Hope By George Frederic Watts, 1886

Hierdie skildery van George Frederic Watts is vir my so treffend. Die vrou is Hoop wat stokalleen op ‘n sfeer sit. Geblinddoek en geboë luister sy na na ‘n noot op die enkele heel snaar van haar lier.

Vol patos is die skildery van blinde Hoop en haar gebreekte lier. ‘n Simbool van broosheid en deursettingsvermoë. ‘n Toonbeeld van die yl skeiding tussen hoop en wanhoop.

Hoop se maats Liefde en Geloof is afwesig. “Haar klere herinner aan die ou Grieke en kan verwys na die wisselvallige aard van hoop in die mitologie teenoor die sekerheid in die Christelike tradisies,” beskrywe die Tate Museum. Ver agter haar flonker ‘n enkele ster. Al kan sy dit nie sien nie, bied die liggie ook hoop. Dinge is nie heeltemal so sleg is as wat Hoop dink nie. Dit simboliseer dat daar tog elders ook hoop kan bestaan.

Die wyse Augustinus het vertel dat Hoop twee pragtige dogters had. Hulle name: Woede en Moed. Woede oor huidige omstandighede, en moed om toe te sien dat omstandighede verander. Dit klink vir my reg. Ons wêreld is so seermaak plek dat woede nodig is om mens tot aksie te dwing. Soos die mense van Oekraïne.

Om te hengel is waarlik hoop in aksie. ‘n Visserman bly optimisties self al is die byt aan die aas traag. Sy hoop floreer. Weer en weer wag hy op daai een byt wat nie miskien is nie. Hoop is ook so.

In 1997 het ene Susan Everson se navorsing gevind dat mense wat hoë vlakke van wanhoop beleef, ‘n 20% groter kans het op vernouing van slagare as wat optimistiese mense sou hê en sy het beweer dat ‘n soortgelyke risiko toename voor kom by een-pakkie-‘n-dag rokers. Wanhoop is gevaarlik.

Ten slotte, die mooi woorde van Samuel Smiles:

“Hoop is soos die son: as jy in sy rigting kyk, werp hy die skadu’s van jou probleme agter jou.”

Hierdie blog is my bydrae tot #Woordwarrel 4/2022. Kom neem deel.