Foto: Universal Pictures

Hierdie bloguitdaging handel oor die nuutskepping van woorde, idiome en gesegdes in Afrikaans wat ‘n kultuurverandering kan voortbring of sommer net die leser / aanhoorder irriteer.

Kan jy ‘n lekker ‘n intensiewe vorm bedink, ‘n nuutskepping wat tog asseblief nie ‘n belediging is vir ‘n snowflake nie? Vertel ons daarvan.

Wat Hester in vandeesweek in #Woordwarrel vra is vir my ‘n onmoontlike taak. Iewers is daar sneeuvlokkies wat weer witgekneukel in konstitisionelevryheidwoede vir my die vieste in gaan wees.

Ek wou so graag liriese intensiewe vorme uit warrel. Die tipe warrel wat ‘n reis na my geliefde sielplek, Graaff-Reinet in my opwel. Soet, volryp pitte van onthou is al wat ek het. Ons was 2019 laas na die Camdeboo. Want Covid, en geldboom se yle oes.

Ek wou skrywe hoe my hart granaatryp oopbreek as ons deur die noute by Colesberg ry. Hoe die padborde vir my Graaff-Reinetgroen terg, 200km, 150km. Hoe die blouselblou hemel met seilskipwolke en die Pierneefberge my vuisvoosmoegheid uitwis. Hoe die wyer en verder sien mens aan kommer en seer en sorge stroop. Hoe jou kop oop skiet. Dis nou behalwe die stuk pad om Noupoort. Waar die wind turbines apokalipslelik bo die treurige plek uittroon. Hulle warrel net die seerverwaarloos van die dorpie wyer die eter in. Die grafte langs die pad, die wete dat vele dwelmverslaafdes dikwels met ‘n besoek aan die dorp nie hulle duiwels kon besweer nie. Dis vir my ‘n wondseerplek.

Gelukkig is die vistas gou anders en daar voor warrel Middelburg se windmeulsmouse handewerk vrolik hulle welkom. Dan Jagtpoort se padstal. Die lekkerste biltong en soetste heuningtee in die heelal is hier te koop. Opdraand deur Lootsberg pas. Waar die hemel jou kuif om windkam. Asemrowend om af te wentel en doer ver blink Nqwebadam en lok Spandaukop. Randall Wicomb se blinkvet kambro dorp nog nie sigbaar nie.

My kopreis is summier gestop.

Ons het pas die Delta-variant draaibal gesystap en die moontlikheid van ‘n vierde vlaag en inperkings voel vredig vêr. So terwyl ons asof daar niks aangaan nie vakansies, saamtrekke beplan, het ‘n nuwe Covid variant sy stekels kom inslaan. Terwyl net 24% Suid-Afrikaners ingeënt is. Binne 36 uur, is ons die wêreld se sondevreter. Omdat ons regering vertel het. Te gou, wonder ek. Kon ons nie maar bietjie gewag het om te vertel van die stekelmonster in ons midde nie? Ironies, dit het van Botswana gekom. Dit het in Gauteng geland en vandaar meegereis na Hongkong en nou België ook. Ingeënte reisigers het asimptomaties tuis gekom. Hulle ente vrywaar hulle van doodmaakgevolge. Die onbeskermdes om hulle het rede om benoud te voel.

Foto: CDC op Pexels.com

Ons summiere sondevreterstatus is vir my bitter aaklig. Dit na die WGO mooi vertel het die Covid-variante gaan diskriminasievermydingsonthalwe, kanselleerkultuurbeleef liefs na die letters van die Griekse Alfabet genaam word. “No country should be stigmatized for detecting and reporting variants,” het WHO epidemioloog, Maria Van Kerkhove onlangs gehuigel. Pfft. Die rand is moertoe, niemand mag hiernatoe vlieg nie. Ons staan op die kanselleerafgrond.

“Is jy nou tevrede,” het ek dikwels vir my kleinsus gevra as ons brandboud in ons kamer moet sit tot een of albei van ons askies sê. Dit was maar ‘n lang sittery, met speeltyd wat sandloop. Albei van ons klipkoptrots, en steeksmuildwars.

My mede-landsburgers se muilmoedswilligheid laat my dink aan sulke tye. Ons het reeds die covidinperkingpakslae van ons lewe agter die blad, maar nee. Driekwart van die land is langtandtraag om in te ent. Gewaande regte, selfsug, misinformasieslim het ons nou op ‘n plek waar vakansie, Krismis en Hêppie New Year alweer op die kanselleerafgrond staan. Die Pres en sy bevelsraad is besig om te vergader terwyl ek hier omicronontsteld die qwertybord te hard slaan.

Dis nie die Grinch wat die kanselleerwerk gaan doen nie, o nee. Dis ons stiksienigheid, ons onwilligheid om saam tot die voordeel van almal in ons land te werk. Ons kan nie eers koalisies ons oorlewing ter wille vorm nie. Nie op ‘n enkele vlak van ons gebroke samelewing nie. Mangelliefde, so vlak en skynheilig is al wat ons het. Ubuntu…se mielie!

Daar is tot in die WGO rusie gemaak oor wat die nuwe covidmonster genoem moet word. Die Griekse letter wat volgende aan die beurt was is Nu. Daar is gestry oor hoe ‘nu’ korrek uitgespreek word. Die uitspraak is “nee” soos Franse nooiensvan, en Ingelse ‘knee‘ Miskien het hulle geweet ons Afrikaanse ‘nee‘ word ‘aikôna‘ Die Aikonavirus…dink net as ons ingeënt was, kon ons aikona sê vir verdere verlies aan lewens en ekonomiese oorlewing. Kon ons ja sê vir ‘n vry vrolike kersfees. Toe nou nie.

Die dertiende en veertiende letters is oorgeslaan en ons covidmonster heet na letter 15, omicron.

Daarom is ek omicronontsteld, omicronmoerig. As ek Ramposiedoringrosie was het ek flippen alle oningeëntes summier gehok, en die 24% wat wel moeite gedoen het om covidskotvry te leef ‘n lekker Krismis en uiters voorspoedige Nuwejaar toegewens. Vry om te ry en te kuier waar ons wil. Maar my omicrommoerige gemoed wéét, dis nie wat gaan gebeur nie.

Ons gaan sowaar as vet 2021 onthou as die jaar toe nasionale muilmoedswilligheid Krismis wéér kanselleer het.

Gaan ent vir jou in, maak die verskil wat jy graag in die wêreld wil sien. Dis hoe ons weer vry sal kan leef. O, en ek sal trots dra aan my kanselleerstralekransie wat jy met jou vrye en demokratiese regte so graag aan my wil gee. Ek sal hom mooi reg draai en kop omhoog staan. Sien jou by Sondagaand die sooibrandsuurfamilievergadering.

————————–

Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.