Foto: Kynoch

Nee, dis nie veerpyltjieborde of ‘alien crop circles’ nie. Dis spilpunt sirkels op ‘n plaas in Suid-Afrika.

Rots het die foto laas week van ‘n kunsmis landboukundige ontvang. Die effek van beurtkrag op ‘n spilpunt aanplanting. Ek is stom. Die effek is onthutsend. Hierdie boer het duur betaal vir goeie saad, erfgeld moes gebruik om kunsmis en pes beheer oor die hele sirkel toe te dien. Die verwagting is dat deurlopende elektrisiteitsvoorsiening sal bydra tot gereelde watertoevoer om, na insetkoste te kan leef, én by te dra tot voedselvoorsiening vir Mzanzi. Daar is derduisende spilpunte op plase in Suid-Afrika. Beurtkrag gebeur oral oor Suid-Afrika. Terwyl jy so aan jou pampoen proe, of jou broodjie eet…neem die prentjie in.

Vanmore luister ek met angs hoe daar vertel word dat besproeiings boere watertoevoer vir 120 uur per week benodig en so hul beurte bespreek. Daar kom dadels van, danksy beurtkrag ontvang hulle maar 75uur toegang.

Waar goeie en gereelde besproeiing die norm was en ‘n spilpunt in een egalige diep groen sirkel voedsel laat gedy het, sien ons nou iets wat na ‘n veerpyltjiebord lyk.

Beurt krag lê op vlak 6. Diewens stroop substasies.  Spilpunte werk soms en meestal nie, tensy trustfondse geplunder word om diesel aangedrewe generators en recces te bekostig om spilpunte te laat werk en veilig te hou. En dan wonder ons waarom pampoen en aartappels en ui so duur soos kaviaar word?

Weg is die dae van die sekerheid soos in my foto’s van lank gelede. Spilpunte wat loop oor vol lande.

Daar in 2018 se liefhê-maand skrywe ek aan die nuwe Prez. Ramaposie Doringrosie. Ek was vol hoop. Dis nou vier jaar en so aks later. My  hoopvolle bede vir verandering onder sy leierskap, staan beskaamd.  Net soos daar toe op die vuurpoel oom jag gemaak is, is ons Prez ‘n gewonde buffel. Erg. Ons het saam met die dinge wat ek verander wou sien, net nog onsienbare en liewer-het-goed-ongesê-gebly, bygekry.

Hoe naïef van my. Ons Prez het nog nie die kabinet skoon nie. Hy het sommer anderdag twee seuns wat by ‘n vakansieoord in die Vrystaat aangerand is na sy toespraak genooi en hulle vertel hoe hulle nie meer vir witmense bang hoef te wees nie, want “hulle heers nie meer nie.” Sjoe. As ek waag om so te veralgemeen is moeilikheid my voorland, maar u, Meneer Prez, mag my en my huis met roekeloses en argeloses vergelyk. Nee wat, ons is beslis nie almal só nie en nog minder het ons nie RHOSL(Real Housewives of Silver Lakes) norme en waardes nie.

Ons moet funksioneer en ekonomie pleeg op op vlak 6 beurt krag, want wit mans mag nie probleme oplos nie, en ons minerale minister wil net van fossiel brandstof weet, want dit hou klomp tenderpreneurs se sakke en bankrekeninge vol. Skielik word witmense ingesluit in oproepe om moerig te raak vir die kolakoeldrank maatskappy omdat hulle net vir swart Afrikane beurs geld wil gee.

Blah,blah, blah.

Dis ‘n raaskalery* uit alle oorde. Ek is nie lus om by snertsmouse, gillend oor alles, aan te sluit nie. Ek wil nie na Luthuli Huis opruk oor krag en bollie wat die strate afloop nie. Ons moes in die eerste plek nooit hier beland het nie. Iemand het 25 jaar gelede verkeerd gehoor. ‘Fix what is broken,’ het ‘break what is fixed’ geword en hier sit ons nou in ‘n stukkende, seer land. Ons land is gebreek.

Flippit. Ek vergeet sommer Wie my Dirigent is. As ek ‘n Katoliek was moes ek 365 Hail Marys opsê en die jaar is maar net 15 dae en ‘n bietjie oud.

Ek gaan liewer bek hou en my eie groente plant en spaarsaam met water werk en dankbaar wees dat plaaslike diewens ons substasie so beskadig het dat ons nou buite die beurtkrag siklus leef. Dis reeds drie weke se ononderbroke kragtoevoer. Ek geniet maar die oomblik en kook en was gordyne tot almal elders se realiteite ons weer volstoom tref.

Smaail so effens

My swaerie stuur die vir my: “Beurtkrag is soos ‘n plaaslyn. Vier langes, twee kortes, dan weer vier langes.”

Laat my dink aan die grappie oor die kleuters wat buite speel. Die seuntjie sê: “Daar is ‘n kondoom op die patio.” Die dogtertjie vra: “Wat is die patio?”

Wat is ‘n plaaslyn, wonder ek. Ons het al jare nie ‘n landlyn nie. As daar beurtkrag is en die generator loop nie, het ons ook geen selfoonsein nie. Geen kommunikasie na buite. Totaal geïsoleer.

Boeta by die oriënteringsdag
Boeta op dag een van sy skoolloopbaan…

Glimlag

My kinners van anner mammas se twee krose is skool toe. My Boeta was tydens die oriëntering besoek dag, voor skool amptelik begin, die ene glimlagte en die volgende dag die prentjie van erns. Toe sy Pa vra nou hoekom, sê hy hy het gister klaar geglimlag en foto’s geneem, hy wil nou net gaan leer. Mens kan maar net glimlag vir die redenasie. Sterkte Boeta, daar lê 12 jaar se aangaan dae voor.

Arrie warrie en veilig bly.

Ek moet vir Hoop loop soek. Ek hoor sy kruip in Pandora se boks weg. Ander vertel sy is onder in ‘n put. Nee wag, ek weet waar ek hope Hoop kan vind. Dis veilig binne my gesetel. Gratis en verniet. Dankie vir genade.

Ns. * Raaskalery: ‘n Onsinnige geklets. Is julle bly ek lief om woorde te ontdek en gebruik? In die onlangse verlede sou ek sommer strontpratery gebruik het. Hehe.