Op my stoep staan die krismis poinsettias en hou die vet rooi keramiek lieweheersbesie van LisaBsArt mekaar en geselskap hou. My dekor vir my en Rots se Oujaar oppie stoep. Hy het die inkopielys en is vort dorp toe. Bab is besig om te pak. Die huis is skoongeskrop, die verjaardagwense stroom via sosiale media in en so nou en dan bel iemand. Ek is 60 vandag. Op die oujaar. Maar ek wil nie oor die mylpaaldag vertel nie. Ek wil vertel van die poinsettia en lieweheersbesie.

Poinsettias is ook bekend as die “Christmas Star” of “Christmas Flower” en is van Meksikaanse oorsprong. Daar is ‘n legende dat ‘n kindjie, met niks om te offer vir die Baba Jesus se geboortedag nie, langs die pad onkruid gepluk het. By die kerk het hy met kinderlike opregtheid by die altaar gekniel en die bossie neer gelê. Net daar, voor die verstomde gemeente se oë, vind ‘n wonderwerk plaas. Die bossie onkruid omvorm in die mooiste groen en bloedrooi blomme. Mag ons in kinderlike geloof ons bossies onkruid, ons alles wat ons het, voor God se voete neer kom lê, om die wonder van Sy liefde en Sy Raadsplan vir ons lewens, beleef. Nou hier waar die poinsettias nog vol in die blom staan en ook elke dag vorentoe.

Die lieweheersbesie se storie is bietjie anders en ook diep. Die flukse geliefde besie waarvan daar 5000 variteite wêreldwyd is, is geliefd in landbou, omdat dit baie plant plae bestry. Al sedert die Middeleeue vertel nalees my. So die besie deel is maklik. Die Liewe Heer gedeelte, sekerlik in Afrikaans omdat ons kan dankie sê vir ons Skepper vir die helpertjie.

As jy egter na die Engelse benaming “ladybug” kyk en na die oorsprong daarvan, is daar ‘n aangrypende storie. Die “lady” na wie verwys word is niemand anders as onse Jesus se moeder, Maria nie!

Die lieweheersbesie mees algemeen in Europa en omtes, se vlerkies is rooi, en op elke vlerk is sewe swart kolletjies. Dié volgens oorlewering, verteenwoordig die sewe smarte van die Maagd Maria – van Simeon se profesie oor Jesus se lyding tot haar eie aanskou van sy kruisiging en begrafnis. So vir die middeleeuse mens was die lieweheersbesie ‘n aardse herinnering aan die heilige moeder van ons Here, Jesus.

So, my liewe leser, as jy weer ‘n lieweheersbesie sien – dink aan Maria en alle Mammas in jou lewe. Die diep rooi van ons liefde en die seer en swaar wat ons vir ons kinders sal dra. Dink aan die Kind wat alles feil het vir ons. Sy Lewe, liefde en sorg.

Nie troef geluk nie, nee, ewige geluk. Glo dit kinderlik. Alles beste vir 2019.