Oukersdag 2021. Bab en ek drink koffie op die stoep. Die stoute Watervalbende moet geskrop word vir die Kersfeesvieringe. Hulle baljaar so in die tuin en met hulle buurmaats, dis net spoeg en modder en klitse. My skoongeskropte matte krimp ineen as die spul deurgedraf kom. Dis net Rots en Bab en ekke saam hierdie jaar.

Hierdie jaar wat eintlik op 27 Maart 2020 begin het, en soomloos loop tot nou toe. Al vir 637 dae, 55 miljoen sekondes aanmekaar. Iewers ‘n ander Kersfees en Nuwejaar misgeloop. Meer of minder inperkings al wat verander. Dan mag jy, dan mag jy nie. Die pes het kom inloer en Bab was siek vir twee weke. Sy dra nou nog gevolge met moegheid en naels en hare wat bros is. Dis toe ook ‘n Covid-gevolg. Ons is almal ingeënt, glo dis waarom Rots en ek, met ‘n rits risikofaktore tussen ons, skotvry blues gekry het.

Ons het op ‘n stadium gewroeg omdat soveel om ons so swaar getref is. Bure wat familie verloor, naby familie in rou gedompel. Ons, ons bly steeds lekker op Waterval. Wat ons inboet is finansiële sekuriteit. Ons moet planne maak, spanning loop hoog en vir my man en kind word slaap hulle reddingsboei.

Ek het in Januarie vanjaar uit ‘n Munch-gil, zombiebestaan wakker geskrik, en ons draad kremetart krismisboom in ‘n bidboom omskep. Op 25 Januarie die eerste bidkers aangesteek. Ek het ‘n reddingsritueel vir my self en my mense geskep.

Die boom het my menigmaal gered van totale inploffing. Wat ook gebeur het is dat die brandende kers in my huis troos gebring het vir menige familielid, vriendin en selfs vreemdes, geënt of nie. Almal weet hulle word soggens met son opkom in stil prewelgebed opgedra aan ons Maker.

Ek bid vir uitkoms, veiligheid en net pleinweg moed om te oorleef. Die groot troos vir my, is dat ek niks hoef te sê nie, want daar waar vir altyd is, brand ‘n wierookbak- en al ons versugtinge, gesê en ongesê, beland daar. Blye versekering.

Ewenwel, terug by die hede. Ek sit nog so en koffie suig toe tref die mooie prentjie my. ‘n Ragfyn spinnekopdraad wat in die sonlig flonker. Mooi vas tussen twee poinsettia blare. Die sonlig reënboog oor die plant. Sommer net asemsnakkend mooi en ‘n warme vrede toe ek besef ons is so nietig en broos soos daai gereënboogde spindraad, maar wat seker is, is dat ons Skepper so teenwoordig by ons is soos die oggendson wat op dit skyn. My hart klop sommer lekker warm. Ek het op die oomblik maar ‘n stil, arms om die knieë, kop weggesteek gesprekmanier met my Pa.

In 2018 het ek ‘n Kersfees relaas oor poinsettias en ‘n liewenheerbesie neergepen.

“Poinsettias is ook bekend as die “Christmas Star” of “Christmas Flower” en is van Meksikaanse oorsprong. Daar is ‘n legende dat ‘n kindjie, met niks om te offer vir die Baba Jesus se geboortedag nie, langs die pad onkruid gepluk het. By die kerk het hy met kinderlike opregtheid by die altaar gekniel en die bossie neer gelê. Net daar, voor die verstomde gemeente se oë, vind ‘n wonderwerk plaas. Die bossie onkruid omvorm in die mooiste groen en bloedrooi blomme. Mag ons in kinderlike geloof ons bossies onkruid, ons alles wat ons het, voor God se voete neer kom lê, om die wonder van Sy liefde en Sy Raadsplan vir ons lewens, beleef. Nou hier waar die poinsettias nog vol in die blom staan en ook elke dag vorentoe.”

Die rooi en die groen van die poinsettia vertel vir my Christus is vir ons gebore om vir ons die vir altyd te kom gee. Ons groei gedoop in sy kruisbloed. Mag ons moedig voortgaan in die versekering.

So van moed gepraat. “When in doubt, do the courageous thing.” Dis een van my gunsteling Jan Smuts wyshede. Hy het ook oor Suid-Afrika gesê: “die ergste, net soos die beste gebeur nooit nie.” Ons ken van in hoekies geverf en op die krans se rand oorleef. Dit is vir my die veerkragtigheid uniek aan Suid-Afrikaans wees. Maar ai, dat ons altyd met soveel woede en stres en seer moet lewe.

My Kersfeeswens en Nuwejaar gebed is dat ons land hier onder die Afrika son begin streef na beter. Dat ons Jan Smuts se opsomming van Mzanzi kan verander. Ek bid dat ons gesondheid en vrede en groei kan beleef. Dat ons moedig sal bly in twyfel tye. Hier op dag 637 van die pestyd en die toekoms in.

Seënwense vir ieder en elk van julle wat hier kom lees en gesels.

Ek waardeer julle.