Nee kyk, my vredige en sielsverrykende naweek het sopas soos ‘n gebarste ballon die niet in verskiet. Ek is by flippin, flippit, f.. vies verby.

Vertel asseblief vir my hoe jy enigsins dink om ‘n foto van twee weerlose, slapende kinders in ‘n winkeltrollie te neem en dan so ewe op Vuisboek vir ander mense te vra om iets omtrent die saak te doen. Flippit man, praat met die ma of pa, bied heenkome, kry hulle self by hulp uit. Wees ‘n doener, raak betrokke. Ek het nou vir 10 minute net gesit en my probeer indink hoe hierdie toneel die nemer genoop het om dit te neem en te Vuisboek.

Geen inagneming van beskerming van minderjariges nie. Waar is die volwassene of wie ookal wat die twee slapende kinders in warm klere en onder ‘n kombers in die trollie toegeknus het. Wat is hulle omstandighede?

Het jy wat die foto geneem het en “help, help” op Vuisboek skreeu, vir hulle kos gekoop, ‘n warm slaapplek aangebied en more maatskaplike- of kerkhulp gaan soek. Het jy tasbaar hulle liefde en deernis bewys? Jou foto sê meer van jou leë bestaan as wat jy besef. O, en die massa raad wat in die kommentare volg… nie een mens wat sê ek het hulle opgespoor en hulle is veilig by my nie. Nee, lyste nommers van ander wat moontlik sal kan help. Pffft.

Dit is presies hoekom die wêreld lyk soos sy lyk. Ons verwag iemand anders om die doener te wees. Ons sal menings lug, gil en skree, maar vuil boude afvee, snot en trane afwas, sere verbind? O, nee. Ag ek is sommer net hartseer en kwaad vir ons oppervlakkige samelewing.

Laaik op Vuisboek vir enige noodsituasie red geen kind of renoster van ‘n vreeslike lot nie. Dis vir my ‘n regte skuiwergat maneuver om jouself goed te laat lyk in die massa trop trolle wat hulle lewens met “like, wow, sad, love, angry” bedryf. As jy klaar jou knoppie gedruk het, rol jou flippen moue op en leef dit tasbaar uit.

Jesus het nie verniet kom wys hoe nie.