Ek lees gister dat mens elke oomblik van elke dag moet lewe asof jy die laaste trein gaan verpas. Watwou. Dit klink te vreeslik gejaagd en asof mens so op die moontlike verpas van die trein gaan fokus, dat jy vergeet van elke oomblik se wonder en asem en alle mooi en goed gaan verpas. Dit sal ek nie wil nie.

My geloof is gebou op Jesus se woorde in Markis 14. Daar toe die mense Hom wou uitvang omdat Sy radikale vernuwende denke oor God en ewigheid hulle uit gemaksones geruk het. Daar toe Hy al geweet het waarnatoe die trein sal lei.

Kalm en rustig in die vreeslike oomblik vertel Jesus van God wat ‘n God van lewe is, nie van dood nie. Ons, sy kinders sal lewe vir altyd. Dat ons mag lewe asof ons hartewens reeds vervul is. Want dit is. Jesus het daarvoor gesorg. Ek kan in die vaste wete leef elke oomblik. Die trein sal ek nie verpas nie.

Daarom waardeer ek elke oomblik. Of hy nou haastig of rustig, vrolik of seer, ek leef doelbewus en bewus in elke oomblik. Saam met God, immer en ewig by my.

Sy liefde onverganklik in my oomblik van seer, kwaad, vernedering, woede. Hy is die vastigheid waaraan ek vashou wanneer ek keuses maak. My vastigheid as ek struikel en vou. Nooit verlaat Hy my nie. Nooit verpas ek die trein nie. My Kondukteur wil niemand op die stasie agterlaat nie.

Selfs al raak ek aan die dwaal in my oomblikke deur terug te kyk, pleks van hier en nou wees, of as ek vorentoe raai en kommer, wag Hy vir my hier en nou.

In die seepbel reënboog van die skottelgoedwater, my man se soen op my wang, my kind se “dankie Mamma,” die warmte as skuins befoeterde Kodakoos hond op die bed klim en met sy lyf styf teen my rug sy lê kry, die lievenheerbesie op die agapantblaar en die pêrelskulp verukking van ‘n sonsopkoms.

Dankie Here, vir u Seun wat ons ewige treinkaartjie kom gee het. Dat ons rustig in ons oomblikke kan leef. Dankie vie U liefde vir ons, kleine mensies. Amen.