Ek gesels vanmore met ‘n mater oor mense, opinies, en vry spraak. Ons moderne samelewing maak soveel gelag van regte – gender, kultuur, ras, geloof. Bykans elke situasie in die lewe moet deur verskeie lense betrag word alvorens jy ‘n opinie huldig en waag om dit te lug. Vryspraak kry jy nie.

Die taalpolisie, die kultuurpolisie, die raspolisie die godsdiens polisie staan geprogrammeer met verontwaardiging, reg om jou goed te knuppel en kasty.

Dit maak van vry spraak ‘n klug. Dit maak individuele denke dood. Jy kan maar nie waag om iets van jou borskas af te kry nie, iewers gaan iemand geaffronteer voel.

Ek huldig ‘n leef en laat leef houding, meestal. Daar is goed soos wreedheid teenoor kinders, diere, bejaardes en hulpeloses en uitbuiting van mense wat my hartjie naar maak en my brein links laat fok. Pretensie en valsheid kry my ook maklik moermeterrooi. Oe, en dan valse poletieks. Ek swyg liewer.

Wyse woorde wat verkeerdelik aan Voltaire toegedig word bly my by:

Ons is elkeen uniek bedraad, en elkeen van ons het ons enige stempel om af te druk, ons ou merkie op die lewe te laat. So ons almal het vry spraak, maar ons moet dit ook vir mekaar gun.

Oor die wyse woorde, net die staaltjie. Evelyn Beatrice Hall het in 1906 die boek ‘Friends of Voltaire’ onder die skuilnaam S.G. Tallentyre geskrywe. As vrou kon sy nie haar sê, sê of skryf, skrywe nie. Ironies dat sy die wysheid neergepen het. Dit was om ‘n ommeswaai in Voltaire se houding teenoor mede-filisoof, Helvétius te beskrywe. Vandag word dit oral op die Vuisboek en Kwetser foutiewelik aan Voltaire self toegedig.

Terug by vryheid en regte. Ek is so keelvol dat mense menings huldig, dit publiek maak, plek vir kommentaar laat en sou jy waag om te verskil word jou hakskeensenings summier gesny, dat jy bloeiend eenkant bly lê. Wat het van gesprekvoering en debat geword? Wat het geword van die mooi “ek en jy stem ooreen om te verskil, kom ons skink ‘n glasie wyn daarop en gaan aan. Dis net opinies. Wie weet wie is reg’?

As die pad wat jy loop geloop is, is dit jou eie keuses wat bepaal waar en hoe jy geloop het. Elkeen die meester van sy eie reis. Ons durf nie vir ander probeer leef of besluit nie. Gun elke diertjie sy plesiertjie, miskien sal dit dan vir jou ook gegun word.

Maar ons doen dit maar moeilik, ag ja. Kom ons lag maar daaroor.

Hier volg is van my gunsteling snaaksies oor ons kwaaigeite met mekaar, veral die baie sleutelbordkrygers oral waar die QWERTY sleutels blykbaar reg lê as koeëls om ander af te skiet pleks van op te bou en ruimte te gun.

(Die blad wat die pittige opmerkings plaas is ‘Blessed are the Weird‘ op die Vuisboek.

O, voor ek my relaas stopsit. Dis regtig hartseer om te merk dat blaaie wat ons taal ontgin en vier ook met venynige, pendante sleutelbord soldate bewaak word, en mense verneder en verguis, eerder as om goedgunstig vrae te beantwoord. Swak spelling is tekens van die tyd. Sou reken dat mens eerder iemand privaat reghelp, en maar te onthou dat ons maar almal soms foute maak.

Self sukkel ek met my leesbril, dom vingers, haastige dink en sleutelbord vernuf wat nie altyd saamwerk nie. Ek trag om mooi te skrywe, maar net mens is ek beslis. Gelukkig het meeste toeps redigeer opsies.