Ek het vandag ‘n baie bevrydende ding gedoen. Ek het Maandag gekanselleer. Tuis gebly en net gedoen waarvoor ek energie gehad het, wat min was.

Ek is in die bevoorregte posisie om ‘n span liefiemense te hê wat ons besigheid se deure te kan oopmaak.

Vanoggend toe ek met muf in my brein wakkerword, weet ek dat myself en almal in my lewe ter wille van, nie ons kliënte of die gemeenskap waarin ons ons bestaan moet voer, in die oë moet kyk nie. Sleg vir oorlewing vir almal as my brein linksfokkerig is.

My ega van 33 jaar is stywenekkie al vir ‘n maand en ons sien die spesialiste eers oor twee weke. My roetine is kos vooruit regmaak, soggens bed oortrek, hom help met stort en skeer en salwe insmeer, dan werk toe ry om saam met ons kind ekonomies te oorleef.

Ek is oorweldig toe ons na 30 jaar my man se baard en hare afskeer. Die gestroopte Jode in die konsentrasiekampe tafereel voor my verby. Ek was lanklaas so ontstemd. My gesin is oorbluf oor ek so emosioneel is. Maar as jy vir amper twee jaar kyk hoe chroniese pyn jou liefiemens wegsteel, dan kan verdere weggee aan persoon mens destabiliseer.

So bly ek saam met Rots en my huisbestuurder tuis. Die selfoon lui, ek gee kaggel raad en bestel goed wat later vir mense wat ek nie ken nie, snoesig en veilig warmte sal bied, in my pajamas.

My huisbaas kyk my skuins aan toe ek wil help opruim. Sy jaag my siekekamer toe. “Gaan slaap.”

Ek besluit om saam met Rots en die hondekinders op die bed te gaan lê. Saligheid.

Die dag is verby.Ek sit nou op die stoep en weet, versorgers moet sorg, maar kan ook soms ‘n Maandag kanselleer. More probeer ons weer.