Picture1

Jinne Bondels ek het nie besef dat jou omstreke so interessante geskiedenis het nie. Synde ‘n nooi Fourie sonder familiegeskiedenis verder as my oupa aan vaderskant, was ek kinnerlik opgewonde om die van teë te kom. Maar wag, ek wil nie my geslagsregister ondersoek nie.

Jou opmerking oor hoe die omgewing vir jou ook ongekaart is, het my snuffellees lus aangewakker. Julle dink ek lees net fiksie, verrassing. Geskiedenis is my ding.

Jy woon waar Homo Sapiens 2miljoen jaar gelede sy oorsprong gehad het. Die omgewing word as ‘n vrugbare streek beskrywe. Volop wild tot die trekkerige mense van die 1800’s hier deurgekom het. Navorsing toon dat dié omgewing van die Steentydperk aaneenlopend bewoon is. Daar was ook gedurig inkommers en vlugtendes.

Silkaats het na sy wegbreek van Tsjaka se Zoeloes hier staning kom kry. Sommer gou is hy baas van die plaas, die Magalies as troon en van die Vaal- en Limpoporiviere begrens. Mohale Mohale, na wie Magalies vernoem is, met so bietjie baie verbuiging, was die leier van die Po-stam. ‘n Gelukkige ou. Hy het twee keer ‘n gewisse dood gefnuik, danksy mense wat hom weggesteek het.

Die Griekwas, Koranas, Taung, Ndebeles, Tswana en Silkaats se leër het hier verwoed teen mekaar geveg. So erg, dat die Voortrekkers in 1837 die geweste half onbewoond vind. Al die vorige inwoners het mekaar in die vier windrigtings in verdryf.

In 1840 het ene Albertus Venter, sy vrou en dogter op De Kroon geboer. Hekpoort en Skeerpoort was gou bekend as boerdery gebied. Die Venters kry bure. Die Fouries. Op 13 June 1846 is die eerste inkommer wit babatjie gebore. ‘n Fourietjie. Die familie koop later die Venter plaas en die eerste permanente woonhuis die “Ou Werf,” word gebou.

Daar is klomp ander geskiedenis, maar ek volstaan hier. Google is jou vriendin vir verdere detail oor oorloë, treine en die Hartebeespoortdam en die stigting van die Nasionale Party….

Ten laaste enkele juweelties oor diere, mense, kulture en plante wat affêrenswaardig is en genoem moet word.
  • Die Ann van Dyk Cheetahsentrum of De Wildtsentrum bestaan sedert 1971 en is alombekend vir teelt en studie van die cheetah, koning cheetah, bruinhiëna, blouduiker, suni en wildehonde. Hulle het diere ammbassadeurs. Bekend is Byron en Yeats die cheetahs en Sagira die Egiptiese aasvoël.
  • Ukutula Lodge daar naby, is soortgelyk en ook ‘n red-en rehabilitasiesentrum.
  • Brits is die geboorteplek van die eerste gekloonde dier in afrika, ‘n koei. Ek onthou die storie, wens ek kon op haar naam kom.
  • Gepraat van spesies en talent. Kyk nou net wie is almal hier gebore. Bobby en Karlien van Jaarsveld, Burgerd Botha van Romanz, Christiaan Botha van NRG, het almal hier die eerste skreeu gegee. Verder het Corrie sanders en Jay- Jay Moll hier hulle boks en skopboks talente ontgin om later kampioene te word, asook sokkerster Katlego Mphela.
  • Die geskiedkundige toestroming van vele kulture vind inslag by die Lesedi kultuur sentrum wat in 1995 tot stand gebring is. Lesedi beteken lig in Tswana. Die kultuur en leefstyl van vyf volke word in die kleurvolle plek gehuisves, naamlik Pefi, Zoeloe, Xhosa, Basotho en Ndebele. Gesinne woon en leef hier en mens leer hulle gebruike en kultuur beter ken. Mens kan daar oornag, en smiddae is daar tradisionele danse. Sonsaktyd kan ‘n Afrikastyl by die Nyama Choma Restaurant geniet en dan is dit stories om die vuur by die boma en ‘n sopie ‘mamba juice’, ‘n Lesedi drankie. Scrapy, is hierdie ‘n Afrika weergawe van jou energiedrankie? Ons moet ‘n draai gaan maak en voorraad aankoop. Of wat praat ek, Hester Sintester
  • Die Margaret Roberts kruisentrum is die resultaat van die vrou se passie vir kruie en plante. Hier kan jy jou verlustig in die verskillende kruietuine , van kombuis, kosmeties, medisinaal tot aroma. Jy kan rate en tinkture koop, tee drink, saailinge koop. Daar is dertig varieteite basil, oreganum, laventel en roosmaryn. Sjoe. Al die sjeffie Towerinne sal hier malgaan. Die kapel en die ont-stress sand tuin met ‘n replik van die labarint by die Chartres katedraal in Frankryk. (Frannie, dit klink soos ‘n lekker romantiese dwalenkie vir jou en Silver) Margaret was ‘n fisioterapeut en het as kruiekundige meer as 40 boeke publiseer. Haar lewensslagspreuk was “educate and inspire.” Die formidabele vrou is verlede jaar oorlede. Sy laat ‘n ryke erfenis agter.
So Bondels, jou lieflike shofarplaas is midde-in ‘n ryke en interessante streek. Ek het my omtrent verloor in die oplees. Gelukkig slaap ek min en het nie nodig gehad om al die heerlike boeresports en pret mis te loop nie.
NS. O, Toorts, jammer, ek kon nie help om jou by die longdrop met die spinnekop skrik te maak nie. Jy het joubstembande goeie oefening gegee. My grootste kleintyd dragsgslae in die koshuis was juis oor ‘n bobbejaanspinnekop in iemand se koekblik.
Aarde, ek onthou hoe die ingat meisiekind alewig ons koekies wou proe as ons smiddae huisversnaperinge uit die bêrekas kon gaan haal. Ons het een keer in vier tot ses weke huistoe kon gaan, sy elke flippen Vrydag. Het sy met ons gedeel? O, nee. So ek en ‘n ewe brawe maat het ‘n bobbejaanspinnekop in haar leë koekblik gesit en dit by die portaal gaan neersit en haar laat roep, want daar is ‘n verrassing afgelewer. Sy het die blik gegryp en oopgemaak. Toe slaat sy flou neer. Ons boude het gebrand, maar dit was oukei. Ek was maar stout van kleintyd.
Die virtuele toer van die towerinne kan op hierdie skakel gevolg word: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928