Dis tyd dat die vriendskap verdiep, want daar lê wysheid en berusting in aanvaarding dat alles ‘n begin, middel, einde en herlewing het.

So kom fladder my gordyne aan die vensters van die heksiehuis net noord van Polokwane. Ons is so ingetrek dat ons kan slaap, kook en smook en ons honde hou vreeslik van die oop stuk tuin met voertuie wat nou en dan agter die heining hulle terg. Dis lieflik stil en smorens kom sit ‘n mikstertbyvanger (fork-tailed Drongo) op die bure se wifi-mas wat by ons motorafdak en naby my kamervenster die hoogste plek is. Hy wag getrou die opkomende son in, en is my nuwe wekker. ‘n Hoep-hoep is tuis by die watertenk en tante roep my nou die oggend, toe sirkel ren swaeltjies oor die nuut-gesnyde grasperk agter muggies wat gesteurd oral warrel. Iewers hoor ek in die na-nag uile en die hartseer roep van die Afrikaanse naguil, “dear God deliver us.”

Hier is baie werk in en om die huis. Die grap onder ons lang groot mense wat nou die huis bewoon is die stortkamer se toilet. Flip, hier moes hobbits gewoon het voor ons. Die toilet sitplek is skaars 30cm hoog. As jy gaan sit, skiet jou knieknoppe by jou ore verby. Ons het ‘n kamp-kommode tydelik oor die laagsit installeer vir noodgevalle. Julle weet seker wat op die eerste inkopielys is. Moenie kommer nie, daar is ander gemaksitte in die woning.

Ek gaan een van die dae spog met ‘n beter, slanker gevormde agterstewe en kuite. Die huis het interessante hoeke en draaie. Ek loop ‘n volle U deur die kombuis gang af en weer om, om die studeerkamer te bereik, dan is daar ‘n diep trap en nog drie vlakker trappe voor jy ons slaapkamer binne gaan. So dis op en af en op en af, want ons bad suite is ook in die slaapkamer.

Bab se kamer het drie diep trappe na benede voor jy by haar bad- en aantrekkamer uitkom. Ons linne is ook daar in die ruim pakplek gebêre. Ek is stom verbaas hoe mense met bakstene en boukoste gespeel het om die heksiehuis te bou.

Oor die tuin en afgeskeepte wildheid buite wil ek niks rep nie. My geliefde plante word stil versorg op Waterval. Hier sal tuindienste ala Redding Internasionaal standaard moet kom helde werk verrig. Dis duwweltjies en gruisklippers en wat nog wat getem moet word sodat ons teen 30 Maart herplant in alle opsigte ons nuwe seisoen kan binne gaan.

Intussen geniet ons mooie sonsondergange en kyk so bo-oor die woeste gras en beddings.

Groetnis.

Sonsondergang vanaf tante se stoep by die heksiehuis en met haar selfoon geneem.