Gister is Internasionale Dankbaarheid dag gevier. Die viering het in 1965 sy oorsprong gehad om ‘n dinee tafel van een of ander Verenigde Nasies komitee. Nogal ‘n oulike idee, maar ek voel so bleh daaroor soos oor braaidag, erfenisdag, al die gedenkdae.

Ek persoonlik vier stil Pase en nog stiller Kersfees om Die Een wat ons mensekinders alles feil het, te eer en aanbid.

Oujaar laaik ek niks. Ek verjaar, en dis my oorlede ouers se huweliksherdenking…familie onthou hulle en dan word dit ‘n treurigheid. Alle ander mense is besig met Nuwe Jaar. So bleh.

Daar is bykans iets te gedenk dag, elke kalenderdag propvol opsies.

Vandag (22 September 2022) is nie net seisoendraai dag (lente ewening hier in die suidelike halfrond) nie, dis ook onder andere Nasionale Roomyshorinkiedag, Renosterdag, Enkeloperdag, Val voorkoming dag (dis nou om te voorkom dat ons bejaardes nie van stortstoele, beddens, trappe en so meer af voeter nie). Dis ook Onthou my Donderdag vir verlore, rondloper en vergane troeteldiere en ook nasionale witsjokolade dag. Wit Sjokolade is nie sjokolade nie! Dit het nie kakao in nie! Pfft.

Dan is daar Dante- en Kalid dag- gewilde name in Islam, Italië en die VSA. Dis ook Olifant Wardeeringdag, en Vier Honderjariges dag. Ken jy enigsins ‘n honderdjarige, persoonlik? Gaan kuier dadelik.

Mali vier hul onafhanklikheid vandag, en mense vier iewers “Radiant Peace” dag – dis nou wat ons almal klaarblyklik in gemeen het. Jy kan my met ‘n nat snoek omslaan. Die wêreld is beneuk – almal met kloue om iemand se strot, oorloglustig, woke kanselleer-agtig. Ons ter plaatse is beurtkragbefoeterd (ha…jy het gedink ek gaan skrywe bef..) Waar is die blerrie stralende vrede?

O, dis ook Hobbit dag. Gandalf en Frodo op reis, “home is behind us, the world ahead.” Ook vier iemand iewers Liewe Dagboek dag.

Dit is ook maliekolder dag. Die Ingelse woord vir maliekolder is chainmail. Nee nie kettingpos dag nie, behoed ons. “Chainmail” (maliekolder) is daai ketting borswerings van die Middeleeue. Het jy geweet as ‘n ruiter en perd gemaliekolder is (dis nou heeltemal bedek met die ketting malies) mens dit katafrak noem.

Om terug te kom na dankbaarheid. Soos Middeleeuse soldate moet ons ons met dankbaarheid maliekolder. Ons pantser teen die aanslae van sorge en negatiwiteit en seer. Dankbaarheid is ‘n reddingsboei elke liewe asemhaal dag, gister vandag en more. By my agter-voordeur hang ‘n bordjie: “Vrede woon in ‘n siel vol dankbaarheid.” Ek moet gereeld hier gaan staan en dit ter harte neem.

Ek is toenemend erg besig om, aspris soos Pollyanna, seëninge te tel. Amper soos die mense wat met woede-issues tot tien tel, tel ek gereeld my gerf dankies op.

Want as ek die Eishkom loadshitting skedule en ook kragkabel diefstal wat ons chronies in die duister laat en ons noop om swembadwater vir die toilette aan te dra, en in ‘n wasbak te bad, en nie water kan gooi op plante nie, en die ore toedruk want die dors geloei van die vee maak jou mal, en jy wil nie op die plaas rond ry nie, want die kool verlep, want die besproeiing staan kragteloos vir dae, ter harte neem en ek nie my gerf dankies aspris optel nie, gaan ek gillende stofpad af jakkalsdraf.

As ek nie my gerf dankies byderhand hou nie, het ek my Rots ( afstanderig, afweserig, effe iesegrimmerig en vol pyne en skete) en my handoek neergooiende dogter al erg beseer. Dan sê ek maar dankie vir ons lang lewe saam, dat ons bymekaar is, dat ons ‘n liewe kind het, dat ons oorleef.

As mense en die wêreld my seermaak en ek kan niks daaraan verander nie, kyk ek in my Rumi se lief oge, en Ringo en Milo en klutskwyterige Metusaleg bejaarde Oscar ook. Hulle is eindeloos lief.

Dis nodig om teenwoordig in die oomblik, aspris doelgerig, meelewend lief en Pollyanna dankbaar te leef. Ek mantra dit aanmekaar. Ek is minder wipperig, rustiger in myself as ek dit voltreffer regkry. Ander dae klim ek maar terug in die bed. ‘n Enkele dankbaarheid dag is nie hoe mens dit kan uitleef nie. Dis doelbewuste, blerrie harde werk vir feilbare mense.

Die blydskap outjie, Johan de Villiers sê in ‘n gesprek met Amore Radioengel dat “omgee (empatie) beteken om te belê in ander se blydskap. Jou eie blymoedigheid neem toe as jy ander bly maak.” Hy verduidelik dat ons ‘n spieël neuron in ons brein het. Ons spieël en na-aap wat ons sien. As iemand gaap, gaap ons gou saam. Die geselskap wat jy hou bepaal jou gevoelens. Blymoedigheid en en dankbaarheid is nie moontlik as daar ongeluk en ongemak om jou is nie.

My gerf vol dankbaar in genade en liefde gestrik
Ek is dankbaar dat Yahweh oneindig lief vir ons almal is
Ek is dankbaar om te asem. Yahweh se lof word so ook besing. (Yah in, Weh uit.)

Dankbaar vir my geliefdes, vriende naby en vêr
Dankbaar vir die plek waar ons kan woon
Dankbaar vir die natuur wat ons omring – die bome, plante en diere en voëls waarin ons ons kan verlustig
Dankbaar vir my boekery en skryfplek waar ek myself kan uitleef
Dankbaar vir my hondekinders
Dankbaar vir my Elisa – vertroueling, vriendin en hulp
Dankbaar dat ons moeilike tye oorleef
Dankbaar dat ons ander kan help
Dankbaar om te kan gee – van onsself en ook hulpmiddele
Dankbaar vir die beskuit wat in die oond bak
Dankbaar vir die dankies wat ek ontvang.
Dankbaar
Dankbaar
Dankbaar….

Erna MAré 2022

Ek lees dié in Forbes tydskrif oor dankbaarheid: “Imagine gratitude becoming part of the daily routine for everyone ….We are all connected in a web of interdependency. Showing gratitude for the things that come to you from others is a natural way to honor and strengthen that web.” – Eric Mosley

So aan die Google kom ek op die mooi Nederlandse vers af: