Avontuur by Eersteling

Ysterbergonthou

Die hele wêreld en sy familie weet, ek bly in Poloniekwane ter wille van ekonomiese oorlewing. My hart woon in Graaff-Reinet in die mooie  Ooskaap se Camdeboo, waar ek die Towerinne later op ons reis, wel deeglik gaan onthaal. Daar is egter ‘n stukkie van my hart wat warm klop oor ‘n plek buite Polokwane.

Ons het so paar uur na die groot sing by OR Tambo, rustyd gehad, so van na middagete af. Ek, Una, Kameel, Seegogga en Positief het per ongeluk op Scrapy se Elonmusk-vlieger  afgekom. Ons wou weet hoe voel dit om blitsig van een plek na die ander te kon reis. Toe fluister ek vir my vier towerin maats of hulle gou iewers heen wil gaan. Soos dit maar met ons gaan, sê al vier dadelik ja. Blitsig is ons vasgespe en ons vlieg daar weg.

“Waar gaan ons,” giggel Una.

“Ons gaan gou kuier waar ek die lekkerste nog in Polokwane gebly het,” belowe ek en druk koördinate in.

Terwyl ons so al met die N1 langs noord vlieg, vertel ek  so bietjie geskiedenis terwyl ons oor bakens vlieg. Ons was bangerig om supersonies vinnig te vlieg, toe vertel ons die slim voertuig wat ons wil sien. So het ons darem hier en daar onderweg na ons bestemming stadig gesweef. Soos ‘n wafferse toergids vertel ek:

Sowat 18 km voor Mokopane is ‘n stilhouplek. Moorddrif. In September 1854 is twee groepe Voortrekkers sowat 33 siele, op reis saam met Hermanus Potgieter, hier deur die Tlou stam, met Makapaan as hoofman,  aangeval en uitgemoor. Kinders se koppe is teen ‘n boom vergruis. In ‘n wraakaanval is 2000 van die Tlou in die Makapaansgatgrotte vasgekeer deur die Boere.

Die Nylstroom,nou  bekend as Mohalakwena (Plek van die vreeslike krokodil). Potgietersrus (nou Mokopane, Scrapy se tuisdorp in Suid-Afrika) was  vernoem na Kommandant Generaal Piet Potgieter wat by  Makapaansgat dood is tydens ‘n wraakaanval op die Tlou volk na Moorddrif.  Die dorp is  op 25 September 1858 gestig.  Dis geleë op die vloer van ‘n woudagtige pas, die roete noordwes na die bosveld

Veertien kilometer noord op die plaas wat jare gelede aan G R Peppercorn behoort het,  lê die Makapaansgat grotte. Die grotte lê in ‘n asemrowende kloof waarvan die hange besaai is met aalwyne, euphorbias en bome.  Aan sy regterkant word die kloof ommuur met bloedrooi sandsteenkranse. Hierdie vorm die agtergrond vir die mensdom se geskiedenis en ook ‘n bloeddorstige verlede.”

Gou is ons by die berge buite Potgietersrus. Ek vertel verder:

Makapaansgat het kolossale grotte. Daar is twee hoofingange, die een bokant die ander, hulle loop skuins af in mekaar in en reuse sale tak uit die gange. Klip versperrings, as van lang vergane vure en sinistere herinneringe is al wat van die oorlog bly.

Die grotte is deeglik deur argeoloë omgedolwe en ontdekkings uit die Upper Chelles Acheul tydperk ver onder die vlak van die  Vroeë Steentydperk. Die grotte  het na die Moorddrif aanval die skuiling geword van die Tlou volk onder leiding van Makapaan.

Die grotte het skuiling gebied, daar was volop water en bêreplek vir graan. Genoeg om hulle tydens enige beleg, veilig en versorg te hou. Of so het hulle geglo. ‘n Strafkommando onder leiding van Piet Potgieter het die Tloustam in die grotte vasgekeer. ‘n Groteske brutale stryd het gevolg. Die gewapende Tlou soldate het onophoudelik uit die donker grotte bly vuur.  Enigeen wat gewaag het om te nader was ‘n duidelike teiken in die  600m by 150m openinge.

Op 6 November 1854, is Kmdt Genl. Piet Potgieter self noodlottig getref toe hy ondersoek gaan instel het by die grot se ingang. ‘n Brawe veldkornet,  die 29-jarige Paul Kruger het sy lyk weggesleep.

Vir 30 dae is die grot aangeval.  Kommando lede het later die grot bestorm en wat hulle gevind het is ‘n toneel van dood, die reuk van ontbinding het alles deurtrek. 1500 van die stamlede is dood aan dors en verhongering, net ‘n handvol  het ontsnap. Makapaan wat onder ‘n bees se maag vasgemaak is, en in  gedwonge ‘n stormloop van beeste grot uit, het ook weggekom, om soos legende dit het, nie die verwoesting van sy stam te kon verwerk nie, en later selfmoord pleeg. Hier stop die mens se omgang met die grotte, en vandag is dit duiwe en vlermuise se gefladder wat die stilte verbreek.”

My maats sit tjoepstil.

“Dis vreeslike geskiedenis” sê Seegogga.

Ons almal is effe betraand. Ek haal so plat botteltjie uit my sak. “Kry ‘n doppie bosveld mampoer, dit help. “Net ‘n proppie hoor,” waarsku ek.  Ons snak na ons asems. Batterysuur sterk is die proppies. Ons hoes en proes en toe die asems terug is, stel Positief voor ons sluk gou ‘n tweede een, blykbaar proe dit dan beter. Ons maak toe so…dis nie waar nie.

Hoesend en proesend, vlieg ons verder noord met die die Ysterbergpas langs. Dit is deel van die Strydpoortberge, 1297m bo seespieël. Die Bosveld se hoëveld val voor jou oop. Net deur die pas draai ‘n grondpad regs uit. ‘n Bord ‘Eersteling Monument‘ wink jou om af te draai.

Ek vertel terwyl ons laag en stadiger vlieg, dat my maats alles kan sien en ervaar:

“Edward Button het in 1871 die eerste kleim vir goud hier afgesteek. Dit is na Du Preez aan hom ‘n stuk goud gewys het en hy (Button) die plaas vir $50 gekoop het en mynregte geregistreer het.

Die smeltertoring van Aberdeen graniet, staan majestueus op ‘n klein bultjie omvou deur die kranse van die Ysterberg, die begin van die Strydpoort berge. Rug aan rug met Makapaansgatgrotte.

Die toring was op ‘n tyd die hoogste gebou in die ou Transvaal. Legende het dit dat die Boere tydens die Eerste Anglo-Boereoorlog gemeen het die mag van die Engelse lê opgesluit in die toring en hulle het onsuksesvol probeer om die toring om te trek met osse en kettings. Maar dit was puur verniet. Bykans 150 jaar later staan die toring onverstoord soos ‘n kruidjie-roer-my-nie.

Eersteling is vandag ‘n sitrusplaas. Ek het die voorreg gehad om vir meer as ses jaar hierdie mooi magiese plek my woonplek te noem.”

My maats se asems is weg. Dis droog, maar steeds asemrowend. Die spoed vervoer is oorgeskakel na ‘n gewone motor, en ons kan rondkyk en verken. By die oorblyfsels van die monument het was dit so lekker om dit met vriendinne te deel. Een van die Polokwane omgewing se geheime. Kyk wat het hulle alles gesien

“Julle, kom ons vlieg gou berg op, julle moet die sonsondergang beleef. Ek het ‘n storie om te vertel,’ roep ek en ons klouter in Scrapy se masjien.  Minute later aanskou ons die skouspel.

Die son sak, en ek vertel so sopie vir sopie mampoer vir my maats van die legende dat op aande soos die, as jy mooi luister jy die delwers van ouds kan hoor makietie hou. Soms hoor jy ‘My Sarie Marais’, ander kere ‘My Bonny lies over the ocean,’ dit was immers die eerste delwery in Suid-Afrika, voor Pelgrimsrus, voor die Goudvelde van Johannesburg.

Ons sit nog so vir die wolke en kyk. Daar kom ‘n briesie op. Die mampoer loop proppie vir proppie mooi. Kameel gryp my aan die arm. “Sjjt, luister,” fluister sy. Ons almal is tjoepstil.

Oor die bries hoor ons wragtig aangesweef:

Ons laat spaander na die tydmasjien, sluk proppies mampoer en vlieg op ‘autopilot’ terug Pretoria toe. Ek het my jis afgesukkel om Una, Kameel en Seegogga en Positief  in die bed te kry, en self laat tot rus gekom. (Moes twee Panados drink. Bloos)

Die volgende oggend hoor ek net hoe raas Scrapy. Ek en Una strompel uit ons kamers, verslaap. Ons hoor Kameel, Seegogga en Positief sing: ’My Sarie Marais is sooô ver van my af…’

Ek wil net sê, Scrapy se propvol program het ons vyf poegaai gehad. Al die lekker kos het gehelp om die mampoer hond se hare van ons tonge af te kry!

 

NS. Om ons virtuele reis deur Suid-Afrika te volg en ons avonture as die Towerinne mee te maak of om saam te blog, klik op die volgende: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928

 

95 Comments on “Avontuur by Eersteling

  1. Wat ñ ervaring! Daar sien ek areas en hoor ek geskiedenis wat ek niks van weet nie! Alles dit met Scrapy se Elonmusk-vlieger. Wow. Verstommend. Kameeltjie, daar het ons nou die uitleg, die waarheid. Niks om oor skaam te wees nie, niks wat ñ Panadotjie nie kon herstel nie.

    Liked by 1 person

  2. Ag hier hoor ek ook nou geskiedenis waarvan ek niks weet nie. Dit is eintlik so hartseer. Dankie vir die lekker mampoeruitstappie 😊 Ek sug van verligting dat ons ons so mooi gedra het.

    Liked by 3 people

  3. Interessante geskiedenis Lekkervurig en dit was bepaald ‘n uitstappie wat die moeite werd was as ek so luister – die hoofpyn ook werd ja. My familie, aan albei kante, het blykbaar die Groot Trek en die Boere Oorloë geskiep – tipies, ons is regte draadsitters en nie vreeslik patrioties nie. Maar nou ja, elke outjie het sy foutjie.

    Liked by 1 person

  4. Jou toring lyk vir my die hele tyd so bekend maar ek kannie dink waar het ek dit gesien nie. Toe gaan die lig netnou aan…my man het vir maande iewers daar op ‘n plaas gebly vir sy werk. Ek het vir hom gaan kuier en ons het eenkeer na die geskiedkundige toring toe gery. Nou probeer ek uitwerk watter jaar dat ek die fotos kan uitsoek. 😊

    Like

  5. Ek is bly die boere kon nie die toring omtrek nie…dis so ‘n oulike baken, wat stories kan vertel! Deesdae word hopeloos te veel geskiedenis vernietig. Dankie vir hierdie heerlike interessante toer.

    Liked by 1 person

  6. Ons was Augustus 2009 by toring. Ek is nou so omgekrap; van al my fotos wat ek daar en op die plaas geneem het, het ek net 4 fotos oor. Die res het van laptop af verdwyn. Dis hoekom geprinte fotos net veiliger is. Niemand sal dit wil steel nie, en dit sal nie sommer in asblik beland nie.

    Like

  7. Dis oky Trommeltjies, darem gun ek hulle die lekkerte. Sal my beurt kry…buitendien dink ek hulle het seker kon raai dat die laag vlieg kontrapsie my seker meer sou fasineer as al die interressante geskiedenis. Ek sou heel moontlik ook nie stil gesit het nie soos wat ek hier wip en daar wip om al die diere en blomme en mooi goete om my te sien dat ek belangrike goed sou mis. Of dalk sou ek wou kyk of ek ‘n wolkie kon raak vat.😋 Darem is daar fotos wat ons saam kan geniet…

    Liked by 2 people

  8. Genade ons, jy is darem maar heerlik vurig met jou vertelling. Ek het so heimwee noudat ek weer al die name en geskiedenis so lees. My tydperk in Potgietersrus was ook my beste tyd. Ek het as jong onderwyseres daar begin en weer my laaste paar jaar weer daar gebly. Dankie vir die ekstra inkleur van die geskiedenis. Nou op die Fouries se storie. Ek is mos aangetroud met Krugers(Paul Kruger sn) My man het altyd as daar dinge gebeur of gedoen word wat nie reg is nie gesê: Ouma Fourie sou beslis nie daarvan gehou het nie of ouma Fourie sou jou op jou plek gesit het.” Ongelukkig weet ek te min van my man se familie.Die ouma was al oorlede toe ons getroud is.

    Like

    • Jinne Scrapy, maar dis nou interessant…miskien is dit kismet dat ons klomp hier in blogland so verweef is. Ek hou daarvan dat ons so al is dit aangetroud, en i onthou of deel van vanne.

      Liked by 1 person

  9. Agteros kom ook in die kraal. Julle klompie bloggers wil net heeltyd hê ek moet deel vorm van die sing-span. Kan julle bly wees dis virtueel!!
    Jong, die was nou ‘n lekker trip, en natuurlik sal ek aanmoedig vir daai tweede sopie, altyd

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Top40Weekly.com

The Weekly Top 40 1955-2017

toortsie.com

Skyn, liggie, skyn!

No Facilities

Random thoughts, life lessons, hopes and dreams

Leeskring met een lid

Waar ons boeke saam met die seelug inasem

The Bee Writes...

oder auch "Die Bea schreibt" *** expect nothing... not even the unexpected *** erwartet nichts... noch nicht mal das unerwartete

Gedigte wat jou laat dink.

Sien die groot prentjie.

Tokeloshe

I♥2CR8

Kluisenaarsklaviere

Denke oor die wêreld, sy plekke en sy mense

Kameel se gebabbel

Waar die hart van vol is, loop die mond van oor

Kruger Theron

Stories met Siel

Daily Manna

By Heart of Worship

Justice's Blog

The fear of the LORD is the beginning of wisdom...The contents of blog ranges from Christian knowledge to my own 'nerdy' posts.

the depth of now

Discovering Istanbul through Storytelling & Photography

Discover

A daily selection of the best content published on WordPress, collected for you by humans who love to read.

Wag 'n Bietjie

Welcome! Come linger a while..

%d bloggers like this: