Hierdie bloguitdaging handel oor die nuutskepping van woorde, idiome en gesegdes in Afrikaans wat ‘n kultuurverandering kan voortbring of sommer net die leser / aanhoorder irriteer.
Wat Hester in vandeesweek in #Woordwarrel vra is vir my ‘n onmoontlike taak. Iewers is daar sneeuvlokkies wat weer witgekneukel in konstitisionelevryheidwoede vir my die vieste in gaan wees.
Ek wou so graag liriese intensiewe vorme uit warrel. Die tipe warrel wat ‘n reis na my geliefde sielplek, Graaff-Reinet in my opwel. Soet, volryp pitte van onthou is al wat ek het. Ons was 2019 laas na die Camdeboo. Want Covid, en geldboom se yle oes.
Ek wou skrywe hoe my hart granaatryp oopbreek as ons deur die noute by Colesberg ry. Hoe die padborde vir my Graaff-Reinetgroen terg, 200km, 150km. Hoe die blouselblou hemel met seilskipwolke en die Pierneefberge my vuisvoosmoegheid uitwis. Hoe die wyer en verder sien mens aan kommer en seer en sorge stroop. Hoe jou kop oop skiet. Dis nou behalwe die stuk pad om Noupoort. Waar die wind turbines apokalipslelik bo die treurige plek uittroon. Hulle warrel net die seerverwaarloos van die dorpie wyer die eter in. Die grafte langs die pad, die wete dat vele dwelmverslaafdes dikwels met ‘n besoek aan die dorp nie hulle duiwels kon besweer nie. Dis vir my ‘n wondseerplek.
Gelukkig is die vistas gou anders en daar voor warrel Middelburg se windmeulsmouse handewerk vrolik hulle welkom. Dan Jagtpoort se padstal. Die lekkerste biltong en soetste heuningtee in die heelal is hier te koop. Opdraand deur Lootsberg pas. Waar die hemel jou kuif om windkam. Asemrowend om af te wentel en doer ver blink Nqwebadam en lok Spandaukop. Randall Wicomb se blinkvet kambro dorp nog nie sigbaar nie.
My kopreis is summier gestop.
Ons het pas die Delta-variant draaibal gesystap en die moontlikheid van ‘n vierde vlaag en inperkings voel vredig vêr. So terwyl ons asof daar niks aangaan nie vakansies, saamtrekke beplan, het ‘n nuwe Covid variant sy stekels kom inslaan. Terwyl net 24% Suid-Afrikaners ingeënt is. Binne 36 uur, is ons die wêreld se sondevreter. Omdat ons regering vertel het. Te gou, wonder ek. Kon ons nie maar bietjie gewag het om te vertel van die stekelmonster in ons midde nie? Ironies, dit het van Botswana gekom. Dit het in Gauteng geland en vandaar meegereis na Hongkong en nou België ook. Ingeënte reisigers het asimptomaties tuis gekom. Hulle ente vrywaar hulle van doodmaakgevolge. Die onbeskermdes om hulle het rede om benoud te voel.

Ons summiere sondevreterstatus is vir my bitter aaklig. Dit na die WGO mooi vertel het die Covid-variante gaan diskriminasievermydingsonthalwe, kanselleerkultuurbeleef liefs na die letters van die Griekse Alfabet genaam word. “No country should be stigmatized for detecting and reporting variants,” het WHO epidemioloog, Maria Van Kerkhove onlangs gehuigel. Pfft. Die rand is moertoe, niemand mag hiernatoe vlieg nie. Ons staan op die kanselleerafgrond.
“Is jy nou tevrede,” het ek dikwels vir my kleinsus gevra as ons brandboud in ons kamer moet sit tot een of albei van ons askies sê. Dit was maar ‘n lang sittery, met speeltyd wat sandloop. Albei van ons klipkoptrots, en steeksmuildwars.
My mede-landsburgers se muilmoedswilligheid laat my dink aan sulke tye. Ons het reeds die covidinperkingpakslae van ons lewe agter die blad, maar nee. Driekwart van die land is langtandtraag om in te ent. Gewaande regte, selfsug, misinformasieslim het ons nou op ‘n plek waar vakansie, Krismis en Hêppie New Year alweer op die kanselleerafgrond staan. Die Pres en sy bevelsraad is besig om te vergader terwyl ek hier omicronontsteld die qwertybord te hard slaan.
Dis nie die Grinch wat die kanselleerwerk gaan doen nie, o nee. Dis ons stiksienigheid, ons onwilligheid om saam tot die voordeel van almal in ons land te werk. Ons kan nie eers koalisies ons oorlewing ter wille vorm nie. Nie op ‘n enkele vlak van ons gebroke samelewing nie. Mangelliefde, so vlak en skynheilig is al wat ons het. Ubuntu…se mielie!
Daar is tot in die WGO rusie gemaak oor wat die nuwe covidmonster genoem moet word. Die Griekse letter wat volgende aan die beurt was is Nu. Daar is gestry oor hoe ‘nu’ korrek uitgespreek word. Die uitspraak is “nee” soos Franse nooiensvan, en Ingelse ‘knee‘ Miskien het hulle geweet ons Afrikaanse ‘nee‘ word ‘aikôna‘ Die Aikonavirus…dink net as ons ingeënt was, kon ons aikona sê vir verdere verlies aan lewens en ekonomiese oorlewing. Kon ons ja sê vir ‘n vry vrolike kersfees. Toe nou nie.
Die dertiende en veertiende letters is oorgeslaan en ons covidmonster heet na letter 15, omicron.
Daarom is ek omicronontsteld, omicronmoerig. As ek Ramposiedoringrosie was het ek flippen alle oningeëntes summier gehok, en die 24% wat wel moeite gedoen het om covidskotvry te leef ‘n lekker Krismis en uiters voorspoedige Nuwejaar toegewens. Vry om te ry en te kuier waar ons wil. Maar my omicrommoerige gemoed wéét, dis nie wat gaan gebeur nie.
Ons gaan sowaar as vet 2021 onthou as die jaar toe nasionale muilmoedswilligheid Krismis wéér kanselleer het.
Gaan ent vir jou in, maak die verskil wat jy graag in die wêreld wil sien. Dis hoe ons weer vry sal kan leef. O, en ek sal trots dra aan my kanselleerstralekransie wat jy met jou vrye en demokratiese regte so graag aan my wil gee. Ek sal hom mooi reg draai en kop omhoog staan. Sien jou by Sondagaand die sooibrandsuurfamilievergadering.
————————–
Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.
Sjoe. Net, sjoe! Jy verstom my elke keer met die woorde waarmee jy toor om ‘n belangrike boodskap uit te bring. Omicrommoerig. Sommiges is moerig oor hulle vryhede wat dalk ontneem sal word met inentings. Watter vryhede? Nie een van ons is vry om voort te gaan met ons lewens nie, nie die 24% wat probeer om hulleself en hulle medemens te beskerm nie en ook nie die 76% wat nie ‘n moer kan omgee nie.
LikeLiked by 1 person
Preek, suster. Ja, ons sal maar aanhou seepkisraas, al is ons min. Profete word mos selde tuis verwelkom…
LikeLiked by 1 person
Eendag sal iemand weet ons groot opoffering van in ‘n ry gaan staan en ‘n steekpyn te verduur, was ‘n heldedaad!
LikeLiked by 1 person
Liewe Moses Erna…. waar bêre jy al hierdie woorde wat uit jou borrel?
LikeLiked by 1 person
Jy weet daai slangetjies wat mens voor jou oë sien, dis toe woordconfetti…😉😂 Grappie. Ek weet nie Kameel, dit gebeur net…veral as ek omicronmoerig raak.
LikeLiked by 1 person
Jy gaan ‘n nuwe taal “stig” en ek het nog nie eers Afrikaans bemeester nie. 😄
LikeLiked by 1 person
Sal die woordeboek stuur.🤣🤣
LikeLiked by 1 person
Fantastic! I don’t have the Afrikaans words at hand to express my admiration for this piece.
LikeLiked by 1 person
Thankyou, Anne. I love #Woordwarrel and it brings me joy when a great blogger like yourself enjoys my brand of Afrikaans. Dankie dat jy kom kuier.
LikeLiked by 1 person
Hoor, hoor!
Ek is nie moerig nie. Wat ek is f*&^%n ver verby moerig. Almal met n wit jas het gewaarsku as ons nie almal gaan inent nie gaan die ding net erger en erger word. Waar’s die ore?
Nou is die tyd dat die president en sy kabinet daardie elektroniese inentsertifikate wat ek, my vrou en my kind afgelaai het, iets moet laat beteken. Miskien dan sal die balhoriges oortuig word om ook maar te gaan sit vir die spuite.
LikeLiked by 1 person
Net so. Ons sal maar sien wat by vanaand se familievergadering gebeur. Ek glo as hulle met ninjaspoed die gogga kon eien, hulle sekerlik net so blitsig ‘n plan sal wil bewerk. Hoop die met shrekwas in die ore is wie die slae sal kry.
LikeLike
Goeie genade maar jy gooi daardie intensiewe woorde te lekker. Selfs terwyl ek dit lees voel ek die woede en frustrasie wat dit uitstraal of uitbeeld. My kop is te plat om so spontaan te skryf.
LikeLiked by 1 person
Jou kop is g’n plat nie. Ek is net op my beste as ek vuriglik enige bui is. Jy het ‘n lieflike sagte rustigheid wat ek vreeslik geniet. Dit voel altyd asof jy hier by my sit en vertel. Lefdegroete.
LikeLike
Dankie vir jou mooi woorde. Bly ek kom rustig voor in my skrywery. Toe ek en my nog gekorrespondeer het voor ons troue het hy altyd gesê: kom sit by my aan die tafel, sit jou hand op my been en ons gesels rustig op papier. Hy het vir my lange briewe geskryf. As ek jou goed so lees raak ek ook sommeropgewen en wil net links en regs klappe uitdeel.
LikeLiked by 1 person
O genade, ek sal my zen loop soek dat ek ook liewer rustigheid bring. Groetnis vriendin.
LikeLike
Haha nee man mens moet bietjie uiting ook gee aan die binne gevoel.
LikeLike
🌻😉
LikeLiked by 1 person
Sjoe en weereens sjoe! As dit ‘n kompetisieskrywe was, was jy beslis die wenner!
Ja Erna, domgeit het nie brieke nie. Ek is net so omicronmoerig. My seun se kuiertjie uit Duitsland is nou moertoe. Ons het hom meer as ‘n jaar laas gesien. My ander kinders wat nou Australië toe emigreer is nou huisloos en sal seker in limbo hier rondhang, omdat selfsugtige selfverklaarde soswetenskaplikes dit goed gedink het om drekinformasie orals te spoeg en hulleself te distansiëer van die “gifspuit”.
LikeLiked by 1 person
Ai Dina, dis onlekker as die kudde immuun is teen nugtere denke en kyk nou die impact op ons almal. Daar is nie moetie daarvoor nie. Ook ontsettend ontstellend was mense se opmerkings op Vuisboek terwyl die Prez gepraat het.
LikeLiked by 1 person
Gelukkig het ek niks gesien nie. Ons is salig hier tussen die diere.
LikeLiked by 1 person
Sê groete vir die kameelperde en die buffel.😘
LikeLiked by 1 person
Vuurtjie daar is nie baie mense wat so met woorde kan toor soos jy. Jy inspireer mens om te wil beter doen. Ek het soveel respek vir jou skryfkuns. Puik skryfwerk
LikeLiked by 1 person
En hier warrel jy in. Dankie Bondels
LikeLike
https://bondelsgedagtes.wordpress.com/2021/12/02/woordwarrel/
LikeLiked by 1 person
Absolute wonderlike stuk skrywe. Werklik geniet. En dankie vir die steun. – groetnis, willem
LikeLiked by 1 person
Dankie.
LikeLike