So 100 kilometer noord van Colesberg voor jy die Oranjerivier oorsteek, verander die plat Vrystaat landskap. Oral slaan koppies en rante uit.

My hart klop warmer. Dis of die heelal vir my kom bevestig: “Welkom, jy tree nou jou siel se spasie binne.”

Hierdie gewaarwording is eg en konstant, al het ons die roete oor jare al by herhaling afgelê.

Sondag 4 Augustus 2019 was dit is nog meer besonder. My Rots en ek is 35 jaar getroud.

Die reis na ons geliefde Graaff-Reinet is ook vanjaar ekstra spesiaal, want vrede en liefde het weer tussen my en my enigste sus kom woon. Ek dank die Liewe Vader wat ons help om in genade met mekaar saam te leef. Dat ons band versterk en inniger is. Grootste herdenking geskenk wat ek kon kry. Dis nou behalwe die jare se sout en soet saam met Rots.

Maar terug na my reis suid, na die hart van my land, na die plek waar ek die beste weergawe van myself is. Rustig, kalm.

Vir Rots is die proses altoos bietjie stadiger. Ek verstaan dit. Hy moet ons veilig oor die ver paaie heen kry, die bakkie sleep ‘n ton teëls en beskuit en bagasie. Hy moet steeds ekonomie bedryf, die kunsmis moet gelewer word en die kaggels installeer nie hulself nie.

So elke dag verlede week, met die werkers fluks aan teëls lê, sit hy rustig, eet sy Corn Flakes (net Kellogs deug) en blokraai. Dan sal hy op die bank so uiltjie knip, en skaam wakker skrik. Maar dis hoe mens stadiger leef. Doelbewus. Tot die saligheid jou oorspoel.

My V wat my huis en werf op Graaff-Reinet teen mot en roes en diewens en Karoo stof in ons afwesigheid onderhou, vertel my van ‘n Oompie en Tannie wat een oggend saam in die taxi gery het. Hulle is 56 jaar saam. Die Tannie het die jong klomp vermaak met staaltjies oor hoe hulle in ‘n sinkhuis saam lewe begin maak het. Vandag is hulle afgetree in hulle eie huis van steen. Sy vertel Oupa maak vir hulle koffie en dan sit hulle saam op die stoep en kyk hoe hulle agterkleinkinders op die werf baljaar. “Ons is nou lewensbroer en -suster, ons siele een.” Dis vir my hartroerend mooi.

Arme V het dit maar hotagter met my in die kleine spasie. Ek het plantluise van my mooi kaktusse gaan afvee en was. Sy is met wasgoed besig. Ek gaan sit my vuil katoenhandskoene in die wasbak waar die wasmasjien se water moet uitloop, en ja, die plek oorspoel. Ons het met besems en kaalvoet moes water uitvee!

Die mannetjieswind was Donderdag heeltemal rammetjie uitnek. Skop stof op soos net in die Karoo. Dit grint op die tande, maar raai, hy ruk sommer klomp spinnerakke in my siel se hoekies los, maak skoon, waai nare goed weg. Hy kan maar stuitig wees soos hy wil, sy gejol deur die peperboom se blare en straat af maak my nie een stukkie bekakkerig nie. Ou Bloubekruip hou van wind wat mistroostig om hoeke huil. Hierdie Karoo wildheid stuur vir hom kas toe. Hehe!

Ons besluit om ‘n dag langer te bly – ons het nooit uitgekom by berg op om oor die Vallei van Verlatenheid uit te kyk nie. Bouwerk en restourasie maak mos van vaste programme en planne ‘n warboel, en tyd, wat sal ons nou daaroor sê! Glipperig soos kwiksilwer in die palm van jou hand.

Sondag lei ‘n pragtige vrou wat op Murraysburg dominee, die erediens. Groot Kerk is nou twee gemeentes nou een, dis ‘n wonderlike verhaal.

Die kerk is voller as gewoonlik. Daar was ook verskeie reünies op Graaff-Reinet. Dit was die jaarlikse Interskole naweek. Wanneer Volkskool en Union weer die oorlog besleg. Vanjaar het Volkskool skoonskip gemaak – rugby en hokkie gewen. Klomp tevrede oud-leerders was in die kerk.

Dis doop Sondag. Twee babatjies is verwelkom in God se Huis. Rots en ek beleef ‘n wonderlike kleinbekeer warmte. Toe ons Maandag-oggend boekevat in ons Karoo-woonstel om ons week te begin, lees ons Josua 1:1-9. Daar waar God vir Josua drie keer verseker dat Josua maar vas en seker die toekoms kan inloop, Hy sal altyd by Josua wees. Nie een keer nie – drie maal kry Josua in die kort gedeelte die versekering. Hoe wonderlik om te weet ons is nooit alleen nie, maak nie saak waar ons is of waarmee ons besig is nie. Of dit werk is, of toekomsdrome, God is altyd by ons.

Die mooie boodskap en versekering aan die kindertjies ten doop gebring en vir elkeen van ons daar kom uit Josua 1:1-9. Ek bid: My Here, My God, U is wonderbaar en U is lief vir ons en U belofte aan Josua, dis ons s’n ook.

Uiteraard was Maandagoggend ‘n swaar afskeid. Die arme werkers en V het verslae toegekyk toe die 60-jarige vrou van die huis snot en trane uit Great Expectations gestap kom. Pas na ek by die eeu oue kombuiskas vir die Here dankie gesê het vir al die seëninge en om Rots en my te help om aan te hou ‘bietjie-bietjie-maak-baie’ en vir genade dat ons wel hier sal kan kom ouer wees.

Soos ek met maats op die Vuisboek gedeel het, as daar onverwags reën oor die dorre Camdeboo uitsak, my trane is daar! Dit is bitterlik droog en hartverskeurend om die dam buite die dorp te sien woestyn.

Ons is veilig tuis en die lywe en harte al minder stram na die terugreis. Sielspasie deeglik beset en benut.