
Toe Bab nog jonger was, was McLeod’s Daughters ons twee se gunsteling ma-en-dogter, kom ons kry springmielies en kyk saam, reekse. McLeod se dogters se durf en drif en lief en leed sommer net geniet.
Op ‘n goeie Saterdag, toe ons nog aan die voet van die Ysterberg gewoon het, is almal op die plaas of weg vir die naweek, of dorp toe. Ek en die honde stokalleen op die werf. Rustig. My tyd.
Die honde se geblaf lok my na buite. Daar staan Miriam, die voorvrou van die suurlemoen boord by die hek. Sy roep ek moet gou kom, daar is ‘n koei in die water krip. Dié is besig om te versuip.
Nou ja, wat sal mens maak. Die dier is in die moeilikheid. Ek spring in die bakkie. Ou vissieplakkies aan my voete. Ek gaan mos net kyk wat gaan aan.
Miriam spring by die hek voor by my in. “The cow, she is very tired. I cannot help her alone.” Dis toe ek besef, dis net ons twee vroumense.
By die kamp aangekom, sien ek dat ek nie die bakkie naby sal kan stop nie. Ek parkeer en strompel met my rubberplakkies deur die veld. So halfpad sien ek die arme koei met haar neus net so bokant die water. Moeg gespartel op die slykerige bodem en die krip se muurtjie net te hoog om oor te trap. Ek vlieg om om ‘n stuk nylontou wat Rots altyd agter die sitplek hou te gaan haal.
By die krip sien ek tot my verbasing ‘n jong man sit. Ek vererg vir my. “Come and help,” roep ek. Miram sê hy wil nie, want bees oppas is nie sy werk nie.
Dis ook nie my blêrrie bees nie, maar mens doen wat jou hande vind om te doen. ‘n Krisis is ‘n krisis. Die bees hoort aan iemand wat weiding huur. Ek sê vir Miriam om hom mooi te vertel dat sy houding nie vir my saak maak nie, maar as hy ooit sou hulp nodig kry sal ek ook maar net my skouers optrek. “En vertel hom sy ouma sien hom,” sê ek terwyl ek in die krip klim om die tou om die koei se horings te probeer vasmaak.
Die strategie werk. Gou is ons drie in ‘n verbete stryd gewikkel om die koei net op haar voete te kry. Naderhand het ons met ‘n helse gespook die dier so half regop en ek sê vir die mannetjie om buite te staan en die toue styf vas te hou. Sal hy warempel weer begin met “I’ts not my job.” Ek sal nooit weet wat Miram vir hom toegesnou het nie. Hy het gaan staan en daai toue vir lewe en dood styf getrek gehou. Ek het bakkie toe gehol, met die nat modder plakkies, en wragtig daar breek een! Maggies maar so spul duwwetjies laat mens les opsê. Ek voel nou nog daai brand.
Asof die heelal saamsweer is daar nie sein nie, en ek moet op ry huistoe om hulp te ontbied. Die koei is gered, en ‘Itsnotmyjob’ is goed die kop geskrop. Daarvoor het Miriam gesorg.
Ekke staan die volgende oggend op met ‘n voet wat klop van die spul duwweltjies. Ek troos my dat dit verby sal gaan. Ons het immers ‘n koei gered. Later die oggend vra Rots my wat my oog makeer. Ek skrik vir my besimpeld. My linkeroog is bloedbelope. Dit blyk ‘n aar het gebars. Seker toe ons die koei so verbete uit die water probeer lig, het ek gereken.
Bab was op kollege, en bel Sondagaand. Haar pa antwoord die foon en gesels sy gesels. “Wil jy met McLeod se dogter praat,” vra hy en vertel van my en Miram se eskapade.
Sedertdien, as daar enige onaangename of harde werk gedoen moet word, hetsy mense aanpraat of insê, of paddas en muise uit die huis boender, sal my gesin vir McLeod se dogter, dis nou ek, inroep.
Koda blaf netnou ook McLeod, McLeod op die stoep. Ek storm uit, want ek ken daai blaf. Dis sy “hier is ‘n vreemdheid” blaf. So in die hardloop stoep toe gryp ek die sambok. Toe ek die gee-die-hond-kos-wanneer-hy-wil-eet wegtrek staan die geelslang regop.
Ek het nie geweet ek kan so hard en sekuur met ‘n sambok slaan nie. Slang – 0, McLeod se dogter-1. Ek hoop net nie sy maatjie kom soek hom nie.
Joe, jy is ‘n dapper vrou…eerder een van daardie wat barvoets oor die Drakensberge getrek het, as ‘n McLeod!
LikeLiked by 1 person
Hehe. Ek het die episide onthou terwyl ek die slang middeldeur het. Ja, die jonger dae né.😉
LikeLike
Ja-nee kyk, jy is deur en deur een van die McLeod dogters. Ek het die hele reeks destyds in Bali gekoop, en was ook versot daarop!
LikeLiked by 2 people
Staan absoluut verstom oor jou – ystervrou, en nog ‘n kopsmokkelaar ook 😀 “…sy ouma sien hom” 😀
LikeLiked by 1 person
Nood leer bid.😉
LikeLiked by 1 person
Hieta! jou ystervrou. En master manipulator.
LikeLiked by 1 person
Bullshit baffles brains….hehe. Jinne ek was die blou bliksem in. Dit het so met die middeldeurslang weer teruggekom. Toe slaat ek maar vir good measure nog ses keer…
LikeLiked by 2 people
Hiert jou, vat so!! Ons moet dit onthou as die groenbus weer start….
LikeLiked by 2 people
🙈🙊
LikeLike
Iewers is daar ‘n skakel by my kort want ek weet niks van McLeod nie. Tog lig ek my hoed hoog vir julle brawe vroue… dis wat hulle oor die Drakensberge gekry het
LikeLiked by 1 person
McLeod’s Daughters was ‘n gewilde tv reeks jare gelede. Australië se Outback. Besige man met klomp dogters..wie na sy dood die plaas moes aan die gang hou.
LikeLiked by 2 people
Eish … ek het dit sekerlik gemis. Ek hou van Australiese reekse
LikeLiked by 1 person
Lekker storie!
LikeLiked by 1 person
Hoe sê die Ingelse. Rerig is beter as fiksie.😉
LikeLiked by 1 person
Sjoe dis angswekkend.
Ek het een oggend vir ‘n hele uur lank na ‘n slang gesit en staar – hy was besig om ‘n padda te vreet en het oor die paadjie gelê waar ek na my kar stap. My man was weg vir werk, maar het doodkalm oor die foon gesê ek moet hom in ‘n emmer vang “daar is dan ‘n padda in sy bek”. Not a chance. Ek het ‘n uur gesit en wag dat die brandweer kom.
My man verbeel hom hy is Brits se eie Steve Irwin. Maak my hart week as hy al die slange en verkleurmannetjies en uile so “rescue” en wegvat veld toe. MAAR, hy het baie goeie kennis van slange. Ek nie. En ons het soveel spoegkobras om ons hui dis nie eers snaaks nie.
So nee. Sambok en slang se alie, ek hardloop deur ‘n muur.
LikeLiked by 1 person
Suster, ek is 40km buite die dorp – my honde wil met mag en mening Steve Irwin speel – so ek het nie keuses nie! Die brandweer kom nie eens vir veldbrande uit nie – ons is op self aangewese. Dis elke keer flippen hartstilstand oomblikke, maar goddank wen ons. Ek dink hulle is dors – die slang besoekers, want dis elke keer by die honde se stoep waterbak. Die is nou maar na die oopte geskuif, miskien spaar ek so slang lewens en my eie ontsteltenis om so te moet moor. Hehe.
LikeLiked by 2 people
Toemaar, ons is in die dorp en die brandweer vat ‘n uur om by ons te kom (plaas oogrol hier)
LikeLiked by 2 people
Ja, ons moet maar oral op onsself staatmaak. Gelukkig is ons kaalvoet oor die Draknesberge se kinners! 😉
LikeLiked by 2 people
Ek het helaas MacLeod se dogters gemis. Natuurlik is ek ‘n groot aanhanger van ‘n ander MacLeod, Duncan MacLeod. Hy het nie dogters gehad nie. 😉
LikeLiked by 1 person
Daai McLeod bewonder ek ook.
LikeLiked by 1 person
Hey!!! Ek het hom eerste gesien.
LikeLike
Jy kan hom kry. Sestigjarige anties kyk maar bewonderend so van ver af…niks te vrees nie. 🙂
LikeLiked by 1 person
Hy is mos net 427 jaar oud.
LikeLiked by 1 person
O, jy is weer pas uit die messe laai opgestaan, skerp! Jy laat my lekker glimlag. Groetnis.
LikeLiked by 1 person
In elk geval – eerder hy as die man met te veel kinders wat sy lewe op film verbeeld het! 😉
LikeLiked by 1 person
Kolskoot! Dis jammer mens moet hulle doodmaak, maar ai, ekke sal ook maar die sambok ding doen, net omlat ekke so belrrie bang is vir die goed!
LikeLiked by 1 person
Woordnoot, ek het weer ‘n vriendin, een van daai klein, petite mense wat kinderklere dra – sy gryp ‘n ketel kookwater en die sambok – nie ‘n bang haar op daai kop nie. Ek slaat liewer, dis te vreeslik om aan die brand van die water op die ondier se lyf te dink. Gek is ek om so te kommer oor hoe die arme onwelkome slang van kant gemaak word! Eish.
LikeLiked by 2 people