kgopela

VERB

kgopela

Klomp goete rus chronies in gal op die krop van my maag.

Die Guptas se Oakbay kry ‘n BTW betaling, en my besigheid, en blykbaar duisende ander ook, se terugbetalings is reeds maande in een of ander proses vas. As ek mooi daaroor nadink, dink ek so: as 80 kleinsake in my stad alleen ook elk vir R200 000 se BTW terugbetaling wag, is dit ‘n moewiese klomp geld in Jan Taks se koffers – of agbare Minister Gigaba se finansies departement. Is dit hoe ons Zuptaville befonds, met ons mense se bloedgeld?

Die wurggreep verslap nie, ons volgende BTW eis (niks skelm nie – ons verkoop produkte aan boere wie nie BTW betaal nie, so ons mag BTW op aankope eis), is reeds ingedien – die som geld wat ons wettig toekom, groei sonder rente. Gelukkig, ek hoop inderdaad, is P net na O vir Oakbay, miskien is ons volgende in die ry….

Die ander ding wat my gal wil laat braak is al die ondinge om ons. Taxi-bestuurders wat maak soos hulle wil. Soos ‘n verantwoordelike inwoner van ons stat (nie spelfout nie), het ek persoonlik die verkeershoof geskakel – hy het my  heuning om die mond gesmeer. Ek het goed gevoel na die gesprek, en smiddae in die verkeer by my mees-gehate robot, hoopvol uitgekyk vir die verkeersmanne wat die verdomde taxis wat uit twee linkerbane regs afdraai, sou kortvat en beboet. Daar waar net een regs-draai baan is. Flippen liegbek. Daar het niks gebeur nie. Skaam jou, Meneer Verkeershoof.

Ek is ook pas verby ek-wil-nie-meer-hoor van plaasaanvalle, moorde, ontvoerings, verkragtings en onheil. Ek-druk-my-ore-nou-toe en gaan hard probeer om nie meer ontsteld te raak nie. Dis of die duiwel los is.  Hannah en dusende ander se onskuldige lewens verwoes. Mag die hel die ondiere haal.

Geen lewe of  eiendom word gerespekteer nie! Is dit wat armoede doen? Nee, dit is wat kgopela (gee in Sepedi) en leuens doen. “Ek het die reg om te kry, want ek is soveel ontneem” is die naam van die siekte waaraan ons politici ly. Ook die siekte wat soos ‘n virus versprei, onder diegene wat deur politiese besluite in armoede en woede gehou word.

Ek is moeg en vies vir leuens om politieke agendas te pas. Die leun dat alle witmense grondeienaars is – lees ons besit almal ‘n plaas. Dis die vieslikste urban legend. Die regering besit meer grond as alle grondeienaars saam, en is nie bereid om dit te erken nie. Verkoop politiese gelaaide leuns om gewone swart en wit Suid-Afrikaners mekaar met agterdog te laat bejeën.

Intussen weet niemand of wil niemand weet dat ‘n klein besigheid met 7 personeellede  eintlik aan 100 ander se honger mae en behoeftes voldoen. Minimumloon word oorskry, klere word gegee, middagetes word oorsien, busgeld en oortyd is ekstras. Die besigheid moet BTW betaal, moet LBS betaal, moet ongevalleversekering betaal, moet WVF betaal, moet persoonlike belasting betaal. Geen krediet vir opheffing en bo-gemiddelde versorging nie!

Jou lot is Kgopela en betaal, betaal.

Ag pffft, ja, nes jy daar dink, “niks nuuts gegriffel, lekkervurig”! Maar dankie – dis nou uit en my bloeddruk bietjie laer.

Ek gaan maar op my knieë in my armoedige geloof en moedeloosheid, kgopela vir ons almal in hierdie deurmekaar, seer land. En ek sal ek nie ophou om ‘n verskil in my onmiddelike omgewing te maak nie, al raak ek lam.

kgopela2