Koffie moer verloor nie sy boontjie nie. As jy die HOC Home Blend sak oopsny en in die glashouer uitgiet, sal ‘n paar van die miniskule bliksempies alger oral heen bokspring, soos mexikaanse springbone. Veral as dit bejaarde onvas onvas oggendhande en onbebrilde oë is wat die oorgooi werk doen in die oggendskermerte.

Hulle sal oral uitspat en ‘n moeilike CSI toneel los om op te ruim. Lank na opruim, so teen oormore, sal jy nog ‘n korrel agter die suikerpot kry.

Ergste van die swetterjoel koffiemoer is dat met die met die plonser na benede se tog, ‘n klomp so wrintie verby die siffie sal krioel om te kom koffiemoer in daai laaste behaaglike slukkie koffie.

En dan. Nes Custer wat vir oulaas standpunt inneem sal hulle wrintiewaar in die lopende kraanwater wat wag om hulle in hulle moer, drein af te stuur, eers verspot soos ‘n kwetterjoel rooibek kweleas, laf in moer murmerasie formasie die wasbak om riel en te ramba en vasklou.

So een keer per jaar kom kwetterjoel swerms rooibek kweleas in die veld naby die plaashuis. Jy hoor hulle tweedle-toodle-tweedle – klink soos “kom ons eet alles op” met vlerkgeruis as begeleiding. Grassade het min skuiling teen die aanslag. Daar word oral in Afrika swerms van derduisende gesien en hulle word ook die geveerde springkane genoem.

Sleg vir oeste. Ook sleg vir die geelwewers en vinke wat binne die ringmuur van die tuin by my kamervensters in die witstinkhout nesmaak. Swaaiend leef hulle in hulle omheinde eksklusiewe woonbuurt, met volop water en smorens sesuur, al die voëltjiekos wat hulle hartjies begeer. Knus en onbewus van die wrede wêreld daar buite.

Nou in saad tyd, net so 500m van hulle swiesj-en swoesj die derduisende rooibek kweleas. ‘Kom ons eet alles op’ dreunsing die massa. ‘n Verkenner het die bakkies met voëltjiekos binne die ringmuur gesien. Binne minute hoor jy net ‘n geruis en kwettery, dan is die kos op, die skade is gedoen en hulle kwetterjoel verder na sadiger weivelde. Die vinke en wewers stomstil na die aanslag.

Wat interessant is van ‘n rooibek kwelea, en alle voëls wat so in massa formasie vlieg, is dat ‘n enkele voëletjie net fokus op die sewe ander naaste aan hom om dan hulle perfek te mimiek wat afstand, vliegspoed en rigting betref. Dit is hoe jy in ‘n massa optree en oorleef. Wanner hulle rus, pak hulle tot 500 in een kubieke meter saam!

Ek wonder toe, is dit wat met die swetterjoel ingebusdes by ‘n EFF protes in Brackenfell en Senekal gebeur? Jy hou net die outjies om jou dop, en hulle diegene om hulle, en gou is dit ‘n rooipet swerm wat soos een golf dreunsing en voerentoe beweeg. Skade aanrig en uitmekaar spat. Sulke kwetterjoele.

Hoe het ek nou by die EFF beland?

Ek was met koffiemoer besig.

Soos met baie dinge, word ek ‘n les met my moerige murmerasie geleer en ek lag vrolik terwyl ek net daar besef dat ‘n koffieboon gepluk, gerooster, gemaal word om seker te maak dat smulpape en koffiesnobs die volle geskenk van geur en smaak daar uit kan put.

Ek bid so lag, lag: As U my dan kom haal, laat ek asseblief moerig uitspattig bly, deur die gepluk en gerooster en gemaal van die lewe. Behoed my dat ek nie die massa volg nie. Tot die laaste oomblik wanneer ek na U Lig terugkeer.

———–

NS. As jy meer wil weet oor rooibek kweleas, gaan lees by onse blogvriend: https://dewetswild.com/tag/red-billed-quelea/

Ek weet hy sal dit waardeer. Dankie dat ek ‘n foto kon leen.