39140663_1778389135589617_823693964807766016_oFoto: Louis Zikmann (11 Augustus 2018)

‘n Luidsprekerstem ruk my Saterdagoggend uit ‘n diep-diep slaap. Vervaard vlieg ek  uit die bed. My Rots en Bab bly onverstoord onder hope komberse. Dit was bitter koud na die vorige dag se heeldag reën en sneeu op die hoogliggende berge rondom Graaff-Reinet.

Ons huisie is reg langs die Botanies – die sport hart van Graaff-Reinet. Hierdie juiste naweek is dit die groot interskole sportdag. Union HIgh versus Volkskool – rugby, netbal, hokkie en reünies. Die Angloboereoorlog word van voor op die sportveld besleg.

Half in die war van die vinnig wakkerskrik, is al wat ek raaksien, modderspore op die vloerteëls. Voor jy kan sê mymalantiesesiekhond is die skroplappe, besem en stofsuier uit die kas.

Die slapendes in my huis mor, want die woonstel is nie groot nie. Skoonmaak is tjoef-tjaf, maar die geraas ook oral hoorbaar.

“Ma, jy lyk nes Marlena van ‘Days of our lives’ toe die demoon haar getakel het,” sal my kind so half onder die komberse tjirp. Sy en haar pa skater oor die skerp grappie en my skoonmaak-manie. Ek kan maar nie wen nie, en lag maar saam.

Die Union outjies trap vir Volkskool. Die gepor en gejil van skoliere en ouers kompeteer oor die lug heen met ‘Footloose’ en ‘Spirit in the Sky.’ Die musiek laat die venters tril. Vir die oomblik draagbaar.

So teen 11h00 het ons genoeg gehad, en besluit om uit te wyk op die Middelburgpad. Daar is die oulikste padstal met sakke vol heuningbostee en die lekkerste biltong. ‘n Mens moet Naudesnek en Lootsbergpas uit om daar te kom. Ons word buite die dorp gegroet met spierwit gesneeude vir-ewig berge. Wat ‘n prentjie!

20180811_135932

By Jachtpoort Padstal aangekom storm ek op die mandjie met die sakkies heunigbostee. Die vriendelike vrou agter die toonbank lag te lekker. Rots moet net keer of ek koop al die voorraad. “Onthou ons gaan per vliegtuig huistoe,”maan hy.

teekoppie

Ken jy heuningbostee? Dis die lekkerste lekker – rooibos kan gaan slaap. Die tee trek lekker sterk en het so pienkerige kleur. Die smaak – ek reken dis engeltjiepiepie hemels. Uit drie opgehoopte eetlepels en ‘n bekwame stoofketeltjie, kan jy  heeldag water bykook en vanaand nog ‘n lekker sterk koppie tee drink. Daar is mense wat reken dit ruik soos gestoofde perskes, ander weer moskonfyt.

Ek weet net ‘n geluksaligheid oorspoel my waaneer die tee kook op die stoof, in my koppie gegooi word en ek behaaglik terugsit en daai eerste slukkie vat. ‘n Oomblik waar jy die veld se goedheid, die sonskyn proe en ervaar.

Heuningbostee word ook heuningtee, boertee, spelde- of naaldetee, blommetjiestee, vleitee of bergtee genoem. My Elisa sê sy dink Modimo, die Here, laat ons Sy liefde en goedheid voel met die tee uit die veld, ons noem die die hemelse tee.

Heuningbostee word in die veld gevind van Piketberg tot Port Elizabeth en word nou ook kommersieël verbou. Wikipedia vertel “die blare, blomme en stingels word op ‘n hoop gegooi en toegelaat om te fermenteer of “sweet”. Die blare word donker en rooierig. Nadat die vergistingsproses ver genoeg gevorder het, word die tee oopgehark om droog te word. As dit daarna in water gekook word, gee dit ‘n kruieagtige tee.”

Heuningbostee bevat min of amper geen tannine of kafeïene nie. Dis ‘n antioksidant, is ryk aan minerale en help vir menoupouse gloede, is ‘n tonikum teen verkoue, griep, artiritus, klaar infeksies van die slymvlies van die neus, ore, en maag op. Dit verbeter die eetlus, verlaag jou bloeddruk, cholesterolvlakke,help met ‘n elle-langelys van skete en kwale.

Hoeveel waar is die weet ek nie, ek weet net dat jy baie lekkerte ervaar as jy die hemelse tee proe-proe teugie vir teugie drink. Ek is dankbaar dat onse voorsate gesukkel het om koffie en tee in die hande te kry en toe na alternatiewe in die veld gesoek het en gevind het! Anders was ons sans heuningbos- en rooibostee!

Ons is via Nieu-Bethesda. Dis grafstil en baie eensaam – ek dink die 1570 inwoners het vir die koue weggekruip of hulle was agter my Stokkieshuis by die Botanies aan die skreeu by die Interskole!

Nou hierdie moet sensitiewe lesers en gemoedere maar oorslaan.

Ons kom terug by Stokkies, en ongeskiktes het ons toeparkeer, ons kan nie eens op ons huis se staning parkeer nie! Dis nou maar so as daar iets by Botanies aan die gang is…gelukkig net so vier of so kere dat dit so gaan.

Maar dis nie my byltjie te kap nie. Ek het ‘n broetjie dood aan die openbare pisters. Daai wat nie omgee waar, hoe en wanneer hulle water afslaan nie. Glo my, die heelal weet hoe ek dit haat, en ek sal immer die een wees wat die straal sien loop. Blegh!

So sit ons op die agterstoep en luister na die wedstryd wat luidkeels ondersteun word. So mannetjie wat al ‘n effe systappie het, stap na die groot palm wat soldaat op ons erf se hoek aan Botanies se kant.

Daar is so gapingtjie waar hy reken hy uit die publiek se oog agter die boom, kan afrits en uithaal om verligting te kry. Hy wis nie ons sit daar nie, en ons kug maar om hom te waarsku. Hy het hom boeglam geskrik en baie regop en vinnig die hasepad gekies.

Kort daarna, kondig een vir die drinkende skoliere in die speelparkie net so agter ons huis aan dat hy eers moet pis, dan sa hy kom gesels. Hy stap ook dapper na die palm, ek sê kliphard;”A,nee,a.”  Ons het gelê van die lag, julle het nog nie sulke systappie treë en skaamte gesien nie.

Rerig – ek weet nie waar mannetjiesmense aan die openbare water afslanery kom nie, dis vir my ‘n onding. Om die kroon te span, sit ons in die sitkamer na die wedstryd om is, en luister hoe die voertuie oral om ons wegtrek. Daar is ‘n harde singery by die sitkamervenster. Ek waag om uit te kyk, en ‘n outjie met ‘n rooi baadjie staan wragtig teen ons motorhuismuur en pie! Die oë smeek en verleë is hy beslis. Hy stotter hoe jammer hy is. “Tannie, ek kon nie meer nie.”  Die mense op die sypaadjie het geskreeu van die lag, ek was verslae.

Genoeg daarvan.

Related image

Ons eet Sondag by Pioneers – die lekkerste kos. Rots vaar ‘n bord afval in en Bab eb ekke proe aan Volstruis en Springbok carpaccio! Dis ‘n heerlike, stadige middagete en ons kuier amper onder ons middagslapie uit!

Maandagoggend moet ons vertrek – dis swaar, die kar baie stil.

20180813_053842

Ons siele word gesalf met die wonderlikste nuwe dag, ons kry ons glimlag terug. Baai tot anderdag my liewe Camdeboo!