27 Julie 2018 20h53

Ons aanskou die langste maanverduistering die afgelope eeu vanaf ons lekker kuierstoep op Waterval, Limpopo. Ons ondermaanse blyplek, daai klein blou spikkel skuif geleidelik tussen die son en volmaan in. Om 20h53 is die maan besig om so onderlangs aan die donkerkant te raak. Kompleet of die nag ‘n hap daaruit gevat het.

Neffens my brand hout vlammend en knetterend, my skouers toegewikkel in my troostrui, daai ene met die moue wat al ‘n kilometer uitgerek is, met die groot kraag wat so lekker om die nek en ore snoes. Op die braai spat en sis ‘n lekker stuk boerewors. Dis net Rots en ek en die brakke-bende. Die IPod het op die dorp agtergebly, en dis net ons, die maan en naggeluide – jakkalse, naguile, ‘n opvlieënde kiewit se gedreig.

Ewe simpel neem ek foto’s met die slimfoon, daar is effek en kaatsings, maar die maan bly ‘n blink blob in die kiekies. Die ou kameratjie kan nie vertel wat met on kleine ogies gesien word nie.

20180727_1846506838475526781787182.jpg20180727_2209442241715527440355.jpg20180727_1958212372277884158842292.jpg

Ek stuur boodskappe en foto’s aan naastes en hulle vertel terug:

“Ons kyk,”

“Dankie, ons het vergeet.”

“Dis mooier by jou.”

“Dis daglig by ons in Duitsland…”

Ek is oorweldig. Die maan is in perfekte rooi-oranje 3D en Mars flonker in die donkerte. ‘n Jakkals gaan aan die jil, en toe nog een en nog een. Asof hulle ook in verwondering na die vreemde hemelverskynsel kyk. Huilend soos hulle wolf-familie. Howhooooohh! Ek kry hoendervleis. “Hoe groot is U, hoe groot is U…” sing my hart stil.

Die asembenewende maan hou my ver verby slaaptyd nog wakker. My rug kla, my hare ruik pure houtvuur.  Toe ons uiteindelik aan Klaasvakie se eise toegee, oorval ‘n soete slaap, diep en  ver, vir my. Saterdagoggend word ek met ‘n lieflike rustigheid wakker. Die siniese mense kan maar dink wat hulle wil. Ek is heilig oortuig dat daai maan my siel gesalf het.

Vir meer as ‘n jaar lees ek proe-proe aan ‘Die Storie’  – ‘n aaneenlopende verhaal van God en Sy mense. Die boek bevat uittreksels van die Nuwe Lewende Vertaling (NLV) van die Bybel.  My boekwurmboekmerk lê al lank vasgehaak by Hoofstuk28 , getiteld ‘n Nuwe Begin. Saterdagoogend lees ek verder.

“My liefste Theofilus,” skrywe Paulus en vertel van Jesus se opstanding, hemelvaart, pinkster en die uitstorting van die Heilige Gees. Ook hoe die spotters vertel het die bekeerlinge is dronk. Nee, vermaan Paulus. Hy herinner hulle aan Joël se profesie:

(Joël 2 :28-32)

Die Here beloof sy Gees

28“Daarna sal Ek my Gees op alle mense uitstort. Julle seuns en julle dogters sal profeteer. Julle oumense sal drome droom. Julle jongmense sal visioene sien. 29In dié tyd sal Ek my Gees selfs op slawe en slavinne uitstort.30“Ek sal wonders in die hemel en op die aarde laat plaasvind: bloed, vuur en rookkolomme. 31Die son sal donker word en die maan bloedrooi. Dit sal gebeur voor die groot en verskriklike dag van die Here aanbreek.32“Enige persoon wat tot die Here bid, sal gered word. Die mense wat ontsnap, sal op die Sionsberg en in Jerusalem wees, net soos die Here gesê het. Hulle sal tussen die oorlewendes wees wat die Here geroep het.”

Here, U praat met my. U leer my verstaan hoe ontsaglik groot U liefde vir elkeen van U skepsels is. U sorg elke dag vir elkeen van ons individueel. In die gang van die tyd, die kom en gaan van seisoene, in oorvloed en armoede, in vrede en oorlog, in die ritme van die natuur – reëntyd, droogte, hooggety, ebgety,  vol- en  donkermaan en ook nou in die maanverduistering.

U sorg dat iedereen van ons, in ons strepie uitleef van geboorte tot sterfte, genoegsaam kere die oorvloed van U grootheid en liefde kan beleef. Ons kindwees, veilig in die arms van ons ma. Ons grootword en verbreding van kennis en insig. Ons vermoë on te kan sien, proe, voel, hoor – dis alles U.

Die voorreg om U naam aan te roep daar waar ons in ontreddering op die rotse by die see staan en skuimspatsels van brekende golwe op ons neerreën. Om U te loof as spierwit wolke op wieke van die wind deur die blouselblou Karoolug seil en ‘n arend wys hoe om ver en wyd te kyk.

Ag, Here, om U te hoor en te voel in die stil ritsel van blare, en as die sonstrale stofmyte in spikkels goud verander wanneer die son deur die venster skyn, dit verwonder en oorweldig my.

En dan, sorg U dat Joël se profesie vir elkeen van ons waar word. Dankie dat ons U beloftes weer Vrydagnag as volkome waar kon beleef. Dat ons op die klein blou ghoen, deur U geskape, tussen U Son en Maan kon inbeweeg, sodat ons stil verwonderd kon opkyk en sing: “Hoe groot is U, hoe groot is U!”

Here dankie dat U belowe dat ons verlos en gered is as ons U seun, Jesus, as ons Verlosser aanvaar en weet dat ons alleen deur Hom by U kan tuiskom. Dankie vir U Gees wat binne elkeen van ons woon, sodat ons U waarheid kan beleef. 

Dankie vir hoe U almal wondere laat sien in elkeen se leeftyd oor geslagte heen. Dankie dat U wil geskied omdat dit U is wat elkeen van ons se tuiskoms reeds bepaal het.

Here, leer ons om teenwoordig te leef, om omsigtig met ons medemens saam te leef. Elkeen van ons op ons eie ontdekkingsreis om U liefde en genade te beleef, maar ook saam toegevou in U liefde vir ons elkeen. Amen.

Toevallig dat ek Saterdagoggend na die maanverduistering juis daar verder lees? Nee. TOE val LIG, soos Amore van RSG sê.

Neil Bennet se saamgestelde foto van Vrydagnag se wonder is vir my van die mooiste. Omdat dit uitbeeld wat ons op die plaas ervaar het.

timelapse-lunar-eclipse-joburg-696x382