Toe Bab nog jonger was, was McLeod’s Daughters ons twee se gunsteling ma-en-dogter, kom ons kry springmielies en kyk saam, reekse. McLeod se dogters se durf en drif en lief en leed sommer net geniet.

Op ‘n goeie Saterdag, toe ons nog aan die voet van die Ysterberg gewoon het, is almal op die plaas of weg vir die naweek, of dorp toe. Ek en die honde stokalleen op die werf. Rustig. My tyd.

Die honde se geblaf lok my na buite. Daar staan Miriam, die voorvrou van die suurlemoen boord by die hek. Sy roep ek moet gou kom, daar is ‘n koei in die water krip. Dié is besig om te versuip.

Nou ja, wat sal mens maak. Die dier is in die moeilikheid. Ek spring in die bakkie. Ou vissieplakkies aan my voete. Ek gaan mos net kyk wat gaan aan.

Miriam spring by die hek voor by my in. “The cow, she is very tired. I cannot help her alone.” Dis toe ek besef, dis net ons twee vroumense.

By die kamp aangekom, sien ek dat ek nie die bakkie naby sal kan stop nie. Ek parkeer en strompel met my rubberplakkies deur die veld. So halfpad sien ek die arme koei met haar neus net so bokant die water. Moeg gespartel op die slykerige bodem en die krip se muurtjie net te hoog om oor te trap. Ek vlieg om om ‘n stuk nylontou wat Rots altyd agter die sitplek hou te gaan haal.

By die krip sien ek tot my verbasing ‘n jong man sit. Ek vererg vir my. “Come and help,” roep ek. Miram sê hy wil nie, want bees oppas is nie sy werk nie.

Dis ook nie my blêrrie bees nie, maar mens doen wat jou hande vind om te doen. ‘n Krisis is ‘n krisis. Die bees hoort aan iemand wat weiding huur. Ek sê vir Miriam om hom mooi te vertel dat sy houding nie vir my saak maak nie, maar as hy ooit sou hulp nodig kry sal ek ook maar net my skouers optrek. “En vertel hom sy ouma sien hom,” sê ek terwyl ek in die krip klim om die tou om die koei se horings te probeer vasmaak.

Die strategie werk. Gou is ons drie in ‘n verbete stryd gewikkel om die koei net op haar voete te kry. Naderhand het ons met ‘n helse gespook die dier so half regop en ek sê vir die mannetjie om buite te staan en die toue styf vas te hou. Sal hy warempel weer begin met “I’ts not my job.” Ek sal nooit weet wat Miram vir hom toegesnou het nie. Hy het gaan staan en daai toue vir lewe en dood styf getrek gehou. Ek het bakkie toe gehol, met die nat modder plakkies, en wragtig daar breek een! Maggies maar so spul duwwetjies laat mens les opsê. Ek voel nou nog daai brand.

Asof die heelal saamsweer is daar nie sein nie, en ek moet op ry huistoe om hulp te ontbied. Die koei is gered, en ‘Itsnotmyjob’ is goed die kop geskrop. Daarvoor het Miriam gesorg.

Ekke staan die volgende oggend op met ‘n voet wat klop van die spul duwweltjies. Ek troos my dat dit verby sal gaan. Ons het immers ‘n koei gered. Later die oggend vra Rots my wat my oog makeer. Ek skrik vir my besimpeld. My linkeroog is bloedbelope. Dit blyk ‘n aar het gebars. Seker toe ons die koei so verbete uit die water probeer lig, het ek gereken.

Bab was op kollege, en bel Sondagaand. Haar pa antwoord die foon en gesels sy gesels. “Wil jy met McLeod se dogter praat,” vra hy en vertel van my en Miram se eskapade.

Sedertdien, as daar enige onaangename of harde werk gedoen moet word, hetsy mense aanpraat of insê, of paddas en muise uit die huis boender, sal my gesin vir McLeod se dogter, dis nou ek, inroep.

Koda blaf netnou ook McLeod, McLeod op die stoep. Ek storm uit, want ek ken daai blaf. Dis sy “hier is ‘n vreemdheid” blaf. So in die hardloop stoep toe gryp ek die sambok. Toe ek die gee-die-hond-kos-wanneer-hy-wil-eet wegtrek staan die geelslang regop.

Ek het nie geweet ek kan so hard en sekuur met ‘n sambok slaan nie. Slang – 0, McLeod se dogter-1. Ek hoop net nie sy maatjie kom soek hom nie.