Photo by Pixabay on Pexels.com

“Sanet neem die melkbeker en keer dit om. Soos elke oggend drup melk teen die glasbeker af op Ma se spierwit tafeldoek…”

Om die dood toe weet ek nie waarom die stuk uit ‘n standerd twee leesboek in my gedagtewarrels vasgevang bly nie.

Ek is nie geseën met die vermoë om aanhalings verbatim te kan aanhaal nie. Ek moet goed neerskrywe en so bêre dat ek dit kan kry, ‘n roetekaart na mooi goed onthou. Ek beny mense wat Camus, Voltaire, Elsa Joubert, die Bybel perfek aanhaal. Daai kan ek nie.

Tye verander, en die dae van mooi woorde neerskrywe in ringbinder bloemlesings is danksy Google nie meer nodig nie. Mens kan byna enigiets nou deur die soekenjin kry.  Solank jy so ongeveer onthou wat en wie, sal vriendin Google jou vinnig op die spoor bring. Flukser as die bibliotekaresse en haar pêl Dewey.

Maar die leesboek sin, dié is ‘n onthouoorwurm. Hy is deel van my. Hoekom sal arme Sanet en die morsige melkbeker so my bybly? Ek dink ek identifiseer met haar aanhoudende onhandigheid. My eie linkshandigheid sorg vandag nog daaglikse blapse, blertse, spatsels en leksels.

Hoe lief ek ookal vir my kombuis en huis is, is die lappie op die skouer nou al deel van my huisklere. My ma, ouma en tantes, meeste al annerkant, koor steeds in my oor by die aanskou van olie op die stoof, druppels melk langs die koffiebeker, suikerkorrels wat spatter, as ek  met die skilmes na my toe sny of die brood so skuins na onder uitkalwe.

Die sinnetjie voer my terug na die lewe as koshuiskind op Barberton.

Die koshuis op regterhand as jy die dorp sirkel om verby die Indiër woonbuurt van Nelspruit se kant inkom. Die laerskool al met die opdraand verby die Stadsaal met Jock of the Bushveld, onder deur flamboyante met hulle veertjie blare so yl dat die Laeveld se son en humiditeit jou blasend en swetend eendjies eendjies stap in ‘n ry, met skooltas in die hand laat swoeg. Na ‘n ruk is daar sulke eelte op jou handpalm, net onder die vingers. Boektas-dra-knoppe het ons dit genoem.

Nog erger as dit jou beurt is om saam met ‘n maat nog te dra aan die bliktrommel met ons vloerpolitoer toebroodjies. Dis wat ons die rooi gemengde vrugte jêm genoem het. Die koshuis stoepe, gange en trappe was met rooi vloerpolitoer blink gevryf.

Pouses moes ons in ‘n ry eenkant staan en ons broodjie in waspapier toegedraai gaan afhaal. Die dorpskinders sit en smul aan Melrose en Marmite broodjies. Jy kan nie eers probeer uitruil nie, behalwe as ons gekookte eiers, piesangs, Oros koeldrank of ‘n stuk witkoek by gekry het. Die kleintjies het menige pouse bitterlik gehuil. Wil nie vloerpolitoer op hulle brood eet nie. So boelie ons die kleineres en liggelowiges om nie brood te eet nie, meer vir ons groter kinders. Oorlewing. ‘n Vreeslike ding.

Ons klas juffroue was Rooies en Wieletjies. Rooies se van was Van Vuuren, en sy het rooi hare en ‘n humeur gehad. Daai liniaal op jou eelte, eina. Een dag is ons liederlik in die moeilikheid. Sy het so roesrooi fluweel rok, net so bo die knie gehad. En toe sy so voor die bord rek, steek  ‘n paar rekvalletjies uit. Haar langbeenbloemers wat iewers in die sestigs mode was!

Langs my het James gesit. Die twee hotkloue in die klas. James het gehakkel, en so snaaks geproes as hy lag. Ons twee kon nie ophou giggel nie, maar daar was nie ‘n manier dat ons vir Rooies kon vertel van haar bloemer se valletjies nie. Die uiteinde: Hoof se kantoor toe. Drie houe elk, myne op my hande en arme James streepsuiker boudlangs.

Wielietjies was so Michelin-mannetjie rond. Juffrou von Wielligh haar naam. Sy was sagter as Rooies. Baie geduld met my en James en ons lelike handskrifte gehad. Sy kon so lekker skud as sy lag. By haar het ek geborge gevoel.

Ag, die reuk van bordkryt en boeke, klanke van kinders op die speelgrond besig om ellies te gooi en rek te spring.

Die keersy as jy saam met koshuismaats jaareind se kant in die sportbussie skool toe karwei word. Die koshuiskindalleen as jy sonder pa en ma by die prysuitdeling jou sertifikaat op die verhoog gaan haal. Die lang rit op ‘n Sondag terug hok toe en daai sukkel om aan die slaap te raak omdat jy by die huis wil wees. Ek het vandag nog Sondagaand slaaptydweemoed.

Soveel kere van alleen voel, deurdruk en oorleef.

Dit alles as die melkbeker drup, die suiker spat en dan kom leef onthou weer en weer. Dis wanneer ouer en wyser jy jou kleintyd self troos en vertel ons is oukei. Morsige melkbekers en alleenwees en al.

Alles net tydelik.