Rumi sê: Ons is tuis hier by die Heksiehuis

Heilige week

Na seer week 13 se verbygaan, breek Palm Sondag aan. Die Hosanna blye dag dat Jesus die jonge donkie gekies het om Sy koningswerk te voltooi. Die heilige dae voor Goeie Vrydag tik verby.

So terwyl ek en liewe Juilas en Kokol en Lucky en Elisa plante in die tuin staan maak. Ons herplant die petria en clivias in die binnetuin onder die waaiende palms. Alles immer duidend na die veranderinge, die belofte dat tyd nuwe lewe en groei sal bring. Alles beduidend op Jesus se Goddelike liefde en offer aan ons.

Heel week lees ek van verraad, verloëning, vervloeking, verguising, vernedering en vernietiging wat ons ter wille deur Jesus ervaar is.

Hoe hy onthuts die kerk van Sy tyd berispe het omdat die tempel se voorhof waar nie-Jode kon kom aanbid, as ‘n markplein gebruik is, en so ontheilig is. Hoe Judas se 30 silwer stukke loën geld deur die einste owerstes gebruik is om vir nie-Jode ‘n begraafplaas te koop by die pottebakker.

Hoe Petrus, Jesus se geliefde dissipel, Hom drie keer misken uit eie belang en vrese. Hoe Pontius Pilatus en ander hom verneder en vervloek en die Israeliete Hom verwerp.

Net een persoon in die heilige tyd verheerlik Hom. Die vrou met haar kosbare albaste fles nardusolie. Hoe teer het sy Sy voete met haar trane gewas en Hom simbolies gebalsem, asof sy al reeds geweet het Wie Hy is en wat Hy vir ons sou gee: Sy Lewe sodat ons vry voor die Drie-ënige God kan leef, vir altyd.

Die Pase se volmaan het Vrydagoggend nog stil en heel bokant die windpomp in die pienkblou sonopkomlug gehang. ‘n Stil heilige oomblik, met voëltjies wat kwetter en geel vlinders wat oor die grasperk fladder.

Vrydag het Rots en Bab en ek en my twee oorblywende tantes saam om ons kombuistafel in die Heksiehuis kom aansit vir ons Paasfees ete. Kerrievis, suurlemoen hoender en slaai en natuurlik, paasbolletjies. Ons het saam Jesus se woorde by die eerste Nagmaal gelees en brood en wyn saam gebruik. Dit was spesiaal.

Bab het ons elkeen bederf met ‘n sjokolade paaseier. Ons onthou so die nuwe lewe en groei en ook dat Sondag ons by ‘n leë graf sal kan getuig: Hy het opgestaan! Die dood se angel uitgerek en ons laaste slaap ‘n uiltjie knip om dan vir altyd by ons Vader, Seun en Heilige Gees te kan wees.

Vroeg op Stil Saterdag, die dag wat Jesus gerus het in Sy graf voor Hy met vir ewig besig sou raak, is alles wel in my siel en hart. Ek sit dink aan die harteloosheid, oordeel en meerderwaardigheid wat die mensdom teenoor mekaar betoon. Een klomp sommer in die naam van geloof, ander weer in oordeel oor ander se geloof. Ek loop ‘n spotprent raak: as Jesus ‘n T-hemp sou dra, sou John Lennon se woorde op Sy bors staan? “Imagine all the people living life in peace…”

Rev. Dr. Mark Sandlin se kragwoorde spring uit die skerm en kom bly in my kop.“When interpreting the Bible, filter it through the larger biblical theology of “God is love.” If your interpretation ends up excluding, belittling, is violent, ignores those in need, or allows you to feel superior to others, it is not loving, it is not from love, it is not of God.” Sela.

Die neigings tot uitsluiting, verkleinering, geweld, meerderwaardigheid, oordeel en vervreemding sal my immer in die krop steek. Spasie maak, empatie en liefde die dinge wat ek met my alles sal najaag. Klaaglik faal, maar altyd, altyd weer probeer.

Ek dink aan ons geliefdes wat besig is om afskeid te neem van hulle lewens en geliefdes. Sal dit die laaste Paassondag wees? Net die Here weet. Ek bid met my hele hart dat my liefiemense deur vrees en angs sal breek en vashou aan God se vir altyd belofte. Dat ons nou groet om eendag weer te kan hallo sê en nooit weer totsiens nie.

Die oop graf dag sluit heilige week af, dan kan ons fokus op die opdrag om God se hande en voete en hart in die wrede seermaak en seerkry wêreld en stil getuies wees van Jesus se hemelvaart waar Hy aan Sy vader se regterhand sit om namens ons in te tree. Blyer versekering kan mens nie voor vra nie.

Op die Heksiehuis front

Op gewone leef vlak gaan dit voor die wind. Die Heksiehuis en tuin voel soos my eie. Ek voel tuis. Ringo en ek het ook gisteraand vir ‘n onwelkome kuiergas ‘n les geleer.

Ons het met loadshitting lekker na die windpomp sonsondergang sit en kyk toe Ringo en die boeties benoud kef. So ‘waddehel, Ma kom kyk hier’-blaffies.

Ek het sommer geweet. Spoegkobra se kind seil daar by Rots se buite braai rond. Hy wil nie deur die heining nie, en mik na my hondekinners. Ek het sommer die koletang gegryp en gefoeter.

Hy lê nou oorkant die heining om sy familie te waarsku, aan die anderkant ontmoet jy jou annerkant. Ek is bly ons het die tuin kon ontbos en tem dat ek wyd kan sien.

Ons geliefde EJ kom vanaand oorslaap en Maandag by ons deurbring. Sy koraalboom geskenk is geplant. Ek sien so uit om saam met hom aan plante te karring en om sommer net tyd saam met my suster se oudste te kan deurbring.

My geliefdes kekkel op die Tante se stoepie en die sonkrag liggies is om die stoeppilare aangebring en op RSG speel Leonard Cohen se lieflike musiek. “It is well with my soul,” sing my binnekant bly.

Soveel seëninge.

Lekker bly en veilig wees.

Groetnis en allesbeste.