My superkrag is hoogs aanpasbaar en plooibaar, en word slegs deur lesse aan eie bas  verwerf.

Oor die jare het ek geleer om ‘n verskeidenheid weergawes van myself vir verskillende mense te wees.  Kalmte in krisisse is aan die voorpunt en dan dat ek, gegewe wat die krisis is, ook dié deskundige is: die dokter, die apteker, die dierekundige, en so aan.

Ek is ook klaarblyklik die mens wat alles vir almal om my gelyk maak. Ek mag weet van geldnood, ek mag weet van hartseer. Ek kan vertaalwerk doen, ek kan krom briewe regskryf, ek kon selfs op ‘n stadium goue eiers lê. Hase uit hoede trek – daai krag

My superkrag het baie aantrekkingskrag gehad. Baie mense het my bewonder.  Dit was asof ek koning Midas was. Die organisasie waarvoor ek gebedel het was beïndruk – hulle het ‘n goue pen vir my gegee. Pfft. Tot ek onderhandel het om flexi-ure te werk. Daai kaait het nie gevlieg nie, en ek is huistoe. Eenkant op die plaas gaan sit en net na my huismense en my honde omgesien.

Die fêns het verdwyn. Ek kry so nou en dan ‘n oproep omdat iemand na al die jare nog onthou ek speak both tales deliciously, onthou ek kon professioneel bedel. Maar ek trek nie meet daai kleedjie aan nie. Hy is motgevreet.

Die wat my superkrag nou benut is ‘n handvol. ‘n Groepie werkloses wat 190 monde daagliks volhou. Dit is goed en lekker. Hulle groei en gedy, omdat hulle self die groot werk doen.  Ek is net rasieleier is en die donateur hou van wat ons regkry.

Ek is ook rasieleier vir my Rots en my Bab, en Mielie en Jurels en Boeta and MM. Ek skreeu my hart uit op die kantlyn van hulle lewe. Baklei soms bietjie ook.En ek is ook die kwaai ma van die kinders van ander ma’s wat vir ons werk.

Ek weet alles – word as Google gebruik deur my mense

Ek alleen mag die toiletrol vervang, die tandepasta vervang, die suikerpot hervul, die nuwe bottel melk in die yskas sit…

Net ek kan hondegemors in die huis opvee.

Dan is daar klomp ander onnoembare takies wat net ek kan doen – naels, hare….jy weet.

O ja, ek ek kan goed my moer strip – dis epies. Ek werk hard om die een te laat gaan.

Mag die (super)krag met jou wees. Ewigheid en daarna. (May the force be with you. Infinity and beyond)

Hehe…die eintlike superkrag is dat ek lekker stories kan spin! En ek vat lank om te leer.

_________________________________________________________________________________________

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-JouEier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-JouEier: Reëls (2017-08-22) en Lê-JouEier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).