Toe kom loer Suster Reën eergister middag uiteindelik hier op Waterval in. Genade, in my heugenis was die grasperk nog nooit so laat vuurhoutjie droog, en die arme agapante so verlep en dor nie.

Genadewater beduie Rots toe hy die reënmeter uitkeer. Hy glimlag breed toe hy die reëntabel uit die plastiekhouer teen die yskas trek.

Waar slaan ‘n waaierlem Sondagaand my regterhand se langeraat in ‘n uitstaande toestand in. Dis groot skrik. Jy weet hoe spuitbloei ‘n vinger. Ons moes toerniket trieks gebruik om die lit verbind te kry. Bab het omtrent ‘n pak gaas en taaipleister opgebruik.

Langeraat se uitstaande status lyk baie na daai ongeskikte vloekerige regop. Maar dis al manier hoe ek die seer geklop kan laat bedaar.

“Dis nou omtrent ‘n f.. jou houding wat jy moet inslaan,” giggel al my huisgenote. Humor is maar alte dikwels ons medisyne teen skrik. Dit gaan vandag aansienlik beter en die winkelhaak is mooi terug geheg. Dankbaar is ek. Dit kon erger uitgedraai het.

Dankbaar in die algemeen gaan erg beproef word. Sue Op en Wakker se onderhoud met Prof Johan Willemse het my dit laat besef.

Die oorlog tussen Oekraïene en Rusland se impak op die koste van kunsmis, yster, sonneblomolie en koring, gaan ons voel.

Boerdery insetkoste, staal vervaardiging selfs onse kaggels en die bord kos voor ons gaan maak dat ons met biekie kos in die mond gaan mor en moeilik na dankbaar soek. Ons gaan nog langer dra aan duurder ligter kosmandjies en krimpflasie.

Loadshitting gaan ek nie eens meer oor praat nie. Hier by ons gebruik kabeldiewe die voortslepende beurtelinge duisternis om substasies te ontkoper. Onse Ramaposie se kaders se swak makrovlak bestuur het ons krane droog en slaggate in dorpstrate loop vol aan riool.

Jy het gedink slangsleepsel is die laagste laag. Wel ‘n skoolmaat het my reggehelp oor waar laag werklik is. Ons is nog nie by haaipoef vlak doer vêr onder die see nie.

Trek grootdogtertjie en -seuntjie pênties aan en sit jou duikbril aan. Duik gaan ons duik. Tot ons by daai plek kom wat nie laer en slegter kan nie. Dis daar waar ons die spaar bottel suurstof sal moet uithaal en by die laer as laag vasskop en begin terugkrabbel. Terug na lig en lug. Opwaarts meter by meter. Vasgryp aan elke gerfie dankbaar.

En dan as ons bo kom is dit verkiesingtyd. Maak seker jy en almal om jou doen wat reg is.

Genoeg aan swartgallerige toekomsblikke. Aspris moet ons ons dankbaargerwe optel. My kinners van ander mammas en oumas het kom naweek.

O, daai haasbek glimlagte en warm lyfies het my beker laat oorloop. Boeta en Milamuis en die hondebende het die huis in ‘n vrolike warrel omskep. Die nethuis het die twee fassineer. Die gul groeiende eiervrug en Mariana jêmtamaties het die ogies laat blink.

Die aspersies wat na ‘n bonsai denneplantasie lyk het hulle pappa betower. Dis nogal ‘n hoopvolle affêre om aspersies van saad te kweek. Ons gaan eers oor drie jaar die smulte kan oes en geniet. Dis mos hoe mens sorge besweer. In geloofsvertroue en dankbaarheid.

Ek en my kinnerkies het blaarslaai saadjies geplant. Vanmore het die eerste saadjie sy koppie bo die groeigrond uitgesteek. Verwondering dat lewe uit so ‘n speldekopsaadjie ontkiem.

So oppad om te gaan plant sug Milamuis vreeslik. Ek vra wat pla. Sy keer haar handpalms moedeloos na bo en vertel dat hulle almal hulle klere in een tas gepak het en dat sy in die proses haar langmoubroek by die huis vergeet het en haar knieë kry koud. Ek en Liewe Jesus het bly gelag vir die bekkige blom.

Buiten die Brisa voëlboek met sy klankkatoeter wat die twee se aktiwiteite hier by my se hoogtepunt is, is die nethuis en kweek van groente nou sterk tweede. Wat ‘n voorreg om Oumatannie Plaas te kan wees. Ons al drie moes skrop aan ons rooigrond hakke.

Ek het nou so lekker warmte binne my. Daai laer as laag waarna ons reis skoon verdring. Dis goed om aspris in die oomblik ‘n aar van dankbaarheid by die bestaand gerf te voer. Voor jy weet is dit armsvol. Mooi loop.

NS. Daai pers skottel spinasie is uit die buite groentetuin geoes. Lekker gesmul aan spinasie, ui en aartappel met plaasbotter en peper. Dankbaar vir die voorreg en elke nuwe son opkoms.