Vanmore stap ek om die voëltjies kos te gaan gee. Die rose en loof in my Biebs se vaas en die robynrooi klippertjies lyk soos ‘n outydse skildery daar van Rembrandt se era. Die son wat uit die voorhuis se bo vensters afskyn en die klippers laat glimmer is vir my so mooi.

Op ‘n strand in Wildernes aan die suide van ons land , op ‘n eiland in Mosambiek na die ooste gooi maats vir my ‘n kommer klip in die see.

Elke maat wat bid, wat nie die ooglopende vrae vra nie. Die stil ‘ek is daar vir julle‘ is die wind onder slap vlerke, die kom ons leef oomblik vir oomblik besluite se woema.

Laat my dankbaar dink dat elke klippertjie wat in die lig robyn, verteenwoordig elke mens om ons, naby en ver se omgee vir die Maré’s van Doornbult se Heksiehuis en help om die steil pad wat ons nou loop, draagliker te maak met meelewing en begrip.

Die langasem vriende van jare wat bel, bemoedig, kom besoek aflê, ons naby familie se koester omgee, die verlore vriende wat die tou van vrede wat ek langs die verbrande brug uitgegooi het, vasgryp, daai klippertjies is in die vaas.

‘n Liefkind kom kuier vir sy oom en bring vir die tannie ‘n sak aartappels en ‘n skaapboud.

Irene my oud-kollega engel versorger wat vir ons intree en voor loop in ons pad deur die hospitaal pasiënt prosesse. Wat die apteek en plan vorentoe beplan. Wat al ‘n rolstoel reg het, wat luister as ek begin snik, want hoe kan ek my kind en tante met my sorge belas, hulle het dan dieselfde potjie om te roer. Sy robyn mooi in die vaas van genade.

Ons geliefde nefiekind en onse Marelize reis van Pretoria om te kom kuier. Bang oog klim hulle uit die bakkie, ‘n ruiker blomme en ‘n melktert keer groot drukke. ‘n Sak vol jellie en vla, piesangbroodjies, gemmerkoekies en pampoenkoekies word ook ingebring. Maar ai as die kinders net weet dis nie net die karmenaadjies wat mens se hart vol maak nie, dis die warmte van ‘n drukkie en die witoog weersiens wat ons bekers nou laat oorloop.

Joyce Meyer se twee houers geloof pille, “Trust in God” en “Do good,” wat my en Bab en Tanna vanmore laat halleluja roep. My man wat moedig oor pyn beheer en sy nie-omdraai lees uit Prof Albert Alberts se Kennis klop kanker en so eerlik op ‘hoe voel jy vanmore‘ antwoord. My Rots wat die brakbende met hulle happies gedoop in sy koffie bederf, ongemak ten spyt. Die klippertjies wat in die sonlig robyn sprankel mooi op die kombuistafel.

Pippa stuur vir my woorde vir my muur: “The magic cannot leave you when it is you.” Haar klippertjie is die een wat die son laat flits oor die tafel. Onse Pippa wat in Basra, Irak ‘n avontuur uitleef.

More se dag moet die moedige manne wat sommer ons regering moet word, daai rugby koppie by die swart kant weggryp. Was die kanterige katterige kerm van ou Curry nou vandeesweek ‘n bron van lag en terg. Ons pittige nasie wat debakels met Minora skerp humor sal takel. Daai klippertjie robyn vrolik in die vaas.

Ons werkers wat honde bad, wittand lag, gras sny en beddings berei vir die somer saad, hulle klippertjies robyn mooi in die vaas. Dit word gestoffer en gevee en gestryk. Pure omgee genade en liefde word in oorvloed oor ons gestort. Die klippers robyn in oorvloed.

Gee ons veerkrag om vandag se oomblikke te hanteer. Laat ons uitsien dat liefmense kom inloer.

“Resilience is both a character trait and a learned skill. The tough part about being resilient is you can only develop this skill by going through hard stuff. The amount of times I heard no or had a door shut was amount of times I was going to climb through a chimney or window. I was going to bust through something to get to where I needed to go. I was going to find a way, and pressing along become an integral part of my story. But I wouldn’t change the hard parts because the hard parts were necessary to build the strength needed for what was coming next.”

– Becky Hammon

Ek het al harde pad moes loop. Geleer plan maak, veerkragtig geraak. Soos Becky hierbo, kan jy my nie sommer in ‘n hoek in verf nie. Want sien, ek het geleer om die baksteen in die hoek agter my met my vingernaels los te woel. Uit kom sal ek uitkom. Ek besef weer die veerkragtig leer wees het ‘n ander motiveerder as net oorleef.

Dit is die klippertjies wat robyn in die sonlig wat meehelp. Liefde en meelewing van lief mense wat jou rasielei terwyl jy die baksteen loswikkel en jou weg vind. Dit en jou lewenslange herhalingsvoorskrif van ‘Vertrou op God’ en ‘Doen goed.’

Groetnis.