ilovedog

Koda-koos is ons meer as 50kg gitswart hondekind, wat vir ons baie plesier gee, maar ook laat les opsê. ‘n Liefdevolle hond, wat soos julle kan sien, hom verbeel dat hy ook soos sy Schnauzer nefies, Milo en Ringo, sommer op Bab en meubels en beddens kan klouter.

Koda kan speel, is mal oor toutrek en sy bende aan te stig en te terg wat skewe matte en ander ongelukke tot gevolg het.  ‘n Gillende ek is ook kort agter die gespeel en geskaats deur my huis.

‘n Probleem in ons lewe saam met Koda is dat hy ‘n baie slegte ervaring met ‘n susmiddel gehad het. Die veearts het sy gewig onderskat, en te min moetie gegee sodat hy aan die slaap kon raak en ons sy toonnaels kon sny. Die gevolg, ‘n bedonderde slaperige hond. Dis so erg, hy het nou die dag langs Rots op die bed gelê toe ek met die naelknipper naderstaan om Rots te help met ‘n ingroei nael. Heita, ek het vinnig omgedraai. Koos hou ook nie van bad nie, dis ‘n oorlog van my wil teen syne. ‘n Strategiese spel epies van aard. Ek wen meestal en hy kom met ‘n helse gesukkel skoon so al om die drie weke.

Nou Koda het ‘n ekseem-probleem, wat van tyd tot tyd opvlam. Hy het ‘n besondere reuksin, of is geweldig slim. Waag om daai pil uit die pakkie te haal, yskas toe te loop en die moetie in ‘n stukkie vleis weg te steek. Weet maar die vleis sal afgekou word en die pil eenkant gespoeg word. Ag, my geduld verdwyn en my bloeddruk styg. Tot Bab agterkom, dis nie die pil nie, dis die handeling wat bepaal of Koda sluk of spoeg.

As jou hand met die vleis gebal lyk, vergeet maar. Sit die vleis in jou oop palm, eet hy dit sonder skroom. Dis vir ons ‘n raaisel. Want hy ken geen gebalde vuiste of geweld nie.

Ek het al gewonder of hy geneties uit sy voorsate, ‘n slegte ervaring onthou. Ek lees juis  net nou dat honde se geskrop en in die rondte tol met hulle oer voorsate te make het. Wie sê hy kan dan nie sleg van geslagte voor hom onthou nie? Want hoe anders kan ek sy nukke verduidelik?  Of, hy onthou toe ek laas vir hom die susmiddel ingegee het, en die gevolge daarvan!

Ek is dankbaar hy is ten spyte daarvan lief vir my geselskap. Kom lê by my voete, kom vra ‘n wyn-ys, klouter op die bed as ek lê en lees. Die oomblikke is duisend keer meer as die nukkerigheid.

Ons hondekind is ‘n kruising. Dit werk so: Wat liefde, energie en speel aanbetref is hy beslis ‘n Labrabull. Wanneer hy kortgebonde en kwaai is, is hy ‘n Pittador. As hy stout is is hy Koos, as hy oulik is Koda. Meestal is hy sommer Koda-Koos.

Vreeslik baie soos ek.

Net vanoggend sal Rots my so ewe vertel dat ek ‘n moer klein bietjie (en hy beduie hoe klein die moer se gaatjie is) geduld het, en my humeur ook vinnig is. Net voor my brein links fok, kom sy maar. “Maar jou hart, die is baie groot, en dis hoekom ek vir jou so lief is.” Dit het hom gered. Die Pittador het gatomswaai gemaak en Labrabul van vreugde en wederkerige liefhê gebokspring.

Koda-koos en ek verdien mekaar, nukke en grille en groot harte en al.