Dié druppel vasgevang in die woestynrosie op die stoep verteenwoordig 58mm reën op Waterval.

En toe breek mooiste, mooiste Oktober aan. Dertig minute die eerste dag van die maand in, maak iets my uit daai lekker droomlose slaap wakker.

‘Is dit, kan dit wees,’ klop my hart.

Dis donderweer.

Ek lê en dink hoe ons Bab se kleintyd bang vir die swaar donderweer besweer met die storie dat iemand die erfstuk vaas omgestamp en nou kry die engeltjies raas by Pa en net nou gaan hulle trane die aarde tref. Ek glimlag en staan op om vensters toe te maak en die brakke in die kombuis se komberse oor hulle te trek. Klomp brokkies in my huis.

Dink by myself, dié is nie net ‘n vaas waaroor geraas word nie, hierdie is groter. Die hemele kondig aan dat iets goed kom, dat iets verander het. Liewe Vader, dink ek ons het dit so nodig. Nuwe hoop, nuwe rigting. Die donder en bliksem bênd is besig om reg te maak om die nuwe seisoen met ‘n konsert in te lui!

Die perfekte perkussie van die donder dromrol kom van ver tot oral om. Die helder skal van die bliksemstrale verlig die donker, en bewe tot in my oortromme, en dan breek die hemele oop. Ek bid woordloos dankie. Die druppels swaar gelaai aan natuurlike stikstof plof neer. Dit raas op die sinkdak, salig. Halleluja rock en en die druppels uitbundig. My gesin en brakke slaap salig hierdeur. Hulle verlies.

Ek sluit saggies die stoepdeur oop en staan en kyk. Verlang na my pa wat altyd in Swaziland tot my ma se ontsteltenis die kamer gordyne oopgetrek het en dan in verwondering na die skouspel van die blitse van ‘n elektriese storm gadegeslaan het. Ek en my sussie het altyd na hulle kamer gehol en by ma in die bed geklim en dan bang bang oor die kombers geloer na ons pa se silhoeët in die weerlig.

Ek ruik hoe stof modder word aards, oer en loflik, daai reuk. Dis hoe hoop en glo ruik, sowaar.

Ons het gister 52mm en vanmore 18mm uit die reënmeter gegooi. Oorvloedige seën. Dit het op die dorp gehael, ag jinne. Ek kan net vertel dat alles op Waterval sing. Dis die meeste reën in jare. My vuisboek vertel dat ek vandag in 2009 so vertel het:

“Dit reën! Kom ons sing saam” “Loof die Here, alle nasies! Prys Hom alle volke! Want Sy goedertierenheid is geweldig oor ons, en die trou van die Here is tot in ewigheid. Halleluja!” (Ps 117)”

Kom kyk hoe vrolik is my plante oor die verligting. Sweerlik, mens hoor die gras groei.

Ons verwelkom op die reën nat oggend vir Rusty die roes-oranje bougainvilla. Ons arme pers flamenco-vrolike Bougie het net te seer gekry met haar slanke stam teen die ysige brand wind van die afgelope winter. Rusty staan vas en laag, ons weet sommer sy sal dit maak.

Terwyl ek hier sit en skrywe, rammel dit al sedert ligdag, ons per-poer al twee dae met ‘n kragopwekker, want die perfekte perkussie van eergisteraand se donder en bliksems het ‘n kragpaal iewers getref, en Eishkom stuur net “sorry for the inconvenience” smse. Dis reg so liewe Eishkom, ons sal wag, want die reën, ons suster het gekom met emmers vol hoop en verwagting, en ons het veral hierdie jaar tot dusver geleer dat glo, hoop, omgee en dankbaarheid ons deur enigiets kan bring, en ek het tot hoop vir julle met julle nuwe sie-ie-ou de Ruiter.

Dit was gister ook nog volmaan, jagtersmaan roep die maankundiges dit. Hier by ons het sy oranjerooi opgekom.

2 Oktober volmaan, Jagtersmaan gekiek op 2 Oktober 2020, die wolke het spesiaal vir ons die skouspel ook laat beleef voor hulle weer ons oordek het en nog 18 mm gereënt het!

Psst, jy wat hier lees:

Ek hoop by jou bring die nuwe seisoen ook verligting en sakke vol seëninge. Lekker naweek. Wees veilig.