Die laaste dag van ons seevakansie breek aan. Ons pak traag ons voertuig en laai twee leë waterbottels op die agtersitplek. Ons gaan vir oulaas op die strand stap en vir ons liewe Elisa seewater skep, sy het ons laat belowe.
Ons ry ‘n ent deur die mooi buurt met sy seeuitsig wonings, die een se stoep mooier as die vorige en deur die ruigtes, sien jy die branders breek en ruik jy die see. Ons stop by die hoofstrand, dis winderig en betreklik stil. Teen ‘n grasbedekte skuinste met skewe sementtrappe af, en ons is op die strand. Daar is ‘n rotsrif regs voor en ons stap soontoe. Loop al langs die branders se spoellyn en trap maar suutjies. Oral lê bloublasies uitgespoel. Dis hoekom dit so stil is.
‘n Regte mannetjieswind waai ons kuiwe in vreemde style en ons hemde staan bol- soos seile reg om die groot blou in te vaar. Ons lag te lekker en proe die soutsproei. Almal uitgerus en vrolik. Ons klouter teen die rotse op om by ‘n poel uit te kom en die waterkanne vol te maak. Gou eers tuur oor die water en kyk hoe die branders uitspattig teen die rotse breek en seeskuim hoog die lug in spat voor dit op die rotse om ons neerreën.
Ons klouter traag af, en volg Rots wat strompelend met 10 liter seewater aanstap kar toe. Die rit Noord wag op ons. Sy spore op die sand is diep ingeprent. Die son gooi mooi skadu en ek en die kameralens is doenig om die oëverblindery vas te lê.
Ek mis amper die fyn blonde vrou met die bos rooi angeliere wat by ons verbystap, daar na die rotse waar ons nou net saam gelag het. Sy lyk geslote, in haar eie gedagtegang en emosies vas, oë op die rotse en die see gefokus.
Sy stap oor die nat sand, al waar die golwe sopas ons spore uitgewis het , tot by die rotse. Ek kyk hoe sy, blomme in die een hand, wankelrig klouter tot aan die voorpunt van die rotse. Daar waar die golwe teen pletter en seesproei verdiepings hoog die lug inskiet en water maal.
Skynbaar vreesloos, staan sy op die gladde rotse, enkeldiep in die malende, spattende water. Sy gooi die rooi blomme een vir een die see in, die wind bring hulle voor haar voete terug en die see neem haar offer aan. Ek hou my asem op. Dit lyk of sy ook self enige oomblik meegesleur sal word.
Wie sou sy so kom gedenk?
‘n Seun wie verongeluk het?
‘n Man, wie se gunsteling visvangplek dit was, en dit nooit weer kon besoek nie?
‘n Dogter wat hier die see ingespring het?
Ons sal nooit weet nie. My hart breek in medelye vir onbekende redes, en ook die o-so bekende seer en verlange.
Die simboliek om ‘n geliefde te gedenk kan ons verstaan. Was die aksie vervul met bitter, soet, opstandigheid of berusting? Ons sal nie weet nie.
In elke rouproses is die fases ‘n rol van eindelose golwe wat op ‘n mens afspoel, jy moet deur elkeen, totdat jy almal leer ken – woede, vrees, angs, ontkenning, aanvaarding, berusting en vrede met die nuwe bestaan sonder jou liefmens.
Die golwe kom nie in volgorde nie. Die gety is ook nie altyd stormsterk nie, party dae soos tyd aangaan, kom klop hulle saggies om jou voete. Dan raak jy gerus. Op ‘n dag kom spoel hulle jou onverwags sommer onderstebo. Nie een mens ervaar dit dieselfde nie.
‘n Mens moet deur sulke dae beur en dit beleef. Jouself kans gee om die emosies te deurleef, die storm uit te woed.
Om die emosies te misken en die golwe te onderdruk is gevaarlik. Dit spoel maalklippe van seer en onthou binnetoe. Dis naderhand jou borskas vol, en jy verdrink van binne. Dit neem jou op ‘n reis wat net om en om en om in jou woed. Tot mal word toe. Dit beroof jou in-die-lewe geliefdes van jou. Dan wil ek nie eens praat hoe jou eie groei en menswees uitgehol word nie.
Tot op ‘n dag wanneer golwe van verlang en wonder hoekom, jou weer oorspoel en jy hulle laat los. Die onthouklippe uit die maalkolk met sout-sout trane laat uitspoel. Dit is ‘n groot storm, maar jy oorleef. Dan skielik word dit stil, en jy weet jy gaan leef. Nie die oorspronklike jy nie, maar ‘n nuwe weergawe. Die een wat weet hoe om storms te kan trotseer.
Wanneer die waters van seer en gister skielik opslaan soos ‘n blou,blou storm, en die soutsproei jou oë laat brand en jou byna omslaan, onthou dat dit sal verbygaan.
Staan vas soos ‘n geel sonneblom en draai jou kop na die son, ‘n offer in die sekere wete dat die gety gaan draai, die storm gaan wyk, en kalmte en rus sal sag oor jou spoel.
Leef met jou eina saam, dit is deel van jou, en onthou deur blomme in die see te gooi.
Dit is ongelooflik mooi geskryf! En almal kan verband hou met dit ♡
Lief, lief, lief hierdie stuk!
LikeLike
Presies wat ons nou nodig het…… skitterend
LikeLiked by 1 person
Hartseer…maar hoopvol ♥
LikeLike
Weereens, moes ek vandag dit hier kom lees by jou.
❤
LikeLike
🌹
LikeLike