
En toe breek mooiste, mooiste Oktober aan. Dertig minute die eerste dag van die maand in, maak iets my uit daai lekker droomlose slaap wakker.
‘Is dit, kan dit wees,’ klop my hart.
Dis donderweer.
Ek lê en dink hoe ons Bab se kleintyd bang vir die swaar donderweer besweer met die storie dat iemand die erfstuk vaas omgestamp en nou kry die engeltjies raas by Pa en net nou gaan hulle trane die aarde tref. Ek glimlag en staan op om vensters toe te maak en die brakke in die kombuis se komberse oor hulle te trek. Klomp brokkies in my huis.
Dink by myself, dié is nie net ‘n vaas waaroor geraas word nie, hierdie is groter. Die hemele kondig aan dat iets goed kom, dat iets verander het. Liewe Vader, dink ek ons het dit so nodig. Nuwe hoop, nuwe rigting. Die donder en bliksem bênd is besig om reg te maak om die nuwe seisoen met ‘n konsert in te lui!
Die perfekte perkussie van die donder dromrol kom van ver tot oral om. Die helder skal van die bliksemstrale verlig die donker, en bewe tot in my oortromme, en dan breek die hemele oop. Ek bid woordloos dankie. Die druppels swaar gelaai aan natuurlike stikstof plof neer. Dit raas op die sinkdak, salig. Halleluja rock en en die druppels uitbundig. My gesin en brakke slaap salig hierdeur. Hulle verlies.
Ek sluit saggies die stoepdeur oop en staan en kyk. Verlang na my pa wat altyd in Swaziland tot my ma se ontsteltenis die kamer gordyne oopgetrek het en dan in verwondering na die skouspel van die blitse van ‘n elektriese storm gadegeslaan het. Ek en my sussie het altyd na hulle kamer gehol en by ma in die bed geklim en dan bang bang oor die kombers geloer na ons pa se silhoeët in die weerlig.
Ek ruik hoe stof modder word aards, oer en loflik, daai reuk. Dis hoe hoop en glo ruik, sowaar.
Ons het gister 52mm en vanmore 18mm uit die reënmeter gegooi. Oorvloedige seën. Dit het op die dorp gehael, ag jinne. Ek kan net vertel dat alles op Waterval sing. Dis die meeste reën in jare. My vuisboek vertel dat ek vandag in 2009 so vertel het:
“Dit reën! Kom ons sing saam” “Loof die Here, alle nasies! Prys Hom alle volke! Want Sy goedertierenheid is geweldig oor ons, en die trou van die Here is tot in ewigheid. Halleluja!” (Ps 117)”
Kom kyk hoe vrolik is my plante oor die verligting. Sweerlik, mens hoor die gras groei.




Ons verwelkom op die reën nat oggend vir Rusty die roes-oranje bougainvilla. Ons arme pers flamenco-vrolike Bougie het net te seer gekry met haar slanke stam teen die ysige brand wind van die afgelope winter. Rusty staan vas en laag, ons weet sommer sy sal dit maak.

Terwyl ek hier sit en skrywe, rammel dit al sedert ligdag, ons per-poer al twee dae met ‘n kragopwekker, want die perfekte perkussie van eergisteraand se donder en bliksems het ‘n kragpaal iewers getref, en Eishkom stuur net “sorry for the inconvenience” smse. Dis reg so liewe Eishkom, ons sal wag, want die reën, ons suster het gekom met emmers vol hoop en verwagting, en ons het veral hierdie jaar tot dusver geleer dat glo, hoop, omgee en dankbaarheid ons deur enigiets kan bring, en ek het tot hoop vir julle met julle nuwe sie-ie-ou de Ruiter.
Dit was gister ook nog volmaan, jagtersmaan roep die maankundiges dit. Hier by ons het sy oranjerooi opgekom.

Psst, jy wat hier lees:
Ek hoop by jou bring die nuwe seisoen ook verligting en sakke vol seëninge. Lekker naweek. Wees veilig.
Ai dit is nou so mooi geskryf, en ek is werklik dankbaar dat julle soveel reën gekry het. Waterval moet prentjiemooi wees as ek die fotos so bekyk.
LikeLiked by 1 person
Oe, Kameel die voëltjies is uitbundig en die gras, ek sê vir jou ek hoor dit groei.😉🤗💝 Dankie dat jy my goete en snoere kom lees. Mwah.
LikeLiked by 1 person
Jy skryf so mooi… ek wag vir daardie boek wat geskryf moet word.
LikeLike
🤭📖
LikeLike
Jinne vriendin, dis so mooi geskryf, ek kan eintlik jou opgewondenheid aanvoel. Mooi foto’s en ek is saam met julle bly oor die baie reën. Ons kry ook goed reën en beide Eskom en Telkom hou nog die kleisels vas – ons hoop dit bly so.
LikeLiked by 1 person
Ek bak nou ‘n hond uit ‘n bos, die ‘inconvenience’ is oor na volkrag! Whoohoo. Dankie dat jy my griffels geniet.💝
LikeLiked by 1 person
Altyd vir my kinders gese: Liewe Jesus skuif Sy meubels. As hulle bang was vir weer. Reën is so blessing, ons kort ook reen, dit lyk hoopvol. Dalk die naweek. Nuwe seisoene in die natuur en my lewe is altyd n lekkerte
LikeLiked by 1 person
Dis nou oulik, meubels wat geskuif word. 💝 Dis my gunsteling seisoen en tyd van die jaar.
LikeLiked by 1 person
Ag dis sommer hart-sag-maak mooi!! Kan nie wag om die mooi in jou omtes self te kom sien en saam te verwonder oor die Mooi en Goed en Hoop…
LikeLiked by 1 person
Eendag gouer as wat ons dink.💝
LikeLike
🥰
LikeLike
Pragtige fotos en nog pragtiger geskryf. 💕
LikeLiked by 1 person
Dankie my kunstige blogmaat.🤗
LikeLiked by 1 person
💞
LikeLike