My Rots is die jongste van vier broers. Ouboet en Ousus het onlangs vir hulle op Bela-Bela ‘n meenthuis aangeskaf. In ‘n aftreeoord. Hulle plek waar hulle na etlike tuimeldroër jare in verskeie verstellings, tot ruste kan kom.

By hulle het ons baie geleer van waardig deur ongeluk en krisis gaan. As ek moedhou en deurdruk moet beskrywe, sal dit ons oudstes wees wat ek sal voorhou.

In die onlangse tyd, sukkel Rots met skielike pyn en lamheid in die bene. So Bab of een van ons personeel bestuur langafstand. Die Toyota bakkie is outomaties, want Rots se arm en skouer eina het die aankoop dikteer.

Ja, my manlief is nou in sy ouer jare ‘n toonbeeld van rugby beserings wat die manne later inhaal. Jonkheid is ydelheid en rugby seëvier, sou my Oupa Faan geseg het. Ek stem. Dis net Arnica Ice, apteker rugpyn doepa en handevol vitamines.

Nietemin, ek dwaal af, ek was besig met die outomatiese bakkie. Ek is maar ‘n koppelaar en handrat liefhebber. Seker maar die beheer vraat in my wat nie die outomatiese ry opwindend vind nie. Dis so gelate manier van doen.

Ons wil vir Oudstes gaan kuier, Rots het seer, so ek moet maar agter Outo-merrie se stuur inskuif. Ek druk die sleutel in die aansitter slot en draai, niks gebeur nie. Rots vertel van die rem wat getrap moet word want die merrie begin terstond met die eerste knor van die enjin, loop. Ek maak so en daar sit sy en spin.

Ek word vertel van die skuif van parkeer na trurat. Genade, ek het skaars my voet van die rem gelig, toe gaat sy. Ek ry niks raak of bome om nie, en ons is uit by die veiligheidshek. Ry in die gangetjie tussen Porselein en Klei se onderskeie kampe of liewer harems deur.

Ons is amper by die plaashek, toe sê Rots ons moet terug, sy bankkaart is by die huis. Hier is geen omdraai plek nie, so daar moet ek vir Outo-merrie vir 400 meter in trurat terug ry. Praat van kits bedrewenheid. My linkerhand en linkervoet het skoon die ritteltit gekry.

Garmina wil links na die hoofpaaie, Rots wil regs via ompaaie. Ek sit my rustende linkervoet neer en besluit ek gaan na Garmina luister. Ry waar sy lei. By die ou hoofpad beveel sy links. Ons noem dit die prentjie roete. Deur die Ysterberg waar ‘n vliegtuig lank gelede teen vas gevlieg het, kese aan die skrop langs die pad, mooie Bosveld vistas.

Ons wyk by Mokopane af van die prentjie roete en klim op die N1-Suid. Ag jinne, sulke aardige pale skei die Noord-en Suid-bane. Voel heel engtevreserig langs die karavane Zambiese swaarvoertuie met koper vragte. Ons is summier by die Modimolle afrit terug op rustiger weë.

Ek besef so met die ry dat ek Augustus 2019 laas weg van die huis gereis het en elders oorgeslaap het. Skokkend hoe Covidtyd so uitwisser veeg oor mens se lewe kan gee.

Ewenwel, ons ry goed en net voor ete reis ons Bela-Bela binne. Rots vertel my die teenoorgestelde van Garmina, maar ewe vroutjielief gehoorsaam luister ek vir hom. Ons labirint die ouer woongebiede van die dorp binne, ry sirkel sirkel tot ons die Renaissance Aftreeoord se hek uiteindelik kry. Garmina was skoon stemloos met Rots se instruksies gestry.

Ons draai af in die straat waarna ons beduie is en daar sit Ouboet, wagtend in sy rolstoel. Breë glimlag op die gesig. Vreugde om mekaar te sien. Verras en bly vir hulle oor die mooi huis en omgewing waar hulle voortaan hulle onthou vuurmaak houtjies kan uitpak. Veilig en geborge. Weg van die gevaarlike Moloto-pad wat amper ons Ouboet se lewe geëis het. O, ons staan sommer al vier betraand en bly om mekaar te kan witoog en naby wees.

Vir my en Ousus hoef jy nie met gesels en klets aan te help nie, ons kwetter gou te lekker tussen smulhappies soos net sy kan berei en yskoue verversings. Ons terg en spot en onthou. Ons huil en spreek dankbaarheid uit oor die brawe wyse wat hulle meisiekind en haar gesin teen die verwoesting van kanker in haar lewe moedig voort stryk. Blydskap daar hul seun en gesin ook nie meer die vreeslike Moloto-pad ry nie, en nou naby goeie skole vir hulle krose in die stad bly. Oupa en Ouma se oge blink oor hulle kleinkinders se akademie en swem en gimnastiek en koor, en hoe mooi groot hulle almal word.

Ons deel nuus oor Bab en haar pa se Lekker Winkel wat woeker en spot oor mense Bab en my vreeslik met mekaar kan verwar. Oudstes spot my dat sy wel na my lyk, maar gelukkig het sy haar pa se flegmatiese geaardheid en nie my vurigheid nie. Behoed my as twee van my onder een dak moet bly!

Ousus vertel van die gemeensaamheid wat hulle ervaar, bure wat kom stoepkuier, hoe die Lapa saal groot pret en plesier meebring. Daar kom almal in die ruim kombuis bymekaar om vetkoek en maalvleis te maak en op bestelling te verkoop om die oord se fondse te sterk. Daar is nog ‘n saal, Die Nes, waar begrafnisse en troues gehou word. Dit klink vir my goed.

Sy vertel van die rek en strek groep wat saam oefen, sy inkluis. Haar oë blink. My hart klop warm, die gelukkig waar ek bly skyn uit my dierbare skoonsus se neut bruin oë. Sy vertel hoe sy selfs na die lyndans groep genooi is. Met haar hande so op haar knieë waarvan sy oor tyd baie pyn en las ervaar het, lag sy. “Kan jy my nou sien skop en systap.” Ouboet sê sy moet vertel van die paaldans-insident. Ons almal skater nog voor sy vertel. Die Renaissance oord klink na ‘n lekker loslit plek.

Skoonsus giggel. Sy wou haar kleindogter vertel van die lyndans. In haar entoesiasme verspreek sy haar en praat van paaldans en vra of haar kleinkind weet wat dit is. Haar kleindogter het haar ouma verslae met groot gerekte oë en oopmond aangestaar. Dis eers toe almal skreeu van die lag dat sy haar blaps agterkom. Nou heet sy Paaldanser. Sy word eindeloos daaroor geterg.

Op navraag vertel Ouboet hoe hy fluks die rolstoel rit na die kantoor doen om pos uit te haal en hoe hy lekker snoeker met die ander menere van die oord speel. Ek vra of hulle lekker die balle sakkie toe stamp. Hy lag lekker en heet terstond Ou Ballie.

Laatmiddag so met skemer sak daar ‘n genadige bui reën uit. Ek is so oorstelp dat ek buite die stoep afdak hande in die lug die druppels teen my vel laat afloop. Ek tol sommer kinderlik in die rondte. Toe ek so oorkant kyk, staan ‘n buurman my en gadeslaan. Ek gee toe maar ‘n danspassie en hy maak toe ook so. Ons almal lag oopbek van pure kinderlike vreugde. Die mal reëndanser. Ek het later sommer ook kaalvoet in die waterplasse gaan spatter, want die vreugde was groot.

Rots en Ouboet het vuur gemaak en die lieflike plat braai wat Ouboet se seunskind vir hom laat maak het word so al om die rand van die stoep geskuif sodat Rots kan skaaprib en -tjops kan braai soos net hy kan. Hy is al lankal die familie se hoofbraaier, so hy kry nie ‘n naam nie. Rots is Rots.

Hierdie was ‘n onthou-kuier. Toe ek op my horlosie kyk was dit so net voor 19h00. Toe ek weer my oë knip is dit net na 23h00. O, ja, die Chardonnay was lekker dankie! Dit het 19 mm gereën en ons het met harte vol vreugde en dankbaar kooi se kant toe gestaan.

Heel gepas dat die plek waar ons Oudstes ‘n holte vir die voet en rusplek vir die siel kom kry het Renaissance heet. Viva vertel dat hernuwing, herlewing, heropbloei, heroplewing, weeropbloei, regenerasie verwante woorde is. Ek het heropbloei, vernuwing en vonkel in die oog herlewing die naweek met my eie oë gesien in ‘n meenthuis te Vlei-Loerie Straat, Renaissance Aftreeoord, Soetdoring Straat, Bela-Bela. Daar waar Paaldanser en Ou Ballie bly!

Op pad huis toe met klomp lekkerte in die hart, die inkleurprente wolke van die vorige nag se reën ons op. Dit lyk of die engele met grys en wit kleurkryt speel. Ons stop by die laaste hoofweg vat-‘n-blaaskans om vir Bab-hulle middagete te koop. Die plaas is deesdae gedurig kragloos. Ons is egter vol vreugde want 22mm het oornag op Waterval geval!

Terwyl ons wag op die bestelling koop ons twee draai roomyse met sout karamel bedruip. Ek het met leë gedagtes in die son gaan staan en daai in die oomblik genot van kleintyd het my oorspoel. Sorgeloos met die kil koue roomys en sout-soet kraak van die karamel. My tong het geproe, my neus het geruik, my vel het die son gevoel en die wind het my kuif so veeg gegee. Op herlewing en hernuwing het ek draai roomys in die hand, stil geheildronk en dankie vir genade, groot en klein, gebid. Halleluja. Amen.