Hallooooo!

Genade, ek is skoon uitasem. Julie het sommer net gevlieg. Hallo en koebaai nog voor ek ‘n oog kon knip.

As ek so op die leser koekeloer, het die blitsigheid ‘n klomp bloggers onverhoeds betrap. Dis maar drogerig, ons skryfmuses in hibernasie. So. Kom ons maak tee en gaan sit soos kinders langbeen teen ‘n muur waar die sonnetjie ons kan ontdooi. Lekker plat op ons boude met ‘n lekker koppie heuningtee.

Ek is weer vandeesweek kort-kort onverhoeds deur die mooi in eenvoudige dinge betrap. Die loutere vreugde in die malse geur van varsgemaalde koljander, wat ek self tot wasdom gebring het.

Om my Rots se gunsteling hartstigting beskuit te bak en saam met die meel, liefhê in te sprinkel.

Daai asemsnak mooi in die sonsopkoms deur die vetplant se pienk nuwe blare en sy loer-loer deur die akasia se takke.

Die vlinders wat nader fladder want die Lui Huisvrou staan vol nektar koppie beskaamd.

Ek verwonder my aan die ragfyn rak wat splinterskitter teen die wasblomblaar se groen. Wonder of Charlotte hier bly?

Die sagte vanielje geur as ek verby die vrolike geel van die Jessamine by die waskamer stap. (Kliek en gaan lees oor die plant wat eintlik giftig is. Gelukkig metaboliseer bye die gif, en ek is nie in die vergif besigheid nie – hehe.)

Hier by my is daar soveel opgewondenheid.

Ons gaan om ons 35e huweliksherdenking (4 Augustus) te vier, ‘n week lank Graaff-Reinet. By Stokkies se woonstel woon en by ons huisie te kan werk. Die vloerteëls word gelê!

Ons restoureer en bou net as ons kan kontant betaal. Niks lenings, niks skuld nie. Ons het op die pad besluit toe ons destyds agteruit op die plek gebie het! Ons het nou al haar geskiedkundige deel vir nog ‘n paar jaar opgeknap, ‘n moderne versteekte deel aangebou – voorhuis, stoep, kombuis, badkamer, waskamer, die tuin begin vestig, die plek omhein en teen diewens beveilig, al is dit tans net ‘n dop.

Die huisie en toekomsdroom is nie faikonta nie. Mooi woord. Beteken kamma, speel-speel, dagdroom, fantasie.

Julle sal nie glo nie, ‘n skelm het net nou die dag ‘n sydeur oop geskop, alarms aktiveer en oor skerp palisade en Jesuskroondoringbos probeer ontsnap met ons tuinslang! Paasnaweek in die selle spandeer en ons tuinslang nou stille getuie van die man se simpel fout.

Ai, bedwelming het nou die mens tot ‘n simpele daad oortuig. Die mense wat ons huis langsaan huur vertel hy het om die dood toe nie die tuinslang laat los nie. Hy is in die vangwa geboender met die stuk plastiek vasgeknyp in sy arms!

Op ‘n grappige noot. As jy weer iemand met slap handjies en houding wil insê, noem hom ‘n tuinslang – ‘n lang slapgat met rubber om! 😉

Ek kom agter my mede-Towerinne het erge faikonta koors. Ons sal plan moet maak dat daar weer ‘n Toweropstalagtige avontuur of groenbustoer of iets derglik gebeur. Lyk my Rebusfontein en die Rebusrus Amfiteater is nie genoeg vir die rustelose siele nie! Hehe!

Viva

My super-viva gaan aan Siki Jo-An, in my hart die wenner van The Voice SA. Ek sal graag ‘n opvoering van haar wil beleef. Luister net:

O, en viva aan die Ndlovu Jeugkoor wat die Amerikaners bekoor. Trots is ek om te weet hulle is Limpopo kinders!

‘Tsek

My ‘tsek is die winterblues en almal se swarthonde wat aan ons gemoedere kou. Ek het vir my Bloubekruip in gate gegrou, in my nuwe kruiepotte, hom kaalgekseer met elke dooie blaar entak wat ek en my Eli vandeesweek afgesnoei het. Hy tjank lekker. Ek voel goed!

Hier is ‘n plan om die swarthond te besweer, gaan plant iets en kyk hoe dit groei. Beter dae is aan die kom! Dis ook nie faikonta nie!

Koebaai

Ek moet waai om te pak en more saam met my Rots suid te ry. Na onse Graaff-Reinet toe. ‘n Week se blaaskans en siel voed in ons geliefde Camdeboo.

DV sal ons Sondagaand oor die Vallei van Verlatenheid kan kyk as die son sak en ons hande in lof lig om dankie te sê vir ons jare saam. Ek weet my Pa gaan in die wind kom en oor ons waai: Dis vir My mooi, julle twee saam. ‘n Drie dubbele tou breek nie!”

Tot ons volgende stoepkuier. Wees goed vir jouself.