Wie is jy? Sit bietjie stil en dink. Jy, jou lewe, jou liggaam, jou hart, siel en gees. Jou plek  hier op aarde. Wie is jy?

Jy is ‘n versameling  van 1000 600-bladsy volumes in God se hande. Dis hoeveel jou genetiese struktuur op papier sou beslaan. Hy skrywe van jou, in jou. Hy hou jou in Sy hand.

Nes boekliefhebbers van ‘n nuwe boek hou, die ruik van die ink in asem,  so word jy in jou Skepper se hande gehou. Die Outeur is stil tevrede met Sy skepsel.

Jou DNA is so kompak dat dit in ‘n ys-blokkie sal pas, en as dit uit mekaar gehaal en aaneen gestring sou word, sal dit vier keer tussen die aarde en die son pas!
Wonderbaarlik, net in jou liggaam. Net jy.
Kou daaraan wanneer jy minderwaardig voel, as mense se woorde en dade jou ineen laat krimp.
Wonderbaarlik is jou Skepper se liefde vir jou.
Jy is ‘n vaatjie waar in Hy Sy beste, nuwe wyn giet. Elke dag, nuut gemaak.  Om weer jou beste te kan wees. Om Sy hart, oë, ore en hande te wees. Soos Mmusi Maimane onlangs gesê het, bring jou emmer en luister en doen wat God jou vra.
Waarom sal mense se woorde dan nou so belangrik wees dat jy nie kan leef nie? Kan hulle tot die son reik of oral wees?
Maar ook: Waarom kyk jy neer op die bedelaar by die robot? Die ongeskikte taxi-bestuurder? Die korrupte politici?  Die vrou wat nie soos jy leef nie? Jou buurman, jou skoonma, al die mense wat jou dwars in die krop steek?
Hulle DNA  pas ook vier keer tussen die aarde en son.
Hulle Skepper huil, Sy hart breek. Want Hy wil dit nie vir Sy skepsels nie. Al die haat, nyd, onmin, korrupsie, gierigheid en selektiewe omgee.
Tree vir almal en jouself in en bid dat almal ook nuwe wyn in leë emmers gegiet kry.
Wees God se hande, oë, ore en liefde.
Bid en doen.
Dis hoekom ons hier is.