k6p7Qc

Daar was eendag ‘n dogtertjie. Sy was almal se hart se punt en sy was baie lief vir lees. Sommer gou was dit nie meer nodig vir haar Pappa en Mamma om vir haar stories te lees nie. Sy het dit vreeslik geniet om laat, lank na almal in die huis reeds geslaap het, sklempies met die flits onder die kombers te lees en dan die volgend oggend vaak-vaak deurgaan.

Haar wêreld was veilig en geborge en selfs haar oujongnooi groottante was lief. Sy het niks kortgekom nie. Na so paar jaar as enigste kind, is daar ‘n baba sussie gebore. Die wêreld het skielik nie net meer om Oudste se sit en staan gewentel nie. In haar hartjie het sulke klein krakies begin vorm. Een se naam was jaloesie, die ander alleenheid. Die baba-sussie was baie sieklik en Mamma en kleintjie moes dikwels weg na die hospitaal. Dan is Oudste maar na ouma of peetma se huis verpak.

Op sesjarig ouderdom het nog ‘n nuwe krakie het in Oudste se hart gevorm. Verwerping. Sien, Oudste moes koshuis toe. ‘n Bang kindjie in die koue koshuis, te klein om self haar bed op te maak, slegte kos en ‘n hartjie ineengekrimp van verlange na haar mamma en ouma en peetma se huise.  Die vreemdheid het gewyk en oudste het gou aan die koshuislewe gewoond geraak. Daar was darem ‘n biblioteek by die skool, kinderkrans en maats van haar eie ouderdom.

Maar Oudste se pappa was ‘n swerwer. Soos die jare verbygegaan het, het Oudste geleer om nie te innig vriendskappe te smee nie. Afskeid elke kort-kort was net te seer. Hulle het bykans elke tweede jaar na ‘n nuwe plek verhuis.

Toe Oudste in matriek is, gaan haar pappa dood. Haar mamma se hart is gebreek en sterf kort daarna. Sy het gedink die wêreld is ‘n wrede plek en haar hart toegeskulp, soveel so dat mense haar as hovaardig beskou het.

‘n Gladdegiel het haar egter verlei en na ‘n kortdstondige huwelik wat om al die verkeerde redes voltrek is, het Oudste alleen en gekneus weer haar staning in die wêreld probeer maak. Op haar eie.

Tot een goeie dag, waar sy maar met haar elke dag se bestaan besig was, verskyn hy! Haar siel se maat. Haar beste vriend. En die beloftes in die Bybel word vir haar waar.

”…soos die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, sal hulle een vlees wees. (Genesis 2:24, en herhaal in Matt 19:5; Mark 10:8; Efes 5:31) 

En Prediker:“Twee is beter as een, want hulle het ’n goeie beloning vir hulle harde werk, 10want as hulle val, sal die een sy maat optel, maar wee die een wat alleen is wanneer hy val, want daar is niemand om hom op te tel nie. 11Meer nog, as twee bymekaar slaap, sal hulle warm kry, maar hoe kan een alleen warm wees? 12As een te sterk is vir hom, sal twee hom weerstaan en ’n driedubbele tou word nie gou gebreek nie.”

Gou is daar ‘n troue en ‘n paar jaar later word die fraaiste dogtertjie gebore.

Die einde

Naskrif:

Oudste en haar Rots en haar Bab leef al lank en gelukkig saam. Die tyd vir Bab se sprokie is nou aan’t kome.

Oudste kan vir Bab verseker dat sprokies nie altyd vlot verloop nie, maar as mens bly glo, kan die sprokie jou verras.   Jy kry nie nooodwendig die sprokieseinde wat jy wil hê of waaroor jy droom nie, maar dikwels is dit nie ‘n slegte ding nie.

Wat Oudste ook weet is dat geluk kan kom en gaan. In oomblikke, oogwinke kan alles verander.  Ware geluk lê egter nie in oomblikke nie. Nee, ware geluk ontstaan uit herhaaldelike keuses wat jou in jou leeftyd maak. 

Lees hoe mooi skrywe Stephanie Dowrick: “Happiness can come in a single moment. And in a single moment it can go again. But a single moment does not create it. Happiness is created through countless choices made and then made again throughout a lifetime. You are its host as well as its guest. You give it form, shape, individuality, texture, tone. And what it allows you to give can change your world. Happiness can be stillness. But it isn’t still. It wraps, enchants, heals, consoles, soothes, delights, calms, inspires and connects. It is on your face and in your body. It is in your life and being.”

 Oudste is steeds passievol oor lees en woorde. Bab ook. Wat ‘n seën.

_________________________________________________________________________________________

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=779975

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).