img-20200710-wa00261302701342993999319.jpg

Dis al meer as 100 dae sedert die aarde soos ons dit begryp het, op sy as gekantel het en sedert die spreekwoordelike mat onder ons voete uitgeruk is. Sedertdien kommer ons oor kurwe afplatting wat niks met dieet te make het nie. Maskers is nie meer net vir bankrowe, teaters en pret geleenthede nie. Drukkies en soene en saamwees is verboten saam met rook en drink, aanvanklik.

Ja, 2020 het tot dusver soos ‘baked beans‘ opgedollie soos ‘n suikersoet donut  (dankie Positief vir die grappie) op ons afgekom. Die Covid-19 grendeltyd se kamtige ‘nuwe normaal’ lyk rêrig meer na Frankenstein se monster. Ons skrik en stres is gemasker want ons moet maskers dra. Rokers en drinkers maar oor die algemeen wetsgehoorsames, is misdadig gemaak. My gunsteling is egter hoe die Covid- statistiek soos kompetisie uitslae aan ons opgedis word. Waddehel, oppie nuus klink dit of Gauteng nou die Kaap wen, pfft

Die toue buite drankwinkels na die inperking gelig is, laat my wonder of die toue om die kerk ook sal vorm? Sal dominees kort vyf minute preke deur die dag hou en toue nie ophou nie? Nee wat. Soos ou Dalai Lama vertel het: Tye van groot vensters met min inhoud.

Ek raak so de vieste in. Die Weskaap is kamtig ‘n probleem area as dit by Covid-19 statistiek kom. Weet jy, ek reken die Weskaap is die ware refleksie van Corona infeksie in die land. Want hulle opsporing, aanmelding, toetsing en monitering van die pandemie werk. Dinge is in plek. Die res – ons wag maar om siek te word smaak dit my.

Hier in my omtes is ‘n groot landelike nedersetting. My Eli woon daar. Ek kan nie waag om haar in ‘n taxi te laat reis nie. So ons gaan haal haar om te kom werk en neem haar huistoe. Jinne, dit gaan lekker daar in haar buurt. Kinners speel sokker, dans en oumas sit op die stoepe en kuier. Maskerloos, argeloos. Eli leef in vrees, sy is MIV positief, ‘n teiken vir die Corona virus.

Ek selwe het twee jaar agtereenvolgend die vieslike varkerige griep gekry, rêrig my amper tot voor die krematoriumdeur gehoes en kortasem geleef vir goeie gedeeltes van die wintermaande. En my Rots is ‘n diabeet, en hy moet ekonomie pleeg, want hoe oorleef ons nou? Wil nie siek wees nie, so ons is hiper-versigtig.

Dan kry jy die Covid bokse in die lewe. Die mense wat vir jou versigtigheid lag. Kliënte wat maskerloos wil kom kaggels kyk, omies wat reken hulle ken jou, daarom hoef ons nie versigtig te wees nie. Die oom wat jou spot. Die oom wat mense na die plaas laat kom kyk. Die oom wat die elektrisiën en sy handlanger maskerloos in jou huis inbring. Ja, bokse. Wonder hoe hard hulle gaan kerm en ween as die virus by hulle voordeur gaan aanklop? Ek het wel die by die Lekkerwinkel laat opplak:

Ek was al van verlange ook self ‘n Covid boks. Roekeloos in die tyd. Reken liefiemense se kieme is familie. So het ‘n geskeurde verhouding gelap geraak oor die laaste bottel rooiwyn en kon my huis aan ‘n platgeslane seer mens hoop bring.

My kinnertjies van ander mammas en hule kroos het ‘n 48 uur asemskep op die plaas  kom kry. Lag, liefde en saamwees en boweal vir die woelwaters spasie, vars lug en avontuur. Selfsugtige boks – ek.

Dis maar ‘n tweesnydende swaard – mens se behoefte aan nabyheid van liefiemense en die verantwoordelikheid en behoefte om te help om die kurwe af te plat. Sny seer en alkante toe. Mens moet maar liefs stilbly en net hanteer waarvoor jy kan sien of hoe?

Ek weet net my kinnerkies ly swaar onder die inperking. Klein Boeta sal so ewe vir sy mamma vertel sy kop voel snaaks en sy hartjie ook. Hy kleur net met swart en pers potlode in. Gelukkig besluit die kleuterskool dat die kinders gou werkies by die skool kan kom afhaal. So word hulle skool toe geneem en elkeen kry kans om gemasker en ontsmet in hulle klassie by juffrou ‘n kiekie te neem en ook om ‘n aktiwiteit mandjie met werkblaaie en klei te ontvang. Die kleingoed straal en toe hulle agtermiddag by die huis om die skooltafel op die stoep speel en inkleur gebruik Boeta al die kleure kryt uitbundig. “My kop voel nie meer snaaks nie,” vertel hy met ‘m glimlag wat ore nie keer nie!

Ek lees iewers dat daar nie ‘n oplossing is om ons uit die impak van Covid-19 te kry nie. inentingsmiddele gaan tot twee jaar neem om ontwikkel te word. Gaan mense immuniteit opbou teen die siekte – ons weet nie. Hoe gaan die wêreld lyk aan die ander kant – ons weet nie. Hoe lank nog – ons weet nie.

Bab is vandeesweek dokter toe. Ons liewe dokter is self al oor die 65. Hy vertel die virus is nou met ons hier in die Poloniekwane streek.  Deel met haar hoe beangs hy self is, hoe medici sal moet triage toepas oor ventilators as die piek in die kurwe kom.  En dit gaan kom, verseker hy. ‘n 40-jarige gaan voor ‘n 60-jarige geholpe raak, dis net hoe dit is as daar te min toerusting is. Angswekkende wete.

Niks is gewaarborg, niks is seker. So ons masker, skrop hande, leef op ‘n afstand, rook nie meer nie, drink baie minder en leer dag vir dag aan beweeg. Net elke dag op ‘n slag, want ver vorentoe dink is ondenkbaar, want ons weet nie.

En daar gebeur die aaklige sterfte van George Floyd, in die wrede VSA. Skielik het Juju weer ‘n seepkis.  Sou graag vir hom wou insê. Dit sal so lui:

“Jinne my ou, waar was jou woede toe ses Suid-Afrikaners onder polisiegeweld ewigheid toe is? Waar is jou ontsteltenis oor mense nie kos kry nie? Nee, jy kan mos net witmense met jou mond bliksem. Sies man. Het jy al sop vir mense op jou stoof gekook, jou laaste rande vir iemand met niks gegee. Nee ou katta, hierdie is nuwe tye en onbekende weë – dis nie die narratief wat gedryf moet word nie. Hierdie is die tyd waar ons almal moet besef ons is mense, selle binnegoed, maar ons laat geskiedenis ons almal gevangene hou en so leef ons rassisrig, kwaterig, haterig. Ons moet liefs die geskiedenis laat staan, want dit gaan nie vir die gemaskerde toekoms wat op ons afkom, werk nie. Sela.”

“Hulle” voorspel dat ons alweer  boud-afvries koud gaan kry. “Hulle” vertel ook dat ons doppies weer, as gevolg van gesuiptes wat in trauma-eenhede beland, in eensame aanhouding saam met ons rokies geplaas gaan word. 

Die selfoon het nou net gepiep. Dis die Eskom-se-Push toepassing. Ja, lag maar en dink wat jy wil oor die naam. Vlak 2 beurtkrag is pas aangekondig.  Elisa is net dankbaar die wasgoed is klaar gewas en ons het vir die ou generatortjie net laas week petrol ingetap.

Dis vuurhoutjiedroog, koue winde van elders se sneeu maak dat die kaggel op Waterval se houtverbruik drasties toegeneem het.

Hierdie omtes van Poloniekwane mag miskien na bosveld lyk, maar dis teen ‘n opdraand Ysterberg langs gesetel, en derhalwe so flippen koud soos die beste hoëveld nedersetting kom wintertyd.

Bosveldhuise is mos gebou om koel in die somermaande te wees, en verander in yskaste wanneer die koue aanmeld.  Dis waarom die Lekkerwinkel dan nou ook oorleef in hierdie vreemde tye.

Die manne wat immer weg op konferensies en lekgotlas en gholf toernooie en knypies in die donker is, is skielik aan huis gekluister. Die vroutjies wat so kla oor koue was toe al die tyd nie neulend nie. Dis wragtig koud en nou soek almal in die glaskastele kaggels!

Miskien net miskien sal die Rots en Bab en ekke se ekonomie pleeg oorleef, en ons ons liefie Lekkerwinkel span ook. Sela. (Die bank moet maar net asemhaal. Juis vanmore vir een gesê mens moet maar geloof hê, en tot tien of honderd tel.  Wat ook al werk. Sela.)

Ek deel graag die mooi warmte wat ons in die grendeltyd in huise bring  met julle. My hart is bietjie bly, en miskien is julle saam met my bietjie bly.

Kla en mor en verskrik baat mens niks. Tel seëninge, die kleintjies ook. Lewe in die oomblik.  Bly warm en veilig.