Ek moet drie maande se kleinkas strokies inlees…maar my hart en gedagtes wil hulle deur my vingers oor die qwerty bord uitstort, uit huil, uit skree. Toe die moer in my koffiebeker na ‘n boom in ‘n hart lyk, moes ek weet… ek gaan getap word. Wat ‘n nare week was week drie van 2023, my sawwe hart leeggetap.

‘n Jong ma is verlede Maandag hospitaal toe. Sy het eers haar kinders afgesien skool toe. Haar ouers het vroegdag in die pad geval om haar en haar gesin by te staan. Haar stryd om wrede kankerbehandeling en die eina gevolge is ‘n berg wat sy letterlik sonder suurstof moet uit. Sy is maar 38. Ag Here, hoe het die beker voor haar beland? Wat moet sy en ons leer? Is dit net ‘n tragedie of ‘n leerbare oomblik. Ek is nie naby nie, en kan net vir haar, haar ouers en geliefdes van ver bemoedig. Mens voel so magteloos.

Elders is ‘ n ander dierbare se stryd daagliks nader aan gewonne. Braaf en moedig word daar teen pyn en afskeid geveg. Dankbaarheid en oomblik lewe in aksie. My hart breek dat mense deur sulke trauma en afwagting moet gaan.

My liefste kammie verjaar die 19e Januarie. Ek stuur gelukwense, ons kom so lang pad. ‘n Susterskind wat heenkome by my engelmaat vind, is intussen in ‘n kliniek opgeneem. Sy kies daar selfdood. Ag Here, hierdie seer verstaan ek en moes dit al deurleef. My vriendin se seer gaan groot wees en my hart lek nog ‘n stuk leeg. Ek wonder of die jong vrou ooit Mumford & Sons se ‘Roll away your stone’ se slot strofe raak geloop het nie:

It seems that all my bridges have been burned
But, you say that’s exactly how this grace thing works

It’s not the long walk home
That will change this heart
But the welcome I receive with the restart
.

Teen Saterdag is ek rêrig gemoedsbekakkerig verby. Ek vertel gelukkig vir die huismense dat my hart sommer net seer is en hulle los my dat ek huil en grom. Rots oorleef net-net ‘n relletjie vol emosie. My fountjie rus al sedert Vrydag klankloos in my laai. Namiddag gaan haal ek hom uit sy ballingskap. Wat ‘n skok wag daar op die skerm.

‘n Niggie van my ma en oudste tante, se man het ‘n beroerte aanval gehad en is in bedenklike toestand laat ‘n kleinniggie weet. Maar dis nie die hele tragiek nie. Die man se dogter se twee seuns is in Potchefstroom albei op slag dood in ‘n motorongeluk. Die niggie skrywe: “Dis onwerklik. Dis aaklig. Ons sê een oomblik ‘dis nie waar nie’, dan weer ‘dis waar’ en dan kreet ons net ‘NEEEE’!”

Dit is my werk om die boodskap aan Oudste en haar dogter oor te dra. Skielik is ek lafhartig en dankbaar vir skermpie-afstandigheid.

So kom nuus van oral elders ingestroom. Seer en afskeid en skrik en skok. Ek het ernstig nodig om uit my eie pad te kom. Het elke dag kossies vir Rots en Bab gepak, was lief met Tante en het my oggend boodskappe met klomp maats gedeel, hier en daar gesels, my hondebende geliefie, tuin nat gegooi en my aan die voëls verwonder en gebid vir genade en ook vir reën. Die is ver weg op die oomblik.

Ek huil en bid en vra waarom soveel mense so swaar moet dra, sê dankie vir genade en beter dae. Ek is nog so aan die pieker toe blaf my Rumi. “Kom speel met my dat jy kan lag.” Dit het gewerk.

Nadia Bolz- Weber sê om so weg van jouself te fokus op kakkerige dae is oomblikke waarin jy jouself bevry. Dis nou presies wat die geskribbel ook nou vir my doen.

Ek loop die wysheid raak in ‘n notaboek op my lessenaar, en besef die storms, en seer en onrus is deel van groei. Pynlike dog nietige menslike groei. Sal vandeesweek beslis hard aan bevryding werk.

“And once the storm is over, you won’t remember how you made it through, how you managed to survive. You won’t even be sure, whether the storm is really over. But one thing is certain. When you come out of the storm, you won’t be the same person who walked in.”

 Haruki Murakami