Ek is met my liefie en beste vriend, my Rots, in ‘n woordgeveg betrokke sedert 2012. Ja, regtig. Reine waarheid. Olimpieks op die stoep. Ons hou boek.

Ons skrabeer dikwels, beste uit drie. Op ons stoep.

Die braaivuur brand hoog. Brand uit soos vanaand. Woorde vleg oor die bord ineen. Ons hoor die iPod se mooie musiek skaars. Die ys smelt dat die wyn waterig raak. Die brakke vry verniet om ons knieë vir aandag. Minute word ure.

Hy skud plegtig my hand wanneer ek hom die loef afsteek. ‘n Sportman by uitstek. Ek maak ook so as ek die onderspit delf. Dit gaan oor die saam speel, nie die wen nie.

So het ons in tye van vreugde en soms groot seer, saam, om die tafel op die stoep, onsself in woorde verloor.

Dis ‘n voorreg om nog saam te kan en wil speel.

Oor en uit. Die tweede rondte gaan begin…

NS.  Ek loop voor. 😉