Die foto met die man halflyf in die walvis maak opslae. ‘n Natuur fotograaf, Rainer Schimpf, het in die diepsee by Port Elizabeth, ‘n ongelooflike oomblik beleef toe hy ala Jona in ‘n Bryde walvis se bek beland.

Kyk self hier

Die walvis het goddank gedoen wat ons sou doen as iets vreemd in ons mond beland – spoeg. Ek reken hy en die duiker was albei ewe geskok en verlig. Geen ongeval.

Die natuur fotograaf is nie ‘n leek nie, en hy was besig om die jaarlikse sardientjie loop – ‘n reuse migrasie wat seelewe betref – te fotografeer. Iets wat hy al voorheen gedoen het. So ek reken hy sou op die uitkyk gewees het vir alles om hom. Die man se passie vir die natuur is ooglopend. Dink hy en die groot meneer vis was net buite mekaar se sig.

My gat se deksel is die groenies wat nou ontsteld is oor die ongeluk . Ontsteld oor die ‘skade’ aan die walvis. Sy kieue en so kon beseer word. Daar is hordes ‘wat as’ scenarios.

Waarom sal daar altyd een of ander persoon wees om ook op die wa te klim, maak nie saak hoe nie? ‘n Oud natuurbewaring beampte het ‘n klag gelê en die man kan sy duik lisensie kwyt wees.

‘n Navorser aan die Nelson Mandela-universiteit het ook baie te sê oor die insident. My vraag is, hoe weet hulle? Hulle was nie daar nie. Om die man sommer so te beskuldig klink maar suurdruiwerig.

Rots sit die nuusberig en lees en haak so ewe af: “As ons nie pasop nie gaan Jona aans Jan van Riebeeck se liga betree. Blameer word vir alles en nog wat. Mense soek rede vir kerm en blaam in hierdie polities korrekte lewe.”

My mening: Bykans almal smag na vyf-minute-roem. Ek dink die is ‘n unieke situasie wat daar in die diepsee afgespeel het, en die mense wat nou agterna (die insident het in Februarie gebeur) aangaan oor ‘wat as’, soek rede om aan die spesiale oomblik aan te haak. Sela.

NS.

Ek luister nou net na ‘n radio onderhoud met die duiker.

Raai net.

Sy seun se naam is Jonah!

Beeld – 11 Maart 2019 op die voorblad: