trix kotze

“Trixie is gisteroggend dood,” My oud-kollega Lynne se oproep ruk jare se onthou oop.

My hart pyn, dis nie net sommer iemand wat ons vooruit is nie. Dit is ‘n aardse engel, ‘n verpleegster in murg en been, ‘n gelowige mens, onse Trix.

Ons paaie kruis in die middel 1990’s, toe die hospitium wat ek vir Kansa bestuur het, nie permanente personeel kon beskostig nie, en ons met ‘n oorlewingsplan om ‘n span ad hoc verpleegsters op die dienssrooster te plaas. ‘n Klomp formidabele pas-afgetrede verpleegsters het hulle by ons liefdestaak kom aansluit.

Onder hulle: Suster Trix Kotze.  Nie ‘n haar uit sy plek, silwergrys en statig stileer en die mond altyd ‘n sagte pienk gekleur en kyk, daardie epoulette op haar skouers het jy respek voor gehad. Haar kollegas, Srs Anntejie Nel, Yvonne Terreblanche, Peet Minnaar het saam met Trix gesorg dat die hospitium soos ‘n goed geoliede masjien loop. En die dissipline ten spyt, is  liefde en meeleweing en emaptie vir kankerpasiënte en hulle families in oordosis uitgedeel.

Nooit  was ek as bestuurder ooit bekommerd oor die Departement van Gesondheid se jaarlikse inspeksie vir ons privaathospitaallisensie nie. Met Trix en span aan roer van sake is hospitaal administrasie en daaglikse take van die hoogstaande gehalte uitgevoer.

Trix het alles voluit gedoen. Van verpleeg, tot ma- en oumawees vir haar kroos. Ek onthou hoe liefdevol sy haar eggenoot Boet destyds deur die trauma van diabetes en amputasie onderskraag het.

My werk om die rande te laat klop om ons projek staande te laat bly, was nie moeilik nie. Dit was danksy Trix en die uithaler verpleegsters maklik om vir mense te kon vertel, nee ek kon dit met openheid bely, dat daar by onse hospitium, alle mense saak maak tot hulle heel laaste asemteug.

Om daagliks asseblief en dankie te se as professionele bedelaar was ‘n plesier. Ek het dit vir aardse engele gedoen. Saam het ons vir honderde kankerpasiënte en hulle families dit moontlik gemaak om laaste dae met waardigheid en omgewe van opregte omgee, saam te spandeer.

Dis lank gelede en jare later, maar die tye saam met hierdie spesiale vrou en haar kollegas sal altyd my beste jare bly. Ons was vreesloos, begeesterd en geseën om saam by die trappies na die Hemel te werk.  Ons het ook soms verskil, maar altyd was ons groter doel die wenner bo ons eie egos!

Trix, ek weet ‘n engelskare het gejuig toe ons Jesus Sy arms vir jou oopgegooi het om jou styf teen Sy hart te druk. Jy was Sy hande en hart hier tussen ons. Tot wedersiens.