Unable To Let Go, Even Though… Graham Francoise

Ek voel al ‘n ruk soos die karakter in dié illustrasie van Graham Francoise. Ek is dol op sy werk. Hy vertel op sy webwerf so mooi: “A lot of my work deals with the quiet moments in a story, between the excitement and action where characters deal with internal conflicts, doubt, loneliness, wonder, apprehension. My work often comes across as sad and melancholy, but there is always a sense of hope that I am trying to portray.”

My uiterlike kom baie kalm voor, my besig wees doof die beangste oergeskreeu in my gedagtes uit. Hoe trek mens uit ‘n 5-slaapkamer, 2-sitkamer plaashuis na ‘n enkel grootvertrek 3-slaapkamer plothuis? Hoe leef ek uit Waterval in die Heksiehuis in?

Wat maak mens as die huil jou verstik. Die huil oor die voëls wat so knus al 12 jaar my gewoond is! Die Bosveldvisvanger wat kom swem, die seervoet kwikkie wat kaas kom soek. Die oranjebeklyster wat in die kombuis inwandel om sy deel van die Montego Karoo te kom haal. Sal die nuwerwetses wat naweke hier kom intrek oor die swaeltjies se modderspat kan kyk, sal hulle ooit water en saad uitsit as dit maar ‘n naweekhuis word? Gaan die voëls verwilder word? Ek het ‘n ma-drang om voëlkoue te gaan koop en al die naby die huis bly gevlerktes wat ek so lief het, te vang en summier saam te trek.

Ek wonder oor my plante. Hoe koud word dit daar aan die platkant van Poloniekwane? Daar is min bome, niks randjies nie. Gaan die nethuis en sy inhoud lekker staan daar op Doornbult? Sal die vetplante van Pippa hulle derde verhuising in twee jaar oorleef? Ek sien uit om die baie aarbeiplantjies in ‘n behoorlike akker te gaan vestig. Sal verheug wees as ek weer eendag eie konfyt kan kook. Daar staan reeds ‘n bekwame suurlemoen boom en twee ander sitrus verrassings. Ons kon nie uitmaak of dit lemoen of pomelo of miskien jaarlemoen bome is nie. Wag en kyk is die woord.

So terwyl ek my besig hou met beplan en pak, tref die twakkie tsunami my. O genade, waar kom al die bymekaarmaak twak vandaan. Kyk, dis my goed, ma se goed, skoonma se goed, Tanna se goed en Bab se goed. Ek wil weghol toe ek begin toedraai en pak. Weggee hope en wegpak hoeke is aan die orde van die dag. Glase, opskepgoed, onthougoed word in alle windrigtings versprei.

Ons gaan maak Oudste se huis effe voller met ‘n ekstra bank en die dogters se Chokka-verf kamerstel en Ouma en Oupa se bal en klou stoele. Die boeke oral in die huis grimas as ek verbykom. Hulle sien nie uit na trek nie. Ek trek rak vir rak met die rak se inhoud in ‘n kombers vasgevou. Niks se in bokse verpak nie.

Intussen word daar gewerkskaf by die Heskiehuis. Die wit verf wil nie die vaalgrys waarmee die huis binne geverf is bedek nie. Maandag se week kry ons ‘n mooi egte Afrika sandkleur wat die joppie behoort te doen. Die stoof moet installeer word en Rots het ‘n aardige afvoerpyp se probleem sorteer. Linne en bokse breekware wag al anderkant om staanplek te kry.

Op Waterval leef ons in limbo. Gisteraand soek Rots sy braaibak…jammer, dis al in ‘n boks by die ander huis. Ek wil my bed skoon oortrek. Moes die beddegoed was en droog en stryk, want die ekstras is klaar verhuis!

Vanoggend so aan die einde van week 9 van 2023 kom ‘n besef by my op. Die Wysgeër Rumi waarsku: “What you seek is seeking you.” Ons wou hoeka in die Karoo gaan kleiner leef. Die Heksiehuis met sy minder spasie, peperboom en windpomp wat tjir-tjir in die wind, is darem ‘n mooie heenwysing na daardie behoefte wat ons droom was.

Wie is ek om te kla as die droom nou net noord van Polokwane waar word? Ek sit en lag vir myself en die skreeurit van emosies waardeur ek myself die afgelope weke sit. Nee wat ou suster, jou grootdogtertjie pêntie moet maar reggetrek word en leef gaan ons sommer oopbek en sonder hande doen. Net so, tjoef, raak die bang, luide oerskrei in my binnekant tjoepstil.

 AnyaManya (Tatarstan)

Dis mos nou ‘n beter manier om vorentoe te beweeg. Met uitbundige, avontuurlustige afwagting en verwagting om ons lewensstyl te kan herontwerp en nuut uit te pak. Oop bek en loshande gaan ek in vertroue vorentoe, want ons Pa, Hy sorg en loop vooruit. Wag vir ewig in die toekoms op ons.

Dis juis Lent tyd. Verlede week was dit As Woensdag. Waarom kan ek nie die einas en hoekoms wat my so seer maak af lê nie? Ek kry bevestiging en ‘n hemelse kopknik toe ek ‘n stuk oor die aflê van hartseer en sy maats in Lent tyd raaklees.

Vrylik vertaal ek dit so:

Ek gaan woede wegbêre en sagtheid omarm

Ek gaan seer wegpak en my hart vol dankbaar prop

Ongeduld word gebondel en geduld gaan beoefen word

Pessimisme gaan nie in my dieet toegelaat word nie, hoop is my aanvulling

My bekommernisse maak plek vir vertrou in God se wil vir my lewe

Klagtes maak plek vir dieper oordenking en nuwe meer eenvoudige uitkyk

Om onder druk te leef maak plek vir biddend in die oomblik wees

Bitterheid wyk uit my hart om plek te maak vir vreugde

Selfsug maak plek vir empatie en deernis

Ou vetes en teleurstellings maak plek vir vrede en rekonsiliasie

Word stiller en bêre baie woorde sodat jy kan luister om te hoor en nie om te reageer nie.

Lê af aan jou eie ek, in sy plek omarm die mense om jou met arms wyd uitgestrek.

So kan ek die huisie van onthou wat my binnekant laat brand, se opvlam vuur eens en vir altyd blus, en keer dat dit alles in en om my verwoes. Ek gaan nie gister en sy trawante hulle eie krat gee om verder te bewoon nie.

Daar is in die toekoms by die Heksiehuis hoeka nie stoorplek nie. Wat ‘n wonderlike geskenk aan myself en my geliefdes. Ek sien uit na die belofte van ‘n nuwe toekoms wat in die tiende week van 2023 vir ons gesin aanbreek.

Groetnis, ek het bokse om te pak en my laaste naweek op Waterval om te geniet.

Ons praat eers weer as ek gesetel is in my nuwe omte. Daar sal ook gevlerktes kom woon, ek is seker daarvan.