Rots, aka Pieter, wat glad nie elektronies bedrewe is nie (so glo hy) het ‘n ruk gelede ons toentertydse, trougeskenk-Pineware braaipan nuwe lewe gegee. Ek wonder hoe dankbaar ek moet wees, want haar bynaam is Mrs Beeton, gewild maar nie so betroubaar nie. Jy moet die temperatuurstelling dophou want 3 is soos 7. Ek gebruik haar wanneer ek kerrievis berei, en baie hoender moet gaar kry. Aandagvraat sy.
Mrs Beeton’s Book of Household Management is ‘n epiese publikasie wat in die Vikrotiaanse era ‘n moet vir middeklas vrou was omhul huishoudings te laat vlot. Haar man het die publikasie behartig en na haar afsterwe in 1865 het die gewildheid van die boek nie getaan nie. So deel van die Viktoriaanse samelewing het die boek geword dat ‘n karakter in een van Arthur Conan Doyle se skrywes in 1899, verkaar: “Mrs Beeton must have been the finest housekeeper in the world, therefore Mr. Beeton must have been the happiest and most comfortable man”.
Maar hier lê ‘n knoop. Mrs Beeton, of dan haar publiseerder man, het blatant plagiaristies met ander se kalwers geploeg. Skandalig, maar dit het klaarblyklik die leke van die lewe niks gebodder nie. Teen 1868 is meer as 2miljoen kopieë verkoop! Teen 1905 was die boek ‘n lywige 74 hoofstukke en oor die 2000 bladsye. Praat van Viktoriaanse moralisme. Pffft.
Daar is maar 23 bladsye aan huishouding in die boek, die res is ‘n miasme van teenstrydige kommentare. Sy meen mango proe soos terpentyn, pasta moet vir meer as ‘n uur gekook word, kreef is oneetbaar, kaas kan nie deur alml geëet word nie, aartappels is verdag, en oor tamaties kon sy nie haar mening vorm nie.
Verdedigers meen Mrs Beeton het resepte kopiëer, soos ons almal maar oor die jare maak: Tant Saar se Melktert, Ma se worsrolletjiedeeg, Thea se souttert, Nita se mieliepaai. Kritici reken as ons by Mrs Beeton sou leer kook het, dit nag sou wees. Daar is ‘n sêding in kulinere kringe: “Mrs Beeton could not cook, she could copy.”
Buiten Miss Beeton, kook en smook ek in my kombuis met ‘n klomp karakters. Dit het alles begin to die broodmasjien, (Ja, ek knie nie self nie, waarom moet ek as tegnologie dit maklik maak?), genaamd Ma Baker, haar intrek op die werkblad kom inneem.

Voor ek my kon kry heet die Kenwood Chef, Jamie Oliver, hy gaan net sy gang en basta. Danksy sy teenwoordigheid is ek nou bekend vir die lieflikste beskuit. Tant Hannie se krakelinge uit Dine van Zyl se Groot BoerekosBoek. Mensig, ek loop mooi gekroon rond as my huismense en kuiermense kwylend smorens die beskuit in hul koffie doop en dis net ‘oe en a’
Dan is daar Nigella, die seksie gietysterpot. Rond en gul en effe morsig. Sy en ek kook-braai die lekkerste goulash, kortrib en brisket. My oumas sit en skoppelmaai op die dak van pure plesier as die reuke van hulle huise uit Nigella my tuiste omgewe.
My vinnig kookvleis en sopvriendin is Julia. My betroubare 38 jarige Tedelex stoompot. Outyds in haar eenvoud, nie soos vandag se vreesaanjaende stoompotte nie. Kan ons twee darem nou lekker sop en bredies aanmekaar sit. Ertjiesop so lekker dik en romerig. Daar is juis vanmore so winterbyt wat my en Julia se seisoen aankondig. Albei goed gebrei deur jare, en so effe van ouderdom lekkerig. Hehe!
My ma het met hulle troue in 1957 so aluminium opskeppbak met ‘n deksel met so ronde bakaliet handvatsel ontvang. Dit het oor die jare Rots se braaibak geword. So twintig jaar gelede pak my skoonma en haar skoonsus die se moeder se huis op. Agter in ‘n kas, nog in plastiek, kry hulle ‘n bak identies aan die een wat geliefde Rots, Pietertjie vir hulle twee, gebruik! So kry ons twee bakke uit dieselfde era. Die meer gebruikte een van die twee se handvatsel breek middeldeur van harde arbeid. Rots vervang dit met ‘n braaikas handvatsel. Dit lyk heel oulik. Ons sit een aand en lag oor die genaamde goed in die kombuis en Bab kyk die twee braaibakke, een met die plat vatsel, die ander bonkig en lank. “En hier is Toks en Tjops.” Ons giggel nou met elke braai, en dis gereeld.


My liefling kookgenoot is pure Africana. Susann Naudé se lywige, Keurige kos. Ek deel Peter Veldsman se liefde vir die boek en het twee eksemplare. Een wat my ma as trougeskenk ontvang het en al rof om die rande van gebruik is, en een wat ek op Bid or Buy bekom het en in puik toestand op die boekrak tussen ander interessante kook- en reisskrywes haar lê gekry het.
‘n Ander gunsteling kookboek is so wit ene, en voor in is ‘n skrywe van my Aardrykskunde onderwyser in matriek. “Aan Erna, vir uitsonderlike prestasie in Aardrykskunde.” Ek sal daardie prysuitdeling nooit vergeet nie. Ek was die enigste matriekdogter in die skool wat nie huishoudkunde geneem het nie. Die hele matriek rooster moes rondom my rangskik word. Ek het alleen in die biblioteek my werk moes doen, met meneer, wat houtwerk vir die seuns moes leer, wat so nou en dan kom inloer of ek regkom. Ek het met groot verwagting verhoog toe geloop met die opwinding dat ek aans ‘n lieflike reisboek of atlas in my hand sou hê. My gesig het die onderwysers laat skaterlag en toe ek die boek omhoog hou dat die skool kan sien – vergeet ‘n goeie graptoneel in ‘n flike. Dis wat jy kry as jy een van tien matrieks in ‘n klein Oos-kaapse skool is. Vandag maak ek ‘n bevange lekker pizza danksy my aardrykskunde prys.
Tannie Susan, Jamie, Nigella, MaBaker, Mrs Beeton en vele ander kookgenote het hierdie linkshandige onsekere kok al baie selfvertroue gegee. Ek wat as kind liewer kombuis uit gestuur is oor ek mors en onhandig met messe lyk, wat die familie boekwurm geword het, kan kook. En ek geniet dit. Vreeslik.
Die vertroue het juis uit my lesery ontstaan. Ek het nie net storieboeke gelees nie. Ek het resepteboeke en woordeboeke ook gelees. Wys jou nou net as woorde reg gesnoer is, kan dit vele onontdekte en onontwikkelde talente ontgin. Viva geletterdheid.
Laastens, my daaglikse genote in die kombuis is al die oumas se erdeskottels, ons maak bruinbeskuit aan, skil groente, meng frikadelle, en so aan. My Biebs het gesorg dat die geskiedenis my toeval, sal haar ewig dankbaar bly.
Wie is jou kookgenote. Naam jy hulle? Gesels saam toe!
NS. Daai twee lieflike butternuts kom uit my Eli se eie groentetuin agter haar HOP huisie. Een Maandagoggend kom sy by die werk met die twee pampoen. “Dis vir jou, wat soveel uitdeel, en nooit iets in ruil vra nie.” My hart het oorgeloop van seëninge.
Ag lekker! My kookgerei het nooit name gekry nie maar hulle was ook geliefd: die kleipot vir hoender, die enemmelbak om braaivleis uit te skep, die raserige malertjie wat in ‘n japtrap krummels gemaak het. (Muis die hond het my kookboek “Boerekos” van Dine van Zyl opgevreet, dit was seker die voorloper van die latere groot een.)
LikeLike
Dankie vir die inloer en saamgesels, liewe Frannie. Lekker kookgenote is troue vriende. Ek het weer ‘n heilige boekvreter genaamd Patricia gehad. Leeromslag Bybel in confetti verander. Haar niks tot bedaring gebring hie, net stouter geword.🤣😉
LikeLiked by 1 person
Sjoe, ek het nou lekker gekuier daar in jou kombuis wat jy met soveel passie beskryf. Woordsnoere en resepte. En toestelle wat ou vriende geword het. Nee, ek kan nie eintlik saamgesels nie, want ek bly verkieslik weg uit ‘n kombuis en ek is ook nie ‘n fynproewer wanneer dit by kos kom nie, maar dit klink opwindend.
LikeLiked by 1 person
Kosmaak is deel van my liefweestaal en seker omdat ek so geterg is in my jongdae, ‘n passie geword. Die genote praat nie terug nie, hehe.
LikeLiked by 1 person
Watwo name van skottels onthou, jy het my nou lus en honger gepraat. Jou skrywe het my nou lus vir kuier om ‘n geskropte tafel in die middel van die kombuis met einste beskuit en boeretroos. Eens op ‘n tyd het ek dit net so geniet om te bak en brou maar vandag het ek my laaste aartappels pikswart verbrand op die enorme gasstoof waaraan ek nou moet gewoond raak. Ek het nietemin lekker gekuier in jou kombuis 🥰
LikeLiked by 1 person
Jy kom mos een van die dae by my uitspan. Glo ek kinnerlik.
LikeLike
Oooo ek glo ook so. Sien so uit daarna!🥰
LikeLiked by 1 person
Ek het ‘n vriendin wat Mrs. Beeton se boek het. Dis ongelooflik wat alles daarin aangespreek word. Gee nogal ‘n goeie beeld op die lewe tydens daardie tyd.
Ek is soos Hester…hou my uit die kombuis uit!
Lekker gelees en geniet hoe jy alles name gee. Laat kook en bak sommer lekker klink, selfs vir iemand met kombuisaversie soos ek.
LikeLiked by 1 person
Ek is bly as jy dit geniet het. Jy moes darem baie etes gekook het vir jou krose….dan mag mens uittree😘😉
LikeLiked by 1 person
Ek het, maar dit was sleg-aanmekaar-geflansde-etes.🤪
LikeLiked by 1 person
Grapjas, jy. Kyl hoe gesond en fraai is jou kroos.💝
LikeLiked by 1 person
Tot vandag toe het hulle geen fiemies nie, want hulle moes maar eet of hongerly.
LikeLiked by 1 person
Dis meestal hoe ons gebalanseerde kinders groot kry.😉
LikeLiked by 1 person
Heerlik in jou kombuis gekuier….. boervrou duisend. My Kenwood wat kon klits, rasper en nog ‘n paar tricks uithaal was my beste vriendin in die kombuis.
LikeLiked by 1 person
Jamie en MaBaker is my deeg knie bestes 😉
LikeLiked by 1 person
Jy is ‘n voorslag kookster. My man het vir my ‘n stel AMC potte gekoop(omdat hy met die persoon wat dit verkoop het geflirt het) Hul het lekker gekook omdat dit nie maklik aanbrand en ook maklik skoonmaak. Ons het so ‘n braaipan van sy ma ook geërf. Nie veel gebruik want soos jy sê hy moes fyn dopgehou word. Ek het vir myself n vol stel messe en vurke gekoop terug in begin van my skoolhou jare vir ingeval! Nou wonder ek wat ek daarmee gedoen het? Ek het dit dink ek hierheen gebring. Sal moet gaan ondersoek instel want skoondogter het my gehelp trek na hierdie huis en het alles net sommer weggedoen. Wou dit eintlik aan Bertus oorlaat as erfstukke, tusk! Hoe vervies ek my nou. Oukay, genoeg geklets. Jy skryf darem baie lekker.
LikeLiked by 1 person
Lyk my ek het mense na die hoeke van hul kombuiskaste laat kyk…😉 Dankie vir die inloer en saamgesels.
LikeLike
Haha, ek het toe onthou waar ek my messestel gebêre het.
LikeLiked by 2 people
Jy is seker verlig.😉
LikeLiked by 1 person
Ek is beslis verlig. Sal dit maar aan Bea bemaak.
LikeLiked by 2 people
Hoe wonderlik om in jou kombuis te kuier! Ek het so gelag oor jou matriek aardrykskunde boekprys – ek het “Bosman at his Best’ vir my prys gekry. Kan jy glo ek het dit eers drie jaar later vir die eerste keer gelees en sommer met Herman Charles Bosman se stories verlief geraak!
LikeLiked by 2 people
Hi Anne, so bly jy het kom kuier en lekker gelag. Ja, die dinge wat mens beleef nè.😉 My Rots en ekke vergaan oor Bosman, dis goed jy het die boek oopgeslaan, dis van ons literêre juwele, Bosman se stories en styl. Wees veilig. Groetnis.
LikeLiked by 2 people