Ons gesin, soos sekerlik baie ander, is geruk deur die tragedie wat vroeër vandeesweek in Ennerdale afgespeel het.
Die 51-jarige Sibusiso Tshabalala het buite ‘n skool vir sy 16-jarige seun, Luyanda gewag. Dié het die betrokke aand ekstra klasse bygewoon.
Die pa, ‘n veiligheidsbeampte, het in die motor buite die skool gewag en aan die slaap geraak. Hy het wakker geskrik toe hy geluide hoor en iemand aan die deure peuter. Beangs dat hy gekaap gaan word, het hy ‘n skoot afgevuur.
“Pappa dis ek,” die laaste woorde wat sy seun ooit weer sou uiter. Die woorde en die nagmerrie sal sekerlik vir die res van Sibusiso se lewe in sy geheue ingekerf wees.
Die foto van die snikkende ouerpaar in die hof in Lenasia sal my lank bybly. Die man is op sy eie verantwoordelikhied vrygelaat. Dit is ‘n skrale troos.
Bab gesels vanoggend met ons oor die voorval, wat ook ‘n diep indruk op haar jong gemoed gemaak het. “Mamma, dis hierdie land se wetteloosheid wat daardie sneller getrek het.”
‘n Vuisboekmaat beaam my kind se gevoel. Adele skrywe dat misdaad ons land letterlik en figuurlik aan die uitmoor is. : “This makes me so angry!! Nobody wants to accept that crime is killing this country literally and figuratively. People just keep ignoring stop streets and even policemen do it or tolerate such behaviour from others. You are just as guilty as the armed CIT robbers and the reason why a man is BROKEN about killing his son. LAWLESSNESS!! And to top it all, we are all so super alert and scared to put a foot out of our homes, that this thing will happen more and more. ENOUGH IS ENOUGH!!”
Ons gil baie na sulke gebeure. Ons gil:
- Dat ons nie meer vry is nie.
- Dat ons bang binne en buite ons huise is.
- Dat ons gewapen buite ons kind se skool wag, en dat jy gedurig bewus is dat jy ‘n sagte teiken is.
- Dat kapers en rowers het geen agting vir menselewens nie.
- Dat dit wat jy in die sweet van jou aanskyn verdien, met aasvoël-oë begeer en toegeëien word, omdat iemand nie werk het nie, agtergeblewe is…
- Blah, blah, blah!
Nee. Dis nie alles waar nie. Ons het saam met misdadigers die sneller van Sibusiso se geweer getrek. Elke keer as jy die wet oortree, word Luyanda geskiet. Elke keer as hospitaalpersoneel staak en hospitale verwoes, elke keer as taxi bestuurders oor rooi ligte jaag, en sommer van binne bane afdraai, elke keer as jy die verkeersbeampte se omkoop versoek aan voldoen. Daar gaan elke keer koeëls deur Luyanda wanneer die wet oortree word. Want sien Luyanda is Suid-Afrika. Gyselaar van Mad Max wetteloosheid. Wie sal ons bevry?
Sibusiso, jy ken my nie. Ek wil net sê ek is jammer dat ons nie een meer veilig is nie. Ek het ook nie die antwoord of oplossing nie. Mag jy en jou vrou groot dosisse genade ontvang om hierdie seer te deurleef. Mag Luyanda se dood vir iets staan. Ek bid vir julle en ons almal.
Uit my hart uit wil ek amen sê op hierdie skrywe van jou.
LikeLiked by 2 people
Jy skryf so verskriklik mooi. Ja, ek huil ook in my hart vir daardie ouerpaar, vir hulle hele gesin en familie.
LikeLiked by 3 people
Dis vir my een van die verskriklikste dinge wat nog hierdie jaar gebeur het. My hart bloei vir daardie man en soos jy tereg sê, dis die skuld van wetteloosheid.
LikeLiked by 2 people
Dit is hartverskeurend.
LikeLike
Ek kry daardie arme man en ook sy gesin en familie regtig baie jammer. Ek ken iemand wat so 35 jaar gelede sy vrou op dieselfde wyse doodgeskiet het. Gelukkig is hy nie vervolg nie.
LikeLiked by 2 people
Sulke ongelukke is tragies, ‘n skoolmaat van my het sy broer per ongeluk geskiet en ‘n vriend van my ouers sy seun wat uit die huis gegaan het en laatnag deur ‘n venster probeer terugklim het. Mense is gebreek na so ervaring. Sibusiso se geval is vir my ons almal in hierdie seer land van ons.
LikeLiked by 1 person
Twee van my ander vriende is ook si dood – aldrie gevalle op net een dorp.
LikeLiked by 1 person
So hartseer
LikeLiked by 1 person