IMG-20180505-WA0047.jpg

Wiele 500, Grincourt, The Grind, Koffie Zero, Men-o-pause Mafia, Meelbestrooide Sjefs, Romeine in togas, Martelize Brink, Jak de Priester en sy hoenderboer klavier- begeleier, ‘n horde elegant geklede vroue, gegeurde jenewer, lekker kos en heerlike roomys.

Hiedie ry woorde met ek snoer om te vertel van ‘n heerlike herfsoggend ‘n baie goeie saak terwille. Die Wiele 500 projek het gister hulle sesde Dames Tee by Grincourt, buite Polokwane aangebied.

Onder ‘n Reuse markiestent se dak, tussen bosvelddoringbone op ‘n grastapyt het hordes vriendinne om keurig gedekte tafels saamgetrek. Soos alle ander jare is daar ‘n tema. Vanjaar Suurlemoene en Olywe, eg Italiaans.

Die spyskaart reflekteer die tema van geurige filet, slaai, tuisgebakte rolletjies, geurige hoender. Die dekor op elke tafel ‘n houtkratjie met suurlemoene, loof en Sally Williams Nougat. Want saam met die lewe se suur, ook iets soet. Rina en Andre van Grincourt en hulle span, is ‘n skat hier in ons Polokwane. Lieflike plek, oulike mense wat hulle passie uitleef en hulle liefhê wys in elke detail.

Die sameroeper Michelle Engelbrecht,vertel dat mense graag sê:”If life hands you lemons, make lemonade.” Sy reken dat die mense wat baat by die Wiele 500, die wat deur siekte of ongeluk verlam gelaat is, haar anders geleer het:”If life hands you lemons, throw it back and say: ” I don’t want this, and if I find the manager, I”ll burn his house down.” Ons gee luide applous.

Die lieflike, talentvolle Martelize Brink – joernalis, radio omroeper, sjef en resepteboekskrywer, en Mathys Roets, supersanger, is van die gesigte van Wiele 500. Hulle maak seker rolstoelgebonde mense van alle ouderdomme ‘n stoel na behoefte ontvang. Gister is ‘n jong man toegerus met ‘n wedloopfiets.

Ek sit met ‘n knop in my keel toe Martelize sê dat ons so maklik kla. Sy haat haar sterk bo arms. Die jong vrou wat as kind net een oggend wakker geword het en nooit weer kon loop nie. Ek bly oortuig dat hierdie mense, groter lewe as ons wat regop rondloop. Volronde groot lewens.

Dis hoekom ek hierdie projek saam met vriendinne ondersteun. Elke jaar. Die projek bied ons geleentheid om ‘n oggend saam met die mense wat baat by die projek te spandeer. Ons sien en beleef wat ons skenking en etekaartjie vermag. Ons word bedank en kan elke keer verryk en dankbaar daar weggaan.

Maar ons gaan traag weg, want dis lekker onder daardie markiestent. Martelize leer ons pasta maak, ons drink Turkish Delight jenewer, lag vir mekaar se kostuums, sing saam net Jak de Priester en sy hoenderboer klavierspeler.

Kyk hier:

https://mobile.twitter.com/MartelizeBrink/status/992775304740470786

Wat sal ‘n mens sê van hom. ‘n Talentvolle sanger en woordkunstenaar. Ons jil vir Sally Williams, hy lag en vermaak ons met Reenboog oor Suid-Afrika, en ‘n lied wat menige pa vir sy dogter se vryer sal wil speel. ‘n Veelsydige, talentvolle, spontane mens

Ag, wat ‘n lieflike onthou was dit vir my en nege liefiemense. Ons bende was daar as die Men-O-Pause Mafia. Gestreep en met swart pette, rooi serpe, swart oë en bloedrooi lipstiek en snorre. Neffens ons tafel was die oggend se besgekleede tafel. Tien sjefs, met meelbestrooide gesigte en al. Bravo!

Daar is baie gelag, en geskerts, maar elke vrou het elke keer as ons met mekaar oogkontak gehad het, een groot porsie medemenslike omgee gestraal. Ons was hier saam om ‘n verskil te maak. Jy kon dit voel. Die liefde en omgee by elke tafel van tien.

NS. Het koffie zero by The Grinder bestel. Dis my weergawe van swart en bitter koffie. Die barista met sy lang hare en snor lag. “Dis nou oorspronklik.” So flirterig terg middeljarige ek: “Mens is nooit te oud om iets nuut te leer nie.” Klink amper hygromanerig. Ek wens so in my enigheid die Towerinne van blogland kon saam met my om die tafel kom sit. Miskien volgende keer.