Artist Lisa Aisato

Hoe ouer ek word, hoe meer leer ek. Van myself, van ander. Van vasbyt, van ewige verander, verander, verander. Daai is ‘n konstante ding, die verandering.

Nou die dag kom klomp goed kom so gelyk by my aan.(Amanda, Penpunt, ek deel jou verstomming dat as jy iets moet leer, sal die heelal sorg dat jy die boodskap kry. Net oop oë en ore is nodig.)

Eers vertel Amore, ons radio engel wat post-Covid effe vergeetagtig geraak het, van ‘n Sufi gebed. Sy kan nie die outeur onthou nie. Iets oor harte wat gebreek moet word sodat spasie gemaak kan word vir onbeperkte liefde.

Sy gesels met Johannes de Villiers wat nou ‘n boek oor blydskap geskrywe het. Ek lees weer sy boek ‘Meer as jou seerkry’. 

Julle ken my ook al, ek is ook terselfdertyd besig om Clarissa Pinkola Estés  se Women who run with the wolves na baie jare weer te lees. Met ouer word wysheid en aandag.

Sowaar lees ek sy vertel dat Sufi’s  só bid dat God ‘n mens se hart moet breek: “Shatter my heart so a new room can be created for a Limitless Love.” (Clarissa Pinkola Estés Women who run with wolves)

So kry ek ook op RSG se ‘Wie is ek’ verdere krummels. Hulle gesels oor post traumatiese groei.

WAT! Groei! Wat van al die baie jare se  trane en seer en pyn en wroeg. Wat van die post traumatiese gebrokenheid en pille vir normaal? Ek sit en dink ag, rêrig, groei. Verander en immer onder konstruksie is eerder raak.

 Amy Canevello, ‘n sielkunde professor aan die Universiteit van Noord Carolina, VSA, bevestig dit. Sy reken posttraumatiese groei is ‘n “…constructive process. Trauma shatters your worldview and disrupts your core beliefs. And post-traumatic growth, at least theoretically, is the result of you trying to put your worldview back together in a way that incorporates that traumatic event. You come out the other side looking different in some. Remember each individual’s experience is going to be very different and must be judged on its own terms. The priority should be providing whatever support they personally need to come to terms with their trauma, whether they are reporting distress or growth – or both at the same time – without imposing a narrative on their recovery.” 

Die ding met trauma oorlewing is dat mens se wêreld binne en buite uitmekaar spat. die inploffing en ontploffing so fel soos Russiese mortiere wat gebou en mense uitmekaar skiet. Aan flarde, in duisend stukke. Probeer soos jy wil, jy kry nie alles weer soos dit was nie. Jy kyk anders na mense, na jouself.

In sy boek ‘Meer as jou seerkry’ beaam Johannes de Villiers dit so: “Party mense sê as jy iets of iemand verloor, gaan ’n stukkie van jou dood. Maar eintlik sterf ’n hele weergawe van jou. Die persoon wat jy was toe jy nog getroud was, toe jy nog ’n huis gehad het, toe jy nog in ’n bestuursposisie was, toe jou hart nog moeiteloos geklop het, toe jy nog in jou eie lyf veilig gevoel het– daardie persoon is dood. Wie is jy nou? Wat beteken jy nou vir enigiemand? Jy weet nie… “

Ek kyk nou die aand op Discovery ID (ja, die moord en doodslag kanaal) ‘n tragiese verhaal van ‘n vrou wat gelukkig grootgeword het. Huis met pa, ma en drie broers. Binne jare is twee broers dood en die ma ook. Mens sou reken dis genoeg trauma vir een familie. Maar nee, die goedhartige pa word deur sy assistent bedonner. Sy het geld verduister, haar skuld beken en ‘n brief geteken. Sy sou aan hou werk en haar skuld delg. Goeie mens, die omie.

Die bedrieër se kêrel reken sy moes nooit die brief geteken het nie. Hy en twee makkers breek by die oom se huis in , skiet die oom en sy oorblywende seun koelbloedig dood, keer die huis om en vlug sans die gewraakte skulderkenning.

Aleta Jared, enigste oorlewende gesinslid en haar haar man het ‘n seer nagmerrie rit na die moordhuis. Sy is ‘n verpleegster en het polisie oortuig sy kon die grutoneel hanteer. Sy erken gruwels is erg as dit naby aan mens is. Haar trauma is vergroot. Huis oppak was swaar, maar sy is toe die een wat die brief in ‘n baadjie van haar pa kry. So word die moorde opgelos en die skurke ry aan die pen.

Aangrypend deel Aleta aan die einde van die program hierdie waarheid: “There is always the moon, but the deeper the sorrow carves into your heart, the more joyful memories you can fill it up with.”

“We have to be mindful that trauma impacts us all differently, and not to suppress or ignore our suffering in a naive pursuit of optimism,” sê Lee Chambers. “By minimizing our trauma and its impact, we may find ourselves not being able to healthily express our negative emotions and reduce our chance of benefiting from PTG by reducing the experience.”

Wat ek besef is dat ek nie meer van die veerkragtigheid wat almal so graag rondgooi, hou nie. Dit laat my al te veel aan daai helder gekleurde vere wat mens by die skou kon koop dink. As jy hom in jou hand hou en laat gaan is hy onbeheersd aan die uitrol en rittel. Amper soos Jack-in-the-box met sy nar gesiggie bonsend en buite beheer tot jy die deksel toeklap. Ek sou eerder van lewensdrang of oemf wil praat. Kompunksie, moedswillige oorlewing. Maar veerkrag nee. Johannes de Villiers bevestig my gevoel.

“Posttraumatiese groei is iets heel anders as veerkragtigheid, sê kenners van dié fenomeen. Die mense wat hulle bestudeer, bons nie terug van hul swaarkry nie en word beslis nie weer die mense wat hulle voor hul terugslae was nie. Trouens, veerkragtigheid en posttraumatiese groei kan volgens Tedeschi nogal in opposisie teenoor mekaar staan: Mense wat te vinnig van hul verliese en pyn herstel, kry nooit regtig kans om die lesse te leer wat uit daardie pyn te leer was nie en loop dikwels die geleentheid op groei mis.” (Villiers, J. B. d. (2022). Meer as jou seerkry)

Daar is opinies dat posttraumatiese groei hand aan hand met die vermoë om trauma te transformeer en teëspoed tot jou voordeel te gebruik.

Ons is tog almal tot ‘n meerdere of mindere mate deur die Covid pandemie en die gevolge geraak. Dis gans onmoontlik dat die skrik, inperking, opdoen van die siekte, sterftes om jou jou onaangeraak kon laat. Ek dink almal het stres en angs en onsekerheid beleef. Interessant dat daar in ‘n studie gevind is dat uit 385 respondente 88 persent gemeld het dat hulle wel positiewe uit die uitdagings rondom Covid kon haal. Tuisondderrig, verlies aan inkomste en gesondheid risikos ten spyt. Respondente meld dat gesinsverhoudings, groter waardering vir die lewe in die algemeen en geestelike groei bo aan die lys van positiewe dinge is.

Ons elkeen is uniek en derhalwe sal os reaksie op trauma wissel. Wat vir een erg traumaties is, sal vir iemand anders nie eens raak nie. Dit is belangrik om nie jou trauma groter of erger as ‘n ander s’n te ag nie. Johannes de Villiers sê mens kan “skuldig voel as jou trauma nie aan die woordeboekdefinisie voldoen nie.”

De Villiers waarsku ook: “Party traumas het nie eens ’n naam nie. Daar is mense wat voel hulle is in ’n betekenislose lewe vasgevang, met ’n werk waarvoor hulle nie omgee nie, kinders wat hulle verwens en ’n huwelik sonder fut.”

So ook met veerkrag, uithouvermoë, aanpasbaarheid. Daar is nie een-grootte-vir-almal oplossings nie. Die slim mense reken dat jou steun stelsel, karaktertrekke soos ekstraversie en ontvanklikheid, jou vermoë om die traumatiese ervaring te integreer en ontwikkeling van ‘n nuwe perspektief na die ervaring die sleutel tot groei is.

Die stemmetjie van waarheid en wysheid in my kop klop my op die skouer. “Jy en al jou vorige weergawes is oukei. Julle het dit gemaak en kyk wie is jy nou:

  • Jy kan vasbyt en sterk staan al loop die snot en trane en al is dit bang en seer
  • Jy het ‘n verhouding met God Drie Enig
  • Jy leef nogal dankbaar, stote en stampe en klappe en beskuldigings ten spyt
  • Jy is lief vir jou mense en bewys empatie en deernis aan baie mense (al hou nie almal van jou nie)
  • Hoop is vir jou ‘n werkwoord”

Weet jy wat. Ek is oukei. Johannes De Villiers bevestig dit vir my: “Groei is nie om terug te keer na wie jy was voordat dinge verkeerd geloop het nie. Dis om die nuwe mens te word wat ’n nuwe lewe van jou vra.”

Lees gerus Johannes Bertus de Villiers se Meer as jou seerkry waarin hy met deernis met regte mense oor hulle groei deur trauma leef.