Sonell, dankie vir die uitdaging, maar daar is geen manier wat ek net een gelukkige kinder herinnering kan uitsonder nie.
My kindertyd se onthou is in sy geheel ‘n gelukkige onthou. Die rede dat dit so omvattend onthou en gekoester word is seker te make met die vroeë afsterwe van beide my ouers. So, die kinder en tienertyd saam met hulle was die lekkertste en veiligste tyd. Jongmensgrootword en wroeg sonder Pa en Ma was onlekker.
Ek gaan my toptien lekker onthou aftel:
10. Selfgetekende papierpoppe se klere ontwerp en in te kleur, tot in die hoërskool. Die mooi Steadlerpotlode se ryk kleure en die reuk van skerpmakersaagsels.
9. Om saam met kleinsus met haar reuse versameling Matchbox karretjies op selfgemaakte paadjies te speel.
9. Kersfees familiesaamtrekke by Oupa en Ouma en die krismisbed saam met al die niggies en nefies en pret oral op die werf en ouma se smullekker kos.
8. Sondagaande se skaakspeel saam met my pa terwyl ons klassieke musiek luister.
7. Die Kersfees toe ek die King James Bybel vir kinders met sy mooi prente gekry het. Ek onthou goed die familie se ongeloof toe ek die hele Bybel tussen Kersfees en oujaar klaar gelees het en vir nog ‘n boek gevra het!
6. Om by my kamervenster uit te klim en met ‘n kussing en storieboek, hoog bo in die bloekomboom te gaan wegkruip en niemand my kon opspoor nie.
5. Om die reuse avokadoboom op te klouter en met die foefieslaaid oor die vrugtebome te vlieg en op die sandhoop wat Oupa vir ons spesiaal laat neersit het in te ploeg!
4. Om op my ouma se skoot te sit, haar hartklop te hoor en met haar sagte nekvel en hande te speel. Ag, sy het soos Goya Rose lyfpoeier geruik.
3. In Swaziland die gang af te hardloop as die weer swaar was en tussen my ouers te kon inkruip. Veilig en snoes.
2. Skelm met die flits onder die komberse te lees – tuis, in die koshuis, altyd! So dankbaar ons het nou tablette!
1. Om op ‘n tapyt dennenaalde te lê met die varsheid van denne en die muwwe reuke van dooie blare aan die kompeteer vir my reuksintuig se aandag. Dan deur die takke na die dansende stofmyte in die sonstrale te lê en kyk en te kon dagdroom en stories uitdink.
Hierdie was vrye, ongebonde sorgvrye jare. Lekker onthou. Ag, en nou verlang ek sommer om vir die klein ekke te vertel haar lewe het goed uitgedraai danksy soveel goeie dinge wat sy beleef het. Haar kleintyd versugting daar bo in die boomhuis toe sy die toekoms in getel het, het ek so uitgeleef:
________________________________________________________________________________________
Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:
http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=781922
Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).
Dis nou sommer lekker herinneringe Lekkervurig. Ek het selfs my kop op en af geknik by die nommers wat ooreenstem met dinge wat ekself kleintyd gedoen het.
LikeLiked by 2 people
Jy het my behoorlik tranerig met jou onthoue. Papierpoppe. Matchbox karretjies en selfgemaakte paadjies…Eintlik kan ek saampraat met al jou punte. Pragtig gedeel. Dankie.
LikeLiked by 2 people
Ook ek knik my kop op en af. Dit was nou so lekker om te lees.
LikeLiked by 2 people
Mooi herinneringe. Ek sal oook nie net een ding kan noem nie
LikeLiked by 1 person
Lekker onthou dinge, mooi memories.
LikeLiked by 1 person
Heerlik om te lees. Ek kan my ook indink in baie van hierdie onthoue.Pragtig geskryf!
LikeLiked by 1 person
Baie mooi!
LikeLiked by 1 person
Dankie dat jy kom saam lees!
LikeLiked by 1 person
Dit is nou behoorlik lekker onthou tye!
LikeLiked by 1 person
Sjoe, dit klink omtrent bekend. Net daardie matchbox karretjies ken ek nie. Die paperpop het my en kleinsus Tina ure se plesier verskaf. Ons het selfs modderhuise vir poppe gebou. Konmeestal nie wag dat dit more word om verder te speel nie.
LikeLike
Lekker gelees en vurig geskryf
Skaakspeel en klassieke musiek op ‘n Sondagaand – dit klink heerlik. As ek en jy weer ontmoet op Heroldsbaai se strand daag ek jou uit tot ‘n skaakspel.
Wat die Bybel aanbetref ek neem aan jy verwys na die Kersfees waarin jy dit gekry het en die volgende jaar se Nuwejaar 371 dae later… 🙂
Nou goed ek erken. Dit was nie jy op Heroldsbaai nie. Ek het jou nuwe profiel/gravatar foto gesien. Die persoon op die strand was ouer as 30!
LikeLike
Ah, Baron Room, 30 going on 60, maar dankie! Die Ingelse kinder King James Bybel is van 25 Desember tot 31 Desember gelees. 🤗
LikeLike