laaik

En daar is die week alweer op sy oor. Ek is nie lus om die vreeslike jeremiade van SARS en hulle IT hoof, of die moord op die oorsese joernalis of die EFF se glashuis te bepraat nie. Ek het op ‘n paar stukkies nuus afgekom wat my hart lekker warm laat brand het.

Eerste op my lekkervurige hart is die aksie van die skoolhoof van Iketsetseng Secondary School in die Vrystaat. Meneer Sedi, diep bewus van die armoede wat baie leerders in die gesig staar het matriekafskeid in oordaad summier verbied en ‘n uniform matriekafskeid gereël. ‘n Markiestent is keurig versier, goeie kos is voorgesit. Die matrieks moes in skooluniform opdaag. Die meisiekinders kon hare en gesiggies opdollie. Wat ‘n puik idee. ‘n Ouer het haar dank uitgespreek, want gelde wat nie onnodig op die een geleentheid uitgegee is nie, kon weggesit word vir verdere studies.

Ek moet bely, hierdie vreeslike fanfare met matriekafskeid wat ek oral sien, steek my dwars in die krop. Die rok en pak moet ten duurste, die kar ook, en dan die foto-sessies. Dis wratig so erg soos ‘n troue hoor ek van menige slagoffer-ouer. Asof dit dié oomblik in ons kinders sal bly. Jinne, nee man. Wat te erg is, is te erg. Plaas dat uniform matriekdanse oral die neiging word, ou skoolklere kan aangepaas word, of wat van tweeling met ‘n minderbevoorregte skool en so iets besonders met ons laaste skooldae doen.

matric_dance.width-800

Nommer twee op my lys is die Ndlovu Youth Choir, van ‘n klein gemeenskap Moutse in Limpopo en nou wêreldreisigers, wat ‘n Ed Sheeran treffer hulle eie maak. My tone krul van lekkerte. Ek hoop die pers radiostasie kry reg om hulle aan die kunstenaar voor te stel of om hulle saam met hom op die verhoog te kry as hy aanstaande jaar deur die land toer. Luister hoe vrolik net soos ons land se mense kan.

Dan haal ek my hoed af vir Shaun Boshoff wat gesien het hoe Andile Beju en sy dogter Nosiph in hulle motor deur vloed water meegesleur word, en terwyl ander hulle siek selfoon videos neem pleks van betrokke raak, die water aangedurf het en hulle na veiligheid gebring het. Jy moes op die Sondagkoerant se voorblad gewees het, maar nepotisme en korrupsie het jou getroef. Jy verteenwoordig my Suid-Afrika. Ek bid die ander Andile wat so haat spu, het hierdie raak gelees en sy rasse retoriek spoel weg met vloedwaters.

smartselect_20181018-064420_mysubs+7953685245300801034..jpg

Dan maak Schalk Bezuidenhout sy buiging as ‘n singende Kanarie. Ek kan nie wag om die fliek te sien nie. Ek het destyds dit so ironies gevind dat die weermag van toet se koor na kanaries genoem is.

kanarie

Kanaries is in vroeë mynbou gebruik om veiligheid in skagte te toets. Vooruitgestuur in hulle hokkies. As daar te veel koolsuurgas was, sou die arme goedjies vrek en mense dan weet om nie in die spesifieke omgewing te werk nie. Die Kanaries van die weermag se sing het nie ons betyds by die sinnelose waarheid van ons land en die watte in ons ore en wol oor die oë, kon waarsku nie… ek dwaal af.

Ek laaik dat mense Schalk met sy lawwe haredos en maniertjies sommer etiketteer, en die pot met die man mis sit. Ek laaik hoe sy ouers hom vlerke gegee het om sy eie weg te baan. Ek hoop die fliek bring vir jou die erkenning as kunstenaar van formaat, jong man!

So, daar. Ek hoop die ou relasie oor laaiks laat jou ook beter voel oor al die ondinge om ons. Geseënde Sondag. Doen iets wat jou siel en tone van lekkerte laat krul.